Wittes verneder by SA Hoë-kommissariaat in Windhoek

Deel op

Ná verskeie briewe en SMS’e van die publiek oor beweerde swak en stadige diens by die Suid-Afrikaanse hoë kommissariaat in Windhoek, het ’n Namibiese pa uit desperaatheid sy frustrasie onder die aandag van die openbare beskermer in daardie land, me. Thuli Madonsela, gebring.

Sy dogter [Die wit pa en dogter se name word weerhou om hulle nie aan enige intimidasie bloot te stel nie], het byna die hele derde kwartaal by haar skool in die Wes-Kaap misgeloop omdat sy vir ’n hernuwing van haar studiepermit moes wag.

Die aansoek is in Julie ingedien. Volgens die pa is herhaalde oproepe na die hoë kommissariaat gemaak om terugvoering te kry, maar is geen van die oproepe beantwoord nie.

Hy het vervolgens besluit om byna 1 000 kilometer na Windhoek te ry om self uit te vind waarom met die uitreik van die permit gesloer word.

Hy het net ná middagete by die hoë kommissariaat opgedaag, waar hy moes hoor die kantore is toe vir die publiek.

Die volgende dag was hy reeds om 09:00 by die kommissariaat, maar is ná ’n uur deur ’n “verergde” klerk ingelig dat studiepermitte slegs die dag daarna hanteer word en dat hy dan moes terugkeer.

Andersins kon hy vir ’n SMS wag om te hoor of die permit gereed was. Hy is voorts ingelig dat ’n proses gevolg moet word en dat dit agt weke sou duur voordat studiepermitte uitgereik word.

“Ek was verneder deur die behandeling wat ek van die klerk ontvang het en die feit dat sy slegs 30 sekondes aan my bestee het – dit ná al die opofferinge wat ek gemaak het,” het hy in sy brief aan Madonsela gesê.

Die pa het daarna tot sewe agente gekontak in ’n poging om die uitreiking van die studiepermit te verhaas. Dit was egter sonder sukses.

“Aangesien skoolvakansies so kort is, is dit nie prakties dat dit agt weke vat vir ’n studiepermit om uitgereik te word nie,” het die ontstoke pa gesê. “Wat is die eintlike boodskap wat Suid-Afrika vir ons probeer stuur? Wil hulle nie hê buitelanders moet daar studeer of ’n bydrae lewer nie?”

Hy het aan Madonsela geskryf dat die behandeling wat Namibiërs van die hoë kommissariaat ontvang, die reputasie van die Suid-Afrikaanse regering beskadig en ’n verleentheid veroorsaak.

Republikein is van bakboord na stuurboord gestuur om antwoorde by die hoë kommissariaat te kry. Dit is uiteindelik na me. Emma Ramokhele, die hoof van die konsulaat, verwys. Vrae en oproepe aan Ramokhele was teen saktyd nog nie beantwoord nie.

Bron: Republikein

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.