‘n Bloemfonteinse polisiebeampte, wat na bewering dossiere uit die plaaslike landdroshof gesteel het, sal op 28 September weer in die hof verskyn.
Polisiewoordvoerder, Chaka Marope, sê die 43-jarige Patricia Pitt van die Parkweg-polisiekantoor en ‘n plaaslike sakeman, Thulani Qhiti, is Maandag in hegtenis geneem kort nadat Pitt glo onder valse voorwendsels vyf dossiere geneem het.
Sy het haarself na bewering voorgedoen as ‘n lid van die eenheid teen gesinsgeweld en seksuele misdrywe en vir kinderbeskerming (GKS), wat die betrokke dossiere ondersoek.
Marope het bevestig Qhiti word in een van die gesteelde dossiere weens beweerde verkragting ondersoek.
Pitt is op borgtog van R3 000 uitgelaat, terwyl Qhiti se borgtogaansoek nie toegestaan is nie.
Albei die beskuldiges staan tereg op aanklagte van diefstal en dwarsboming van die gereg.
Qhiti staar ook ‘n aanklag van verkragting in die gesig.