Migrante-krisis aanstons in Luxemburg bespreek

Deel op

Die migrante-krisis in Europa sal op 14 September in Luxemburg bespreek word.

Ongunstige publisiteit oor die dodetal van omwettige aankomelinge wat reeds in hul tog oor land en op see omgekom het, noop EU-lidlande om te reageer.

Minstens 2 500 migrante is sedert Januarie vanjaar dood, van wie die meeste in die Middellandse See verdrink het.

Die migrante vlug van armoede in die Midde-Ooste en Afrika, asook chaos wat Amerikaans-gesteunde rebelle en NAVO in Sirië en Libië gesaai het.

Luxemburg, waar die roterende EU-voorsitterskap gesetel is, het die ministers van al 28 lidstate versoek om op 14 September te vergader en gesê: “Die situasie van die migrasieverskynsel buite en binne die EU het die afgelope tyd ongekende afmetings aangeneem.”

Die Duitse kanselier Angela Merkel, het vroeër ‘n beroep op lidlande gedoen om ook die las te dra aangesien Duitsland verwag dat die getal asielsoekers in 2015 in dié land viervoudig tot omtrent 800 000 gaan toeneem.

“Indien Europa solidariteit het en ons solidariteit teenoor ander bewys het, dan moet ons ook nou solidariteit wys,” het sy aan verslaggewers in Berlyn gesê. “Alles moet nou vinnig gebeur.”

Merkel het erken dat die groot getalle migrante na die land, tot ingrypende verandering kan lei, met meer as 18 000 vlugtelinge wat die afgelope naweek Duitsland binnegestroom het.

Volgens marknavorsing het bykans die helfte van bevolking voorbehoude oor die getal migrante wat in Duitsland toegelaat word.

Duitsland het vroeër bekend gemaak dat hulle 31 000 migrante sal inneem.

Luxemburg het gesê die vergadering sal fokus op die beleid om migrante terug huis toe te stuur en maatreëls om mensesmokkelary te voorkom.

Die Italiaanse kuswag het gesê bykans 1 600 mense is die naweek in die Middellandse See gered en na Italië gebring.

Sekere regerings weier om vlugtelinge in te neem en het die EU se voorstelle teengestaan om nog meer onwettiges te akkomodeer.

Kiesers van links en regs is gekant teen die instroming. In Nederland, Oostenryk en Frankryk groei die steun vir regse anti-immigrasiepartye. In Duitsland is daar benewens kritiek uit Merkel se eie politieke sentrum-geledere, ook teenkanting van links.

Die Italiaanse premier, Matteo Renzi, het gesê die groeiende dodetal sal druk op die EU-state plaas om die probleem te konfronteer. “Dit sal maande duur, maar ons sal een Europese beleid oor asiel hê en nie soveel beleide soos wat daar lande is nie,” het hy gesê.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.