Dis snert dat die gewilde Suid-Afrikaanse akteur Arnold Vosloo in ’n motorongeluk dood is, sê sy suster Nadia.
‘n Foto van Vosloo by ’n ongeluksfoto met die byskrif: “Arnold Vosloo. He died in a terrible traffic accident the world mourns the loss.” is vir langer as ’n week op Facebook en ander sosiale media versprei.
“Ons het almal ’n sin vir humor. Ons Suid- Afrikaners hou van lag, maar hierdie is nie snaaks nie,” sê Nadia.
“Ek het my broer laat weet van wat versprei word en ek gaan Dinsdagaand met hom daaroor gesels.”
Nadia sê die inligting het by haar ma uitgekom, maar dat sy nie verstaan hoe sosiale media werk nie. “My broer het intussen vir haar ’n epos gestuur om haar gerus te stel.”
“Toe ek hoor dat hulle op 702 daarvan praat het ek ook onmiddelik ingebel en laat weet dat dit absoluut onwaar is. Hy is alive and well and living in Los Angeles.”
Sy sê dat die plasing nou ondersoek gaan word en dat die familie probeer uitvind wie agter die boodskap is.
Bron: Moot Rekord