‘n Polisiebeampte van Theunissen wat die naweek by sy huis in hegtenis geneem is in verband met ‘n gewapende rooftog verlede maand, is uit op borg.
Die swart beampte is Woensdag in die plaaslike landdroshof op borgtog van R5000 uitgelaat.
Vrystaatse polisiewoordvoerder, Ian Gaobepe, sê die 28-jarige Diphaphang Mokoena, wat verbonde is aan die polisie se gemeenskapsdienssentrum, staan tereg op aanklagte van poging tot moord, gewapende roof en ontvoering.
Hy het glo op 13 Augustus omstreeks 19:00 ‘n plaaslike winkel beroof en ‘n Ethiopiese winkeleienaar met sy amptelike vuurwapen aangehou, ontvoer en aangerand.
Gaobepe sê Mokoena was in sy uniform geklee tydens die rooftog waarna hy die winkeleienaar agter in ‘n polisiebakkie gegooi het. Mokoena het toe die erg beseerde man vir dood by Meloding in Virginia gelaat.
Hy het hom glo erg aangerand met sy vuurwapen. Geld, sigarette en selfoonlugtyd alles ter waarde van R5 000 is gesteel.
Mokoena verskyn weer op 30 September in die hof.