Homo Naledi kry die wind van voor

Deel op

Prof. Lee Berger, die Amerikaanse paleoantropoloog se “ontdekking” van ’n nuwe hominied-spesie, kry soos verwag is, die wind van voor. Berger is verbonde aan die Universiteit van die Witwatersrand.

Die wetenskaplike artikels waarin Berger dié bewerings maak, is voorheen afgekeur deur Nature, die wêreld se mees gesaghebbende vaktydskrif.

Berger se internasionale eweknieë meen sy aansprake dat Homo naledi ’n nuwe spesie is, is misplaas. Voorts is Berger se mening dat Homo naledi rituele van die moderne mens gevolg het, en dooies doelbewus in die grot geplaas het, met heelwat skeptisime begroet.

Prof. Tim White, lektor in ­paleoantropologie aan die Universiteit van Kalifornië in Berkeley, het aan die Londense koerant The Times gesê Nature se onwilligheid om Berger se “vonds” te publiseer, dui daarop dat die Wits-span se bevindinge ondeurgrond is.

Volgens White is Homo naledi nie ’n nuwe spesie nie, maar behorende tot die spesie Homo erectus, waarvan die fossiele reeds meer as 100 jaar gelede ontdek is naby aan waar Berger-hulle gegrawe het.

Berger-hulle se bevindings is uiteindelik in die aanlyn joernaal eLife gepubliseer.

White glo Berger maak hom weereens skuldig aan “kunsmatige spesie-inflasie”, aangesien dit nie die eerste keer is dat Berger hiervan beskuldig word nie. Volgens White is dit ‘n neiging in die vakgebied om elke nuwe ontdekking as ‘n nuwe spesie aan te kondig.

Berger se vorige “ontdekking”, in 2008 – wat hy Australopithecus ­sediba gedoop het – word tewens deur talle vakkundiges beskou as die reeds bekende hominied Australopithecus africanus.

Die Wits-span kon nog nie daarin slaag om hul nuwe vonds korrek te dateer nie.

Rick Potts, verbonde aan die Smithsonian-instituut se natuurhistoriese museum, het aan Associated Press gesê sonder ’n ouderdom “is daar geen manier waarop ’n mens die evolusionêre belang van die ontdekking kan beoordeel nie”.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.