Die Nasionale Vervolgingsgesag het verklaar dat hulle sal wag vir die regering se verdere appélproses oor die al-Basjir kwessie.
Die NGV gaan dus nie dadelik met strafregtelike vervolging begin nie, het Luvuyo Mfaku gesê.
Die Vervolgingsgesag sê daar kan eers ná die proses besluit word of staatsamptenare wat gehelp het om die Soedannese president, Omar al-Bashir uit Suid-Afrika te kry, stafrefregtelik vervolg sal word.
Die Hooggeregshof in Pretoria het in Junie bevind dat die regering nie ‘n hofbevel nagekom het om te keer dat al-Basjir die land verlaat nie.
Dieselfde hof het Woensdag die staat se aansoek vir verlof tot appèl geweier.
Die ANC het ‘n beroep op die regering gedoen om ‘n petisie tot die Appèlhof te rig. Hulle het 20 dae om te besluit.
Die departement van Justisie het by monde van ‘n woordvoerder gesê hulle is teleurgesteld en hulle sal verdere stappe oorweeg.
Die regering het tot volgende maand om aan die Internasionale Strafhof te verduidelik waarom die Soedannese president nie in hegtenis geneem is nie.