Dan Roodt: Papsak-Max se skoene, Charles Smith en kampusonluste

Deel op

‘n Mens raak skoon moedeloos as jy die reaksies lees op die stygende geweld en onmin wat daar sedert begin 2015 op die land se mees prestigieuse kampusse heers. Veral Stellenbosch staan weereens in die spervuur terwyl blanke studentes aan die Universiteit van Pretoria ‘n paar dae gelede in ‘n gebou toegesluit is om hulle teen amokmakende EFF-studente op die kampus te beskerm. Die enigste rubriekskrywer in die HSM (hoofstroommedia) wat dié situasie kon raakvat, was Charles Smith van Die Volksblad wat tereg sê: Revolusie dreig en Afrikaners paartie toe oë.

Smith meen “’n handjievol kommies onder Blade [Nzimande] het almal in vrees en bewing” en haal ‘n slagspreuk van die Suid-Afrikaanse Kommunisteparty aan:

“Society is always in constant revolution, with the ultimate goal being the seizure of political and state power.”

Dit is goed dat Charles Smith ons hieraan herinner. Mense is so in die oomblik vasgevang dat hulle nie die groter of geskiedkundige prentjie raaksien nie. Die kommunistiese of linkse aanslag op Suid-Afrika het nie vanjaar begin nie; dit strek verder as ‘n eeu terug. Soos ek in my boek Raiders of the lost Empire argumenteer, het die Litause Jode die tradisie van radikale sosialisme en revolusie, andersins bekend as marxisme, in die vroeë twintigste eeu hierheen gebring. Lees maar Alan Wieder se biografie oor Joe Slovo en Ruth First of my resensie hier op Praag, hoe daar in losieshuise in Doornfontein gefantaseer is oor wêreldrevolusie en die verdrywing van die Afrikaner uit Suid-Afrika.

In reaksie op Charles Smith se meningstuk waarin hy tereg sy kommer uitspreek oor die verval van Suid-Afrika, reageer Max du Preez met ‘n stuk papsak- linkse snobisme. Dis een ding wat eintlik baie snaaks is: by gebrek aan idees of intellek, reik Suid-Afrikaanse linkses altyd na snobisme as hul vernaamste wapen om hul opponente mee te verkleineer. Daarom swaai Max, wat net in clichés en gemeenplase kan dink, die grootste cliché van almal rond deur “brandewyn-en-Coke” by te haal:

“Dit was nou regtig ’n Boer-om-die-braaivuur-brannas-en-Coke-stuk skryfwerk, Charles. Goedkoop populisme wat Julius Malema jaloers sou maak.”

Die gedagte dat Max, die ou papsak-takhaar wat enige opgevoede Europeër of Afrikaner op straat vir ‘n boemelaar of bergie sou aansien, nou as “smaakarbiter” optree om mense links en regs te snobeer, is uiters lagwekkend. Dit herinner my aan iets uit Idi Amin se Uganda: Idi met die rits medaljes op sy uniform moet ons beïndruk. Net so verkeer papsak-Max onder die indruk dat hy ‘n aristokratiese fynproewer is wat vir ons die Nuwe goeie maniere en etiket moet aanleer!

Max die snob, wat op ons Afrikaners neersien. Ai. Ek herinner my daar het iewers ‘n foto van Max verskyn waar hy by Riebeeck-Kasteel of waar hy ook al deesdae wegkruip afgeneem is en waarin hy kompleet soos Jochem van Bruggen se “Ampie” lyk, in ‘n kortbroek, hemp wat oorhang en stukkende skoene. Die skoene wat Max dra, is in elk geval so lelik dat hulle eerder stukkend kan wees, dan sal hulle ‘n tikkie mooier lyk. Ongelukkig kon ek nie Max se “Ampie”-foto vind nie, maar het wel op die foto hier bo afgekom waar Max tesame met die Boerehaat-fotograaf, David Goldblatt, op ‘n verhoog verskyn. Max verag Afrikaners maar aanbid mense soos Goldblatt, Slovo of Nadine Gordimer en elke ander Boerehater wat daar nog ooit in Suid-Afrika voet aan wal gesit het. Op die foto dui ek enkele elemente van papsak-Max, die superghwar wat uit die gopse gesteier het om sy heil in agtertangse linksheid te vind, se “styl” aan.

Keanu Reeves met vellies
Keanu Reeves met vellies

‘n Mens vra jou af: Watse skoene dra Max? Is dit tekkies, hardloopskoene of die Litause interpretasie van vellies? Die tradisionele Afrikaanse velskoen is ‘n funksionele, eerlike en landelike skoenvorm wat deesdae wêreldwyd hoog mode is. In Engeland, Australië en elders noem hulle dit ‘n “desert boot” of “chukka boot”, in so ‘n mate dat die Engelse selfs daarop aanspraak maak dat húlle dit eerste begin dra het en nie ons nie.

As Max maar vellies gedra het. Helaas. Miskien trek hy drolbruin hardloopskoene aan selfs as hy slaap sodat hy beter van sy verlede af kan weghardloop, daardie verre verlede toe hy nog ‘n vurige NP-ondersteuner was, iets waaraan wyle Chris Louw ons so gereeld herinner het. Dan is daar Max se hemp wat uithang, moontlik om ‘n papsak vaaljapie wat hy iewers vir koerasie saamdra, te kamoefleer.

As ‘n mens die res van papsak-Max se dronkverdrietige opeenstapeling van clichés oor hoe ons net aan “luide swart intellektuele, beroepslui en politici” mag “fluister” lees, klink dit soos iemand wat sy Stockholm-sindroom bely. Terwyl Max ons teen die “brandewyn-en-Coke-Boere” soos Charles Smith waarsku, vrees hy eintlik die swartman wat dalk gewelddadig mag raak as ons nie “mooi en saggies praat” nie. Hoe rym dit? ‘n Mens moet seker nie logika by ‘n ylende papsak-skollie met sy afgryslike skoene en kleredrag soos Max verwag nie, maar het dit nog nooit tot hom deurgedring dat dit dalk presies die soort “rassisme” is waarteen hy ons waarsku nie? Hy praat selfs van die “swart driftiges” wat ons moet paai. Waarom moet hulle gepaai word? Almal in Suid-Afrika is mos nou vry om onbeteueld te sê en te doen wat hulle wil? Enkele jare gelede nog het papsak-Max, soos Thabo Mbeki destyds, afrosentries geargumenteer dat Afrika beskaafd was nog voor die Europese barbare in die Kaap anker gegooi het. Volgens Max se eie logika behoort die “swart driftiges” mos vrye teuels gegee te word dat die tweede revolusie kan plaasvind en ons land die utopie kan word waarvoor dit nog altyd bestem was? Waarom is hy dan nou so bang vir Charles Smith se “provokasie”?

Kyk weer na die foto hier bo. Agter Max en sy Boerehatervriend, David Goldblatt, pryk die lelikste skildery wat daar nog ooit in ‘n “roekelose” (om papsak-Max se woord te gebruik) oomblik geverf is. Dit voltooi as’t ware die prentjie. ‘n Mens hoef nie Nietzsche te gelees het om te verstaan dat daar ‘n verband tussen swak smaak en swak idees is nie. Max met sy lelike drolbruin straatsmousskoene beskik oor ewe afskuwelike idees. Dis ‘n allegaartjie – assiette anglaise oftewel ‘n deurmekaar Engelse bord soos die Franse sê – van vooroordele en gemeenplase. Vooroordele teenoor Afrikaners, want Max is mos ‘n bekeerde jingo, asook gemeenplase oor apartheid en die gewaande nasleep daarvan. Hoe meer Suid-Afrika in ‘n moeras van korrupsie en geweld versink, hoe harder sanik papsak-Max oor “apartheid”. Alles is mos apartheid se skuld. Kan ‘n mens so eenogig en fundamentalisties wees? Dis hoog tyd dat ons van “apartheidfundamentalisme” begin praat. Dis die geloof of bygeloof in ons land dat alles wat verkeerd loop aan “apartheid” of die “nalatenskap van apartheid” toegeskryf kan word.

Naby die einde van papsak-Max se artikel raak hy nogal die volgende skoenmetafoor kwyt:

“Dit sal natuurlik help as ons ­blekes probeer om onsself in ons swart landgenote se skoene te plaas en te wonder hoe ons dan in vandag se Suid-Afrika en instellings soos die universiteite op Stellenbosch, Potchefstroom en Bloemfontein sou gevoel het.”

Sover ek kan sien, is die meeste swartes in ons land nogal uitspattig geskoei en bestee hulle soveel aan skoene as wat Afrikaners op hul kinders se skoolfonds uitgee. As ek soos die Amerikaanse skrywer Tom Wolfe wou aantrek, sou ek daaraan kon dink om my “in swartes se skoene te plaas”. Verder word die gemiddelde swart student by ‘n Afrikaanse universiteit net op die hande gedra en kom hulle dikwels deur waar ‘n blanke student sou druip.

Feit is egter dat die afbrekende revolusionêre wat al hoe meer in beheer is – die swart betogers en ontlastingstrooiers fungeer maar net as hul marionette – die kampusse as ‘n volgende “operasionele teater” geïdentifiseer het. Die redes daarvoor is voor die hand liggend:

Solank as wat daar iewers nog Afrikaanse lesings gehou word, bestaan die gevaar dat daar weer soos tydens die twintigste eeu ‘n taaloplewing, gevolg deur ‘n nasionalistiese beweging onder Afrikaners self, mag plaasvind. Dít wil ons heersers ten alle koste vermy. Vandaar dus die oorlog wat daar teen ons taal op kampusse verklaar is.

Die ander probleem waarmee ons oorheersers sit, is dat daar steeds honderde Afrikaners met nagraadse kwalifikasies is wat poste aan ons universiteite beset. Die plan is om hulle met ideoloë te vervang en solank alles nie 100% Engels is nie, kan sulke ideoloë nie so gemaklik “ontplooi” word nie. Daarom word die swart en bruin marionette teen Afrikaans opgestook, want van die werklose linkse ideoloë soek baantjies.

‘n Goeie voorbeeld is wat met die voormalige RAU gebeur het. Die oomblik toe dit as die “University of Johannesburg” verengels en verswart is, het ‘n hele eksodus van sogenaamde “akademici” vanuit Wits en Kaapstad plaasgevind en ekstremiste soos Steven Friedman het daar nes gemaak. Wanneer daar van “transformasie” gepraat word, beteken dit ook dat enige oorblywende Afrikaanse dosente met Engelstalige linkses en neomarxiste vervang moet word. ‘n Paar werfbobbejane soos Piet Croucamp bly natuurlik oor om hul nuwe base se voete te soen en die indruk van etniese suiwering te versag.

Soos ek nou die dag in my brief aan die Business Day geargumenteer het, verteenwoordig die huidige veldtog teen Afrikaans op kampusse ‘n ooglopend georkestreerde poging. Dit het baie min met “swart frustrasie” te make en meer met die georganistreerde strategie om Afrikaners al hoe verder te marginaliseer. Uiteindelik moet ons uit die land verdryf word sodat ander alles wat ons voorouers opgebou het, ingepalm kan word; as ons nie fisiek uitgewis word nie. Want waarom konstante propaganda- en haatveldtogte in die massamedia teen ons voer as daar nie vir ons ‘n gewelddadige einde in die vooruitsig is nie? Ek ly nie soos papsak-Max met sy afskuwelike skoene aan vae, Freudiaanse vrese vir swart geweld nie; ek maak bloot ‘n logiese gevolgtrekking. Ook moet ons nie die boosheid van ekstreemlinkses onderskat wat gedurende die twintigste eeu tienmiljoene mense in die naam van gelykheid laat uitmoor het nie. Oor die hele gedoente op die kampusse waak die leier van die SA Kommunisteparty, met die gepaste naam “Blade” Nzimande. Dalk wil hy nie net Afrikaans “lem” nie, maar ook die mense wat dit praat en daarin klasgee…

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.