Griekeland se Tsipras kry tweede kans

Deel op

Alexis Tsipras se linkse Syriza Party het opposisiepartye in die algemene verkiesings in Griekeland verslaan.

Meer as vier uit elke tien Griekse kiesers het egter nie in Sondag se verkiesing gaan stem nie, ‘n aanduiding dat kiesers vuisvoos is.

Die 41-jarige leier is nietemin ’n tweede kans gegun om van die land se reuse­skuldlas ontslae te raak en omvattende hervormings deur te sien om die regering en die ekonomie te moderniseer.

Strydig met meningsopnames het Tsipras’n gemaklike oorwinning oor die konserwatiewe Nuwe Demokratiese Party behaal en ’n koalisie met die klein regse Onafhanklike Griekse Party gevorm.

“Die mense van Griekeland het onder moeilike omstandighede vir ons ’n duidelike opdrag gegee om ontslae te raak van dinge wat ons in die verlede vasgevang hou,” het Tsipras aan verslaggewers in Athene gesê.

Tsipras se Syriza het 35,5% van die stemme gekry en die Nuwe Demokratiese Party 29,1%.

Die land staar streng besuiningsmaatreëls in die gesig nadat ‘n derde internasionale finansiële reddingsboei onderhandel moes word vir die Grieke om in die Eurosone te bly.

Die verkiesing kom midde in Griekeland se stryd om met die Europese vlugtlingekrisis kop bo water te hou.

Net sewe maande in sy eerste presidentstermyn, het Tsipras sy meerderheid in die parlement verloor nadat regsgesinde rebelle in sy party streng nuwe voorwaardes teengestaan het waarop die Euro-sonelande in ruil vir die 86 miljard Euro reddingspakket aangedring het.

Die maatreëls het onder meer hoër verkoopbelasting, hoër belasting vir sakeondernemings, veranderinge in openbare administrasie en verdere besnoeiings aan pensioene vir die land se verouderende bevolking ingesluit.

Die rebelle, wat weggebreek en hul eie party gestig het, kon nie daarin slaag om ’n enkele setel in die parlement te verower nie.

Na jare se resessie en streng hervormings is ’n kwart van die land se bevolking steeds werkloos en die nasionale skuld staan op 175 persent van die land se jaarlikse inkomste. Die voortgesette swaarkry het meegebring dat Grieke min entoesiasme tydens die kort verkiesingsveldtog getoon het.

Die nuwe regering het ’n klein meerderheid van net vyf setels en min tyd om te verspeel. Krediteure sal na verwagting die hervormings hersien as deel van die finansiële reddingsboei.

Die regering moet nog die nasionale begroting vir 2016 opstel en ’n kritieke program in werking stel om die banke te herkapitaliseer.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.