Manfred Delport: Is die politiek korrektes steeds sjimpansees?

Deel op

Soos met die meeste nuusgebeure in Suid-Afrika, het die ontdekking van Homo Naledi by die sogenaamde Wieg van die Mensdom vir groot vermaak en komedie gesorg. Ek het my veral verkneukel aan drie reaksies op dié vonds.

Die eerste was vanaf Zwelinzima Vavi, die voormalige hoof van Cosatu. Vavi was verskriklik beswaard omdat hy kwansuis nie van ‘n sjimpansee afstam nie. Vavi lees duidelik nie baie nie. Had hy wel, sou hy besef het dat die wetenskaplikes nooit beweer het dat mense van sjimpansees afstam nie. Hulle beweer wel dat mense, gorillas en sjimpansees iewers ‘n gemeenskaplike voorouer gehad het, maar dat ons en sjimpansees se paaie iewers geskei het.

Die tweede bron van vermaak was Mathole Motshekga, ‘n voormalige premier van die Gautengprovinsie, deesdae ‘n ANC-LP en ook ‘n deeltydse toordokter. Nes Vavi het Motshekga Homo Naledi as ‘n persoonlike belediging ervaar, en ook te velde getrek teen wetenskaplikes wat volgens hom beweer dat dit spesifiek Afrikane is wat van bobbejane afstam. Hy beweer dat hy toegang het tot 36 000 jaar oue Afrikaliteratuur wat die wetenskaplikes verkeerd bewys. (Vreemde aanspraak, daardie een. Kon Afrikane selfs 360 jaar gelede lees en skryf, laat staan 36 000 jaar gelede?)

Die grootste bron van vermaak was egter die reaksies op bogenoemde kritiek van die wetenskaplikes self, en meer spesifiek hulle politieke korrektheid oor die aangeleentheid. Gelukkig vir die wetenskaplikes is Vavi en Motshekga onbelese en vra hulle nie die regte vrae nie, want die regte vrae kon ‘n lelike geneuk en selfs meer ongemak vir die wetenskaplikes veroorsaak het. Die wetenskaplikes het gepaai en ‘n politiek korrekte antwoord gegee: “Nie net Afrikane nie, maar alle mense stam van ‘n aapmens-voorouer af.” Dit is egter nie die volle verhaal nie.

Kom ons raak nie betrokke in ‘n debat oor die meriete van die evolusieteorie teenoor godsdiens nie, en ons neem vir die doeleindes hiervan aan dat die wetenskaplikes se teorie oor die evolusie van die mensdom ‘n geldige model van die werklike verloop van sake is.

Die huidige teorie van menslike evolusie lui min of meer soos volg: Mense en ander groot ape soos gorillas en sjimpansees stam van ‘n gemeenskaplike voorouer af. Mense se voorouers kom van Oos-Afrika af en het eens in bome gebly. Die klimaat van Oos-Afrika het egter ‘n paar miljoen jaar gelede begin verander. Bome het verdwyn en is vervang deur grasvelde. Die verdwyning van bome het die ape in Oos-Afrika uit die bome laat klim en op die grasvlaktes laat woon. Dus: Klimaat het ‘n invloed op evolusie, ook menslike evolusie, uitgeoefen.

Vir ‘n wese wat op ‘n grasvlakte wil oorleef, is dit voordelig om regop te loop, om prooi en roofdiere te kan raaksien, en om gereedskap te gebruik om mee te jag. Dit het noodwendig vereis dat die brein van die aapmense moes groei. Diere gebruik nie dikwels gereedskap nie, alhoewel dit soms gebeur. Daar was, volgens die wetenskaplikes, verskeie tussenstappe tussen die voorouer en Homo Sapiens, elkeen met toenemende breingroottes, tot waar ons vandag min of meer by 1300 kubieke sentimeter trek. Homo Naledi was glo een van hierdie stappe, maar volgens wetenskaplikes soos dié, was Homo Naledi kwalik meer as ‘n aap, met ‘n breingrootte van sowat 400 kubieke sentimeter. Die mens het ook glo 100 000 jaar gelede uit Afrika migreer en na die res van die aarde versprei.

Tot hiertoe ons voorlesing uit die teorie van menslike evolusie.

Kom ons dink egter bietjie mooi oor bostaande teorie, met ons politiek korrekte hoed op. Die religie van politieke korrektheid en nie-rassigheid lui dat alle mense, swart en wit, presies dieselfde is, buiten vir velkleur. Enige fanatikus in die Kerk van Anti-Rassisme sal veral begin skuim om die mond van verontwaardiging as iemand selfs suggereer dat intelligensie tussen rasse kan verskil.

Daar blyk egter wydverspreide konsensus onder wetenskaplikes te wees dat ‘n groot brein ‘n kenmerkende eienskap, en selfs dié kenmerkende eienskap, is wat ‘n mens van ‘n aapmens onderskei. Geen wetenskaplike betwis immers dat Homo Sapiens meer intelligent is as wat Homo Naledi of Homo Erectus (1000 kubieke cm) was nie. Hier sit die politiek korrektes se eerste probleem: Dit is ‘n bewese anatomiese feit dat Afrikane se breingrootte steeds vandag kleiner is as blankes s’n, wat op sy beurt kleiner is as Oos-Asiate s’n. Waar laat hierdie ongerieflike feit die politiek korrektes, as daar dan wel ‘n kontinuum bestaan vanaf aapmense na Homo Sapiens, en as ‘n groot brein wel ‘n indikator is van, wel, menslikheid?

Die tweede ongerieflike vraag vir die politiek korrektes is die skynbaar wonderbaarlike staking van menslike evolusie sowat 100 000 jaar gelede. Homo Naledi of Homo Erectus of Homo Australopithecus het iewers ontwikkel in Homo Sapiens, maar as jy waarlik wil glo dat mense in 2015 almal presies dieselfde is, moet jy noodwendig glo dat menslike evolusie iewers opgehou het, en meer spesfiek dat die evolusie van menslike intelligensie gestaak het. Was dit toe mense die Rooi See oorgesteek het, miskien?

‘n Derde vraag is waarom, as ‘n verandering in klimaat of omgewing in Afrika so ‘n radikale uitwerking op aapmense gehad het – dit het hulle uit bome laat klim, begin regop loop, gereedskap gebruik en hul intelligensie sodoende laat verhoog – dieselfde proses nie voortgesit is ná die mens uit Afrika na bewering vertrek het na kouer klimate nie. Minder bome is een ding. Ysige koue, nege maande van die jaar, in die noordelike dele van Europa en Asië is iets heeltemal anders. As ‘n relatief klein verandering in klimaat in Oos-Afrika ‘n radikale uitwerking op aapmense se intelligensie kon hê, hoeveel groter moes die ysige koue van die noordelike halfrond nie op menslike intelligensie hê nie? Kyk gerus na die foto’s van prof Berger se navorsingspan en let op die rassesamestelling van daardie span, terloops. Almal ysmense. Wonder waarom?

Vavi en Motshekga is weliswaar nie heeltemal reg as hulle beweer dat die wetenskaplikes sê mense kom van sjimpansees af nie, maar wat die wetenskaplikes se navorsing eintlik sê, en sou dit waar wees, is net sulke slegte nuus vir menere Vavi en Motshekga. Tog jammer die wetenskaplikes is te politiek korrek en doodbang om reguit en eerlik te wees oor die ware implikasies van hulle werk.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.