Nog niemand is in hegtenis geneem in verband met ‘n skietvoorval gister waarin ‘n bejaarde boer op sy plaas by Boshof in die Vrystaat gewond is nie.
Die 69-jarige Douglas Pope is gister van agter in die regtersy gewond toe hy by sy plaas se hek by ‘n grondpad vanuit ‘n bewegende motor geskiet is.
Die polisie en plaaslike boere het kort ná die aanval die gebied gefynkam op soek na ‘n wit Toyota Corolla waaruit skote op Pope afgevuur is.
Pope se seun, Douglas, sê sy pa was op pad na ‘n vergadering op Boshof toe hy geskiet is. Sy gewonde pa het ná die skietery teruggejaag na die plaashuis om hulp te kry. Die polisie en boere was vinnig om omliggende paaie af te sper en ‘n soektog is begin.
Douglas sê die motief vir die voorval is onbekend.
Pope is in ‘n bestendige toestand in die Mediclinic Gariep in Kimberley. Die polisie het vroeër aan OFM-nuus gesê daar was vermoedelik drie mans in die motor. Skote is vanuit die motor se agterste sitplek gevuur.