Trump loop los voor in benoemingstryd

Deel op

Die voorloper onder Republi­keinse aanspraakmakers op die party se nominasie as presidentskandidaat, Donald Trump, voormalige goewerneur Jeb Bush, en die oud-sakevrou Carly Fiorina en ander voornemende presidentskandidate het in Woensdag se TV-debat mekaar gekarnuffel.

Die debat, wat veronderstel was om die kandidate se mening oor belangrike standpunte uit te lig, is hoofsaaklik deur Trump oorheers. Die ander Republikeinse kandidate is in hoek en probeer naarstiglik keer dat Trump die presidentskandidaatskap inpalm.

Woensdag was die eerste keer dat die Republikeinse Party se enigste vroulike kandidaat, Fiorina, op die debatsverhoog was. Haar gewildheid is besig om toe te neem ondanks die feit dat Trump haar onlangs beledig het en gesê het niemand sal vir “daardie gesig” stem nie.

Sy het Trump daaroor aangevat, maar hy het net vorentoe geleun en vir haar gesê sy is ’n mooi vrou. Fiorina het daarna opgemerk dat Trump se maatskappy al vier keer om bankrot­skap aansoek gedoen het.

“Waarom moet ons jou vertrou?” het sy gevra. Fiorina het egter vergeet dat Trump besonder goed van al vier terugslae herstel het.

‘n Meningspeiling deur Reuters/Ipsos toon dat Trump weliswaar met 32%-steun steeds voorloop. Die afgetrede neurochirurg Ben Carson is tweede met 15% en Bush is derde met 9% van die steun.

Daar was altesaam 11 kandidate op die verhoog vir die debat wat in die Ronald Reagan Presidential Library in Simi Valley gehou is. Die ander wat aan die hoofdebat deelgeneem het, was Scott Walker, Ted Cruz, Marco Rubio, Mike Huckabee, John Kasich en Chris Christie.

Een van die kandidate wat aan die “undercard”-debat deelgeneem het vir kandidate wat nie so gewild is nie, het die Republikeinse dilemma jeens Trump perfek opgesom.

Trump beskik oor geloofwaardigheid onder kiesers, terwyl nie een van die ander kandidate dieselfde kan sê nie. Die res van die Republikeinse aanspraakmakers is deur invloedsmouse gekoop.

Intussen het Rabbi Dov Zackheim Trump in die Joodse media aangeval as ‘n “onverkiesbare” kandidaat. Die rabbi het gesê alhoewel Trump ‘n reputasie het as filo-Semities, behoort Jode nie vir hom te stem nie.

Zakheim het tydens die ampstermyn van president George W. Bush as ondersekretaris van Verdediging gedien tussen 2001-2004.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.