Leon Lemmer: Max du Preez en die HAT

Deel op

Max du Preez moet elke week ‘n hele aantal skrywes vir publikasie lewer om sy lewenstandaard te handhaaf. Dit is nie altyd maklik om ‘n onderwerp te kry wat nuwerig lyk nie. Onlangs het hy byvoorbeeld gevra: “Wat is jóú vooroordele?” (Die Burger, 19 deser, p 11). Du Preez vertel van ‘n swart “jappie” wat daardie vraag beantwoord het deur te sê: “Ek haat wit mense.” ‘n Manier om hierdie soort uitlating te evalueer, is om dit rasgewys om te keer. “Dit het by my opgekom dat geen wit jappie ooit in só ‘n situasie grappenderwys sou sê ‘Ek haat swart mense’ nie.”

Wat Du Preez hiermee erken, is dat daar dubbele standaarde bestaan; dus dat wittes en swartes verskillend geëvalueer word; dat wittes polities korrek aan strenger vereistes as swartes onderwerp word. Hierteen opper Du Preez geen beswaar nie. Hy hou daarvan om nuusstories bymekaar te maak en hulle dan ter bevordering van sy ideologiese agenda te gebruik/misbruik wanneer die geleentheid hom voordoen. Op ‘n knap manier ignoreer hy gebeure wat sy agenda nie pas nie.

Onlangs was daar onrus by die Elsenburg-landboukollege. Daar is soos volg hieroor berig: “Tydens die betogings het betogers [dus nie noodwendig studente nie] en studente slaags geraak. In twee afsonderlike voorvalle het betogers studente met sambokke bygedam en ‘n betoger en ‘n student het handgemeen geraak. Die betogers het ook alle klasse en toetse ontwrig” (Die Burger, 5 deser, p 1). Die betogers wat studente met sambokke aangerand, gebaklei en klasse ontwrig het, is swart. Die studente wat aan die ontvangkant was, is wit. Teenstrydig met gesonde joernalistieke beginsels lig Die Burger sy lesers doelbewus nie oor die kleur van die betrokkenes in nie, want daardie koerant dien met oorgawe die afgod van politieke korrektheid. As ‘n witte fouteer, word sy kleur gespesifiseer. As ‘n swarte fouteer, word sy kleur verswyg. Iemand soos Nico Koopman sal dit “regstellende geregtigheid” noem.

Kom ons pas die omkeringsbeginsel (genoem in die eerste paragraaf hier bo) toe op die sambokgebeure by Elsenburg. Wat sou die reaksie gewees het as wit studente (of enige wittes) swartes met sambokke toegetakel het? ‘n Koor van verontwaardiging sou teen die rassistiese wittes opgeklink het. Die swartes sou as onskuldige, ongewapende slagoffers voorgestel gewees het. Maar omdat wittes die slagoffers was, is geen ruimte vir verontwaardiging of veroordeling in bv Die Burger toegelaat nie. Daardie reggestelde, verjuniorde joernalistekorps weet ook nie van die rol wat sambokke in die “bevrydingstryd” gespeel het nie, bv as strafuitdelingsinstrument by boendoe-howe. Lees in hierdie verband bv Anthea Jeffery se People’s War (Johannesburg, Jonathan Ball, 2009, 634p; Amazon Kindle $7,03).

Ek herinner my ‘n insident kort nadat ons ons veelgeroemde “vryheid” in die nuwe Suid-Afrika verwerf het. Swart leerlinge het ‘n tradisioneel blanke skool in die Waterberg (Naboomspruit?) verswelg. Die blanke ouers was om verstaanbare redes bekommerd oor die veiligheid van hulle kinders. Sommige ouers het met sambokke by die skool opgedaag. Nie net ouers nie, maar ook ‘n aantal van die deurlugtige menseregtekommissarisse het (waarskynlik in ‘n luukse motor) daar aangekom, onder andere Leon Wessels. Maar die blanke ouers kon vergeet van enige simpatie van die kant van Wessels of die swart kommissarisse af. In Beeld is ‘n groot bohaai opgeskop oor die blankes met sambokke, maar die sambokke is nie eens gebruik nie. Die verskil in reaksie tussen hierdie gebeurtenis en dié op Elsenburg behoort duidelik te wees.

Du Preez skryf van die swart “jappie” wat gesê het: “Ek haat wit mense.” Dit is presies die gesindheid wat die ANC die land ingedra het, al word daar deesdae van die blankes verwag om hartlik met “nasiebou” saam te werk. [In die VSA word rassebetrekkinge beduiwel omdat swartes van kleins af in hulle ouerhuise, skole en kerke opgevoed word om die blankes te haat. Lees gerus Colin Flaherty se boek, Don’t make the black kids angry (2015, 526p; Amazon Kindle $10,25).] Jeffery vertel in People’s War hoe die ANC by die kommunistiese Korea gaan kersopsteek het met die oog op die ANC se gewelddadige aanslag teen die blanke bewind in Suid-Afrika. Deel van die strategie was dat die vyand, die wit mense, gehaat moet word. Daar was nooit ‘n soortgelyke strategie aan blanke kant teen swartes nie. Die hoogheilige Desmond Tutu het bygedra tot die haatveldtog en het bv gesê: “It will be extremely difficult to love the white man” (John Allen, Rabble-rouser for peace, London: Rider, 2006, p 101). Tutu het van blankes verwag om by die WVK en elders tot vervelens toe verskoning te vra, maar hy het deurgaans geweier om self vir enige van sy talle vergrype verskoning te vra. Weer eens dubbele standaarde.

Du Preez se swart “jappie” het gesê “Ek haat wit mense” en daarmee weggekom, sonder enige vermaning van die etiese hoëpriester Du Preez. Die Afrikaanse skryfster Annelie Botes het in ‘n onderhoud met Rapport (21.11.2010) gesê sy hou nie van swart mense nie. Daarna het sy haar stelling gekwalifiseer deur by te voeg dat dit nie alle swartes geld nie. Sy het nie gesê sy haat hulle nie en swartes ook geen skade aangedoen nie. Maar sy is wit en jy moet sê wat die swartes en die polities korrektes wil hoor. Die hel het as’t ware op haar neergedaal. Naas ‘n berig in die hoofkoerant is vyf reaksieberigte en drie briewe, asook ‘n dosyn webmenings, in ‘n enkele uitgawe van Rapport-Weekliks ter verdoeming van Botes gepubliseer, aangevul met vier webartikels. Weens die koerantveroorsaakte storm is haar rubrieke beëindig en ‘n literêre prys teruggetrek. Sy was verplig om ‘n ander uitgewer vir haar boeke te vind (Praag 18.10.2012). Lees gerus haar perspektief op die gebeure in haar boek Swart op wit (Tygervallei: Naledi, 2013, 303p).

Toe Du Preez besluit het om oor vooroordele te skryf, het hy die woord in ‘n woordeboek nageslaan. Die Verklarende “Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal [HAT] verduidelik dat ‘n vooroordeel ‘n ‘onredelike voorkeur of afkeer in iets’ is.” Du Preez se “aanhaling” het vir my verdag gelyk. “Voorkeur in” en afkeer in” is nie korrekte Afrikaans nie. Dit moet “voorkeur vir” en “afkeer van” wees. PJ Taljaard en WK Smit se Voorsetselwoordeboek (Pretoria: DeJager-HAUM, 1986) bevestig dit. Ek het aan Du Preez in die konteks van die volgende teksvers gedink: “Ek kan nie lees nie” (Jesaja 29:12). Kan ‘n mens die man nie eens met aanhalings vertrou nie?

Dit is moontlik dat die progressiewe Du Preez, wat graag saam met die tyd beweeg (selfs vóór die tyd wil wees), oor ‘n nuwer HAT-uitgawe as ek beskik. As konserwatiewe Afrikaner kan en wil ek nie saam met die tyd beweeg nie. In my HAT (4de uitgawe, 2000) staan: “vooroordeel … onredelike voorkeur of afkeer van iets” (p 1319). In sy haas het Du Preez nie reg aangehaal nie. Voor hierdie “aanhaling” het hy heeltemal korrek “afkeer van” geskryf.

Du Preez sê: “Ek kan wit Suid-Afrikaanse kermgatte nie uitstaan nie,” ook nie “Steve Hofmeyr-aanhangers” en “taalbulle” nie. Selfs nie “Blou Bul-ondersteuners” nie. Dalk is daar selfhaat in die volgende afkeer van Du Preez: “Politieke ontleders wat nooit oor hulself twyfel nie.” As beroepsdwarsneuker bly Du Preez, ondanks alles, ‘n bruikbare werktuig ter bevordering van ANC-ideologie. Saam met die plaaslike liberale Engelse pers het Du Preez met sy Vrye Weekblad sy deel gedoen om die ANC-/kommunistiese oorname van die politieke gesag te bewerkstellig. Maar aanvaar hy verantwoordelikheid vir die ondoeltreffendheid en chaos wat ons daagliks ervaar of gaan hy eerder voort om dwars te neuk en die nuwe bewindhebbers net hier en daar ligweg te kritiseer?

Dit is bekend dat Du Preez om die dood nie ‘n Afrikaner wil wees nie. Let op hoe hy die volgende gladde skuif uitvoer. Hy vertel van iemand wat gesê het: “Ek kan nie Afrikaners uitstaan nie.” Dan vervolg hy: “Sy het geweet ek is Afrikaans.” Du Preez erken daarmee dat hy Afrikaanssprekend is, maar dit is vir hom te dik vir ‘n daalder om ‘n Afrikaner te wees.

In die nuwe Suid-Afrika ontsnap (feitlik) niks aan transformasie nie; selfs nie woordeboeke nie. Ek het al voorheen genoem dat die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) afgewyk het van sy aanvanklike opdrag om Afrikaanse woorde, frases en uitdrukkings so volledig moontlik te dokumenteer. “Rassistiese” woorde, ens, word deesdae in die WAT as sodanig aangedui of heeltemal gesensor. Die besondere skeppingskrag en vindingrykheid van Afrikaners op hierdie terrein word daarmee ‘n groot onreg aangedoen. Die WAT stel taalkundige oorwegings ondergeskik aan (opportunitiese) politieke oorwegings. Afgesien van die euwel van politieke korrektheid, word dit om praktiese redes gedoen. Soos die Afrikaanse Taalmuseum en -monument is die WAT finansieel van owerheidsubsidiëring afhanklik.

Die WAT se kleinboet, die HAT, is (sover ek weet) nie van owerheidsubsidiëring afhanklik nie. Die HAT is ook duur genoeg. ‘n Eksemplaar van die 6de uitgawe (2015, 1 616p) kos R490.50. Die HAT wil egter nie by die WAT agterbly wat die uitwys van “rassisme” betref nie. Onlangs het Albert Nothnagel (Praag 4 Julie) weer oor sy gunsteling (dalk enigste) onderwerp geskryf, te wete die woord “Afrikaner”. Hy hou daarvan dat die WAT beweer dat die algemeen erkende betekenis van “Afrikaner” as “wit Afrikaanssprekende” “rassisties en verouderd” is (Die Burger, 14 Augustus, p 9). Willem Botha, die WAT se hoofredakteur, het met trots gereageer op die WAT se verpolitisering van ‘n taalkundige saak. “Die WAT se beleid vir beledigende uitdrukkings (wat rassisme insluit) is in 1994 geformuleer” (Die Burger, 18 Augustus, p 14). Hoekom 1994? Omdat die ANC, sonder dat die blanke kiesers daartoe ingestem het, toe politieke beheer oor die land verkry het. Trotse Afrikaner, Danabaai, vra tereg: “Is dit dan ook rassisties om as ‘n Zoeloe of ‘n Xhosa geklassifiseer [of bloot só genoem] te word?” (Die Burger, 18 Augustus, p 14).

Rufus Gouws, ‘n HAT-redakteur, haal die HAT-betekenis van “Afrikaner” soos volg aan: “(veral wit) persoon (met ‘n sterk gevoel van nasietrots) wie se moeder- of huistaal Afrikaans is” (Die Burger, 21 Augustus, p 14). Dit lyk vir my beter (nader aan die waarheid) as die WAT se polities korrekte poging. Gouws vervolg: “Dat die woord [‘Afrikaner’] ook dikwels gebruik word om veral na wit mense te verwys en dat dit soms op ‘n sterk gevoel van nasietrots dui, is steeds nie te betwyfel nie. Hiervan moet ‘n woordeboek blyke gee … Die HAT se bewerking van ‘Afrikaner’ is nie volgens ideologiese oortuigings gedoen nie, maar volgens dít wat in die taal werksaam is.”

Hieruit volg dit nie noodwendig dat die HAT ideologies voorbeeldiger as die WAT is nie. “Klonkie” en “outa” word reeds in my 2000-uitgawe van die HAT as “rassisties” geëtiketteer. Sedertdien het dit erger geword. Die ander twee HAT-redakteurs (naas Gouws), Jana Luther en Fred Pheiffer, roem daarop dat die jongste HAT “beter daarin slaag om negatiewe stereotipering te vermy. Die nuwe HAT is minder eksklusief, etnosentries, seksisties … Meer inklusief, geslagsneutraal, gendervriendelik” (Die Burger, 1 deser, p 12). Hierdie woordeboek weerspieël glo ‘n “groter gesindheid van verdraagsaamheid”. Die gevolg is dat meer Kaapse en Moslemwoorde as voorheen ingesluit is. Dosente aan die Universiteit van Wes-Kaapland is toegelaat om die redakteurs in hierdie opsig te beïnvloed. In ‘n poging om hierdie toegeeflikheid te regverdig, word gesê: “Woordeboeke het ook nie deesdae noodwendig dieselfde voorskriftelike status as wat hulle voorheen gehad het nie.” Maar ‘n woordeboekkoper of -gebruiker wil darem ook nie blootgestel wees aan die subjektiewe (ideologiese) voorkeure van ‘n redakteur nie.

Oor Engelse beïnvloeding, dus anglisismes, is die HAT-redakteurs ewe toegeeflik: “… daar in taalkundekringe al van die 1980’s af gevra word dat woordeboeke gebruiksrealiteite beter moet weerspieël en onnodige sensuur moet verslap”. 7de Laan- en Son-Afrikaans word dus nie meer met dieselfde mate van afgryse as voorheen bejeën nie. So ‘n houding gaan Afrikaans myns insiens armer laat. Byvoorbeeld, E Smit skryf: “Ons kyk nou na Bravo! op kykNET. Watter taal praat party sangers en sportmense deesdae? Dis nie Afrikaans nie, ook nie Engels nie. Wat is dit? Siek. Ek wens Chris Chameleon kan hul stemwerk doen” (Die Burger, 19 deser, p 11).

Die ideologiese glybaan waarop die HAT (soos die WAT) hom bevind, blyk uit Daniël Hugo se resensie van HAT se 6de uitgawe (Rapport, Weekliks, 9 Augustus, p 13). “Die HAT neem sy opvoedingstaak baie ernstig op, soos blyk uit die talle uitvoerige waarskuwings teen die gebruik van rassistiese woorde. By die onnoembare k-woord word eers verduidelik dat dit oorspronklik in Arabies ‘ongelowige’ oftewel ‘Nie-Moslem’ beteken het. Dan volg die waarskuwing: ‘Vandag is die gebruik van die woord nie net erg beledigend en kwetsend nie, dit word inderdaad as lasterlik beskou. Wie hierdie woord teenoor ‘n ander persoon gebruik, kan gedagvaar word, en dit moet dus in alle omstandighede vermy word.'”

Eintlik is dit oordrewe om die waarskuwing aan almal te rig. Dit is veral, of spesifiek, blankes wat die “onnoembare k-woord” nie mag gebruik nie. Dit is maar net nog ‘n voorbeeld van dubbele standaarde. In die VSA mag die blankes nie die woord “nigger” gebruik nie, maar op my rak staan die Nigeriër Chika Onyeani se boek Capitalist nigger (New York: Timbuktu Publishers, 2000, 187p). Die outeur mag die onnoembare n-woord in sy boektitel en telkens in die teks gebruik omdat hy swart is. Of dit nou die k-woord of die n-woord is, swartes word toegelaat om te besluit wat hulle genoem wil wees (bv swart, Afrikaan, Afro-American) of nie genoem wil wees nie. Dit is ironies, eintlik vermetel, dat blanke woordeboekmakers besluit dat blankes rassisties is as hulle hulleself “Afrikaners” noem, terwyl daar nie werklik ‘n algemeen bekende alternatiewe woord is nie. Die benaming “Boer” (met ‘n hoofletter) is vir my aanvaarbaar, maar polities korrektes kry daaroor die stuipe. Dan Roodt se “Eurokaner” (Praag 21 deser) is ‘n uitstekende alternatief. Van Afrikaners word verwag om hulle gedwee neer te lê by ‘n multi-etniese, multikulturele benaming soos “Suid-Afrikaner” of “Afrikaan”, of om ‘n omslagtige frase soos “Afrikaanssprekende blanke” te aanvaar.

Oor die HAT-aanhaling in die voorlaaste paragraaf hierbo skryf Hugo: “Dit is nogal sterk taal vir ‘n woordeboek wat in sy voorwoord daarop aanspraak maak dat dit, buiten korrekte spelling, nie voorskriftelik wil wees nie. Vir een van die redakteurs het dié werkswyse klaarblyklik self te veel geword. By die trefwoord ‘outa’ staan die volgende geïrriteerde nota: ”n Woord wat tot die rasbeduiwelde verlede van Suid-Afrika behoort en daarom liefs te vermy.’ Was hierdie kommentaar werklik nodig? Veral nadat die woord reeds die etikette ‘verouderd’ en ‘rassisties’ gekry het, en die definisie boonop duidelik maak dat dit ‘n beleefde aanspreekvorm vir ‘n bejaarde bruin of swart man was.”

Wie sou in die vorige eeu kon dink dat ‘n mens met soveel subjektiwiteit en politieke korrektheid in Afrikaanse woordeboeke, soos die WAT en die HAT, gekonfronteer sou word? Kortom, die WAT en die HAT grawe vir Afrikaans ‘n GAT.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.