DRK se hoofopposisie-party stap uit onderhandelinge

Deel op

Die hoofopposisieparty in die Demokratiese Republiek van Kongo (DRK) sê onderhandelinge met pres. Joseph Kabila vóór verkiesings, het ’n dooie punt bereik.

Kabila, wat sedert 2001 die staatshoof is, is grondwetlik nie toegelaat om in volgende jaar se verkiesings te staan nie.

Sy tweede verkose termyn loop dan ten einde. Sy teenstanders beskuldig hom egter daarvan dat hy aan die mag wil vasklou, het AFP berig.

Kabila het in Junie met beraadslaging met opposisiegroepe begin, maar net die Unie vir Demokrasie en Maatskaplike Vooruitgang (UDPS) het ingestem om dit by te woon. Twee ander belangrike groepe boikot die beraadslagings.

Die veteraan UDPS-president, Etienne Tshi­sekedi (82) het in ’n verklaring wat van sy huis in Brussel uitgereik is, gesê die onderhandelinge het misluk en dat hy sy party se afgevaardigdes opdrag gegee het om “die onderhandelingstafel onmiddellik te verlaat.”

Tshisekedi, wat in 2011 deur Kabila verslaan is in ’n verkiesing wat waarnemers as “deurspek met bedrog” bestempel het, het politieke en maatskaplike magte aangemoedig om te veg vir ’n geloofwaardige verkiesingsproses om ’n vreedsame oordrag van gesag te verseker.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.