Drie mense is dood toe ’n aardbewing wat 8.3 op die Richter-skaal gemeet het, neffens die kus van Chili aangeteken is.
Geboue in die hoofstad Santiago het geruk en tsoenami-waarskuwings is uitgereik aan Chili, Peru, Frans-Polinesië en die Amerikaanse deelstaat Kalifornië.
Die president van Chili, Michelle Bachelet, het aangekondig dat sy die gebiede sal besoek wat die ergste getref is.
Dit is die ergste aardbewing wat Chili in vyf jaar tref. Dit het ook ernstige vloede in sommige kusdorpe veroorsaak.
’n Vrou (26) is dood toe ’n muur op haar ineengestort het en ’n ander persoon is aan ’n hartaanval dood. Dit is nog nie bekend gemaak hoe die derde persoon dood is nie.
Die aardbewing is tot sover as Buenos Aires in Argentinië gevoel en het ook verskeie huise en geboue beskadig en mense beseer.
Die kusdorp Coquimbo is deur golwe so hoog as 4,5 m getref, het Chili se vloot bekend gemaak.