Onderwysvakbonde en die minister van basiese onderwys, Angie Motshekga, het vroeër tot ‘n vergelyk gekom dat ‘n periode van 90 dae gegun sou word vir herondersoek.
Intussen het vyf vakbonde aangedui dat hulle gekant is teen die Jaarlikse Nasionale Asesseringstoetse.
Verteenwoordigers sê hulle het nooit vir die toetse gevra nie en stem nie saam met die minsister se aankondiging dat dit vanjaar tussen 1 en 4 Desember moet plaasvind nie.
Volgens die Suid-Afrikaanse Onderwys Unie se Chris Klopper, was dit gedoen om ‘n nuwe model vir sistemiese evaluering daar te stel, maar Motshekga sing nou ‘n ander deuntjie.
Hy sê die toetse was nooit bedoel om elke kind in die stelsel te assesseer nie, en verder word daar niks met die inligting gedoen wat ingesamel word nie.
Klopper sê in ‘n ordelike stelsel sal kinders in sekere grade getoets word om die uitvalpunte te bepaal. Dit word gedoen om tekortkominge uit te wys sodat verbeteringe gedoen kan word.
Hy sê die vaardighede van onderwysers, hul foute en hul vakkennis kom sodoende onder die loep, maar die ondersoek het nooit plaasgevind nie.