Meerderheid Katalane stem vir onafhanklikheidspartye

Deel op

BARCELONA, Spanje – Tydens streeksverkiesings in Katalonië het die meerderheid kiesers vir partye gestem wat onafhanklikheid van Spanje voorstaan. Die Katalaanse streeksparlement beskik nou oor ‘n meerderheid van meer as 68 lede uit 135 wat van Spanje wil afstig om ‘n eie staat te vorm.

Net soos Afrikaners, beskik Katalane oor hul eie taal en kultuur wat jare lank onderdruk is, veral tydens die bewind van generaal Franco toe hy die hele land wou verspaans, soortgelyk aan Suid-Afrika wat gereeld in die verlede en hede verengels is. Die groep van “Saam vir die ja” soos die partye ten gunste van onafhanklikheid hulself noem, het 62 setels uit die 135 verower. As die 10 setels van die radikale sesessionistiese party “Volkseenheidskandidatuur” daarby gevoeg word, beskik die onafhanklikheidsgesindes oor 72 setels, meer as genoeg om ‘n stem ten gunste van Katalaanse onafhanklikwording deur te voer. Hulle beplan om binne agtien maande, in 2017, onafhanklik te word.

Die sentrale regering in Madrid is gekant daarteen dat Katalonië afstig, want dié streek verteenwoordig 20% van Spanje se BNP en is meer welvarend en ontwikkel as die res van die land, ‘n bietjie soos Gauteng en die Wes-Kaap waar Afrikaners woon ook meer ontwikkel as die res van Suid-Afrika is. Die sentrale regering wil dus nie die belastings en ekonomiese lewenskragtigheid van Katalonië verloor nie, veral noudat werkloosheid in Spanje tot 22% gestyg het.

Hoewel Katalaans ‘n minderheidstaal is teenoor Kastiliaans, die Spaanse wêreldtaal, voel jong Katalane vurig patrioties oor hul kultuur en erfenis en is Katalaans oral in die onderwys en in die openbare lewe in Katalonië ingevoer, weereens soortgelyk aan dít wat met Afrikaans in die twintigste eeu gebeur het.

Die leier van die onafhanklikheidsbeweging, Artur Mas, het voor ‘n jubelende skare verklaar dat hulle gewen het, terwyl uitroepe van “onafhanklikheid!” oral weerklink het.

“As demokrate was ons bereid om ‘n neerlaag te aanvaar. Nou vra ons egter dat hulle die oorwinning vir Katalonië en die ‘ja-stem’ aanvaar,” sê Mas. “Ons het baie werk voor, ons gaan u nie teleurstel nie, ons weet dat ons oor die demokratiese mandaat beskik. Ons het gewen en dit gee ons enorme krag om dié projek vorentoe te dryf.”

Daar heers egter effense verskille binne die onafhanklikheidsbeweging want die Volkseenheidskandidatuur wil sommer dadelik onafhanklikheid uitroep en nie nog 18 maande wag nie. “Saam vir die ja” het ‘n “padkaart na onafhanklikheid” ter tafel gelê wat binne anderhalf jaar tot ‘n onafhanklike Katalonië sal lei, terwyl die Volkseenheidskandituur nie so lank kan wag nie. Die leier van dié party, David Fernandez, het egter verklaar dat hy niks sal doen “om die onafhanklikheidsproses te kelder nie” en sal daarom ondanks verskille met “Saam vir die ja” saamwerk.

Intussen het die Spaanse regering in Madrid laat weet dat hy “alle wettige middele sal gebruik om Katalaanse onafhanklikheid te verhoed”.

Iemand wat vir die “Saam vir die ja”-kamp gestem het, mnr. Jordi Perez, ‘n 50-jarige staatsamptenaar, sê hy voel sterk dat Spanje deur die geskiedenis die Katalaanse kultuur en die taal van die streek benadeel het.

“Vandat ek jonk was, wou ek onafhanklikheid hê,” sê Perez toe hy die stemlokaal in Barcelona verlaat. “Drie eeue lank het hulle ons van ons kultuur beroof. Ons het die oomblik bereik dat die Katalaanse volk sê: ‘Genoeg is genoeg.'”

 

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.