Die Hunan-provinsie in China gaan meer as 20 miljard rand in die Noord-Kaap belê.
Dit is aangekondig by die ondertekening van ‘n memorandum van verstandhouding in Kimberley. Die geleentheid is deel van die 2015 Vriendskapsweek tussen die twee provinsies.
Die premier van die Noord-Kaap, Sylvia Lucas sê daar is baie geleenthede in die Noord-Kaap. Sy sê daar is ‘n goeie verstandhouding en betrekkinge met Hunan-provinsie.
Die beskerming van mense in Suid-Afrika ingevolge die regsraamwerk sal glo voorkeur geniet, het die premier gesê.
Die vergadering volg op die BRICS-beraad in Kimberley wat verlede jaar gehou is, en waar China ‘n onderneming gemaak het om met die Noord-Kaapse regering te skakel oor handel.
Hulle het onderneem om te belê in ‘n aantal ondernemings in die provinsie.
China stel glo belang in die potensiaal van Port Nolloth as ‘n hawe, het die uitvoerende vise-president van China se Hunan-provinsie, Zhaoxiong Chen, verduidelik.
“Hunan is baie sterk in die velde van ingenieurswese, masjinerie, spoorvervoer en dit is die rede waarom ons gekies het om in ‘n provinsie soos die Noord-Kaap te belê,” het hy gesê.
Chen het bygevoeg dat Suid-Afrika sulke beleggings nodig het.