Die Amerikaanse Oorsese Privaat Beleggingskorporasie (OPIC) het vyf miljard rand vir ‘n nuwe sonkragaanleg in Suid-Afrika bewillig.
Twee maatskappye sal saamspan om die projek die lig te laat sien. Dit sal na verwagting sowat honderd megawatt krag tot die netwerk lewer.
Die inisiatief is deel van President Barack Obama se Power Africa-plan, waarvolgens 90 miljard rand op die vasteland bestee sal word.
SolarReserve van Kalifornië en Saoedi-Arabië se ACWA Power sal saamwerk om die 100 megawatt sonkrag-aanleg in die Noord-Kaap te bou en te bedryf.
Die maatskappy het gesê die plan het ten doel om toegang tot elektrisiteit in Suider-Afrika te bevorder.
Die inisiatief beoog om kapasiteit van die vasteland se elektrisiteit te verhoog, met ‘n bykomende fokus op kleinskaal beleggings in hernubare energie.
OPIC het ook gesê Standard Bank het ‘n waarborg van $250m ontvang om kragopwekkings- en infrastruktuurprojekte te finansier in Suider-Afrika.
OPIC is in 1969 opgerig onder Richard Nixon as ‘n Amerikaanse “sagtemag-instrument” in die ontwikkelende wêreld om privaatfondse in infrastruktuurontwikkeling te kanaliseer, het Reuters berig.