Beurtkrag wink terwyl steenkoolskermutselinge woed

Deel op

Beurtkrag kan weer vandeesweek in werking tree nadat dit vir vyf weke lank nie ingestel is nie.

Eskom het vroeër gewaarsku dat die kragnetwerk die volgende paar dae onder druk kan kom weens instandhoudingswerk by die Cahora Bassa hidro-elektriese-aanleg in Mosambiek.

Suid-Afrika sal weens dié instandhouding slegs 650-megawatt kry van die 1500 megawatt wat hy normaalweg vanaf Mosambiek invoer.

Die instandhoudingswerk sal teen aanstaande Sondag voltooi wees.

Eskom het reeds sowat 900 megawatt verloor, weens onderhoudswerk by een van Koeberg se reaktore.

Die kragvoorsiener sê hy sal van noodreserwes gebruik maak om die tekort aan te vul.

Volgens berigte het Eskom ‘n kontrak van bykans vier-miljard aan die Gupta-familie toegeken om steenkool aan die kragvoorsiener te lewer.

Die kontrak is onder toesig van Cyril Ramaphosa gesluit, wat die energie-oorlogskamer bestuur.

Daarvolgens sal die Guptas die Majuba-kragstasie in Mpumalanga vir die volgende tien jaar van steenkool voorsien.

Die kontrak is volgens berigte onderteken ten spyte daarvan dat die gehalte van hul steenkool verskeie kere nie die gehalte-toets kon slaag nie.

Die bestuurshoof van die Gupta-familie se Oakbay Investments, Nazeem Howa, het die berigte in `n Sondagkoerant oor swak gehalte steenkool bestempel as feitelik foutief.

Hy sê Eskom se daaglikse toetse sal bewys dat hul steenkool vir die Majuba-kragstasie nie van `n swak gehalte is nie.

Intussen het die Oekraïne se grootste energie-maatskappy, DTEK, Vrydag gesê hulle sal nie meer steenkool aankoop vir die komende winter uit Suid-Afrika nie, het die Russiese nuusagentskap Tass berig.

Aflewerings van die ooste van die Oekraïne, wat beheer word deur anti-juntamagte, sal hervat word.

DTEK se uitvoerende hoof, Maxim Timchenko het aan joernaliste by die jaarlikse vergadering van die Jalta Europese Strategie in Kiëf gesê, dat die steenkool te duur is.

Hy het gesê die maatskappy sal steenkool uit oostelike Lugansk en Donbass-streke per spoor invoer waar sowat twee miljoen ton se voorraad is.

Timchenko het gesê “groot vooruitgang” is gemaak wat voorrade steenkool vanuit Donbass betref. Tot 40.000 ton steenkool word daagliks afgelewer in die juntabeheerde deel van die Oekraïne.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.