Prooi van menigtes

Deel op

ImageOnlangs haal Tim du Plessis van Rapport vir dr. Xolela Mangcu van Wits en Harvard as volg aan met ‘n sinnetjie: Ras + nasionalisme + staatsmag = tragedie. Die geskiedenis het die waarheid van hierdie matriks wêreldwyd as geldig bewys.

 

Deel op
Soos bogenoemde matriks, bestaan daar ook ander bewese waarhede soos byvoorbeeld: multikulturele bevolkings + demokrasie + groepsregte = vrede en voorspoed, soos byv. in die Europese Unie. Die keersy hiervan is: multikulturele bevolkings + demokrasie  groepsregte = tragedie, wat ten beste in Afrika se geskiedenis weerspieël word.

In artikel 185 maak Suid-Afrika se Grondwet voorsiening vir bevolkingsgroepe om hulself binne nasionale rade te orden. Daardeur kan hulle op internasionaal aanvaarde groepsregte binne die grondwet aanspraak maak. ‘n Regering kan egter nie groepsregte aan gemeenskappe toeken en beskerm as ‘n minderheid nie as omlynbare entiteit bestaan en daarop aanspraak maak nie.

Sommige Afrikaanse kultuurleiers verkies om te glo dat daar ‘n soomlose gemeenskap van Afrikaanses behoort te bestaan; ‘n veelrassige gemeenskap wat Afrikaans as taal deel. Hulle verwerp en veroordeel dus enige pogings om hierdie Afrikaanssprekende gemeenskappe as verskillende etniese entiteite met verskillende behoeftes te erken.  

Pogings om ‘n verteenwoordigende Afrikanerraad op te rig word as gevaarlike etniese mobilisering bekryf. Dit sal, volgens hulle, aan die bruin gemeenskap aanstoot gee. ‘n Soomlose taalgemeenskap is reeds ‘n werklikheid in die vermaaklikheidswêreld, die koerantwese, godsdiensbeoefening en op literêre gebied. Dit vorm die basis vir die omlyning van die gemeenskap van Afrikaanses.

Die Afrikaanse Taalraad wat in Meimaand vanjaar op Wellington gestig is, het waarskynlik ‘n onuitgesproke doel om ‘n soomlose Afrikaanstalige gemeenskap as ‘n sosio-politieke entiteit korporatief saam te snoer.  

Alet Rademeyer berig op 27 Julie in Beeld dat ’n leesbevorderingsprojek, gesprekke met die regering oor die nasionale taalwet wat nog nie in werking getree het nie en stappe om iets te doen aan die verminderde subsidie vir die werksaamhede om die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) as projekte te begin. Dit wil dus voorkom  dat die nuwe taalraad se hoofdoel sal wees om die mark vir Afrikaanse gedrukte media uit te brei.

In sy Praagartikel, “Afrikaans, die Grondwet en jy,” (2006) hanteer Prof F.I.J. van Rensburg maniere hoe elke landsburger sy taalregte deur die bestaande kanale kan beskerm. Sy artikel wentel grootliks daarom dat Afrikaners hul taalregte amptelik kan opeis. Maar hoe doen Afrikaners dit as ‘n groep enkelinge?  Met ‘n gepaste en konflikterende organisasiekultuur sal die nuwe Taalraad waarskynlik daardie rol kon vervul, maar sy samestelling sal hom waarskynlik verhoed om die staat plaaslik en internasionaal in die howe aan te vat.

Kan ‘n literêre organisasie dus ooit die plek inneem van ‘n verkose etniese kultuurraad wat deur die regering as outentieke verteenwoordigende raad vir ‘n volksgroep erken word? Hoe beskerm Afrikaners hul straatname, dorpsname, kultuurerfenisse, moedertaalonderrig op sekondêre en tersiêre vlakke? Kan aktiviste-organisasies dit vir hulle doen?

Aktivisme word beskryf as doelbewuste aksies wat op politieke of maatskaplike verandering gerig is. Hierdie aksies ondersteun of opponeer een kant van ‘n omstrede standpunt en word gewoonlik geassosieer met protes. Dit manifesteer in verskillende gedaantes soos straatoptogte, briewe in koerante en aan politici, ekonomiese veldtogte deur sekere besighede te boikot of selektief te steun en sluit selfs musieksaamtrekke en kunsfeeste in. ‘n Voorbeeld hiervan is Afriforum se beplande musiekfees by die Voortrekkermonument op 15 November.

Aksionisme is die oormatige beklemtoning van aksie, bedrywigheid en verandering en hou verband daarmee. Aktivisme en aksionisme wil dus die status quo verander en is nie op soek na stabiliteit en langdurige bestendigheid nie.

Vakunies en nie-regeringsorganisasies is tipiese aktivistegroepe wat deesdae gereeld in die nuus is. Onthou u die onlangse optogte gelei deur Steve Hofmeyer en amptenare van die vakunie Solidariteit en sy burgerregte arm Afriforum, na Oom Paul se standbeeld?  Dit was ‘n tipiese voorbeeld van ‘n goed georkestreerde aktivisteveldtog.

Aktiviste-organisasies speel ‘n uiters belangrike rol in die bewusmaking van die owerhede om aandag op bepaalde knelpunte te vestig. Hulle is egter nie statutêre organisasies nie en word ook nie as amptelike verteenwoordigers van ‘n volksgroep beskou nie. Ten beste verteenwoordig sulke organisasies hul opbetaalde lede se belange. Hulle sal wel omstrede sake, wat in hul lede se belang geag word, in die howe verdedig. Aktiviste organisasies se aksies is dus daarop gemik om sy ledetal uit te brei sodat sy kontantvloeistroom jaarliks sal versterk. Die aksies moet dus baie sigbaar wees en die televisie speel ‘n groot rol daarin.

In ‘n land soos Suid-Afrika, met sy uiteenlopende etniese groeperings. is daar egter ander behoeftes ook. Die land se liberale grondwet reël die verhouding tussen individu en staat, en tussen individue. Aangesien Suid-Afrika, wat allerweë as ‘n kommunitêre land beskou word, ook die behoefte het om die verhouding tussen die staat en kultuurgroepe te reguleer, is die sogenaamde Artikel 185 Kommissie in 2002 gepromulgeer. Die doel van die Kommissie is om die regte van godsdienstige, taal en kultuurgroepe te beskerm en uit te bou.

Die onlangs gestigte Afrikaanse Taalraad, waarvan ek vroeër melding gemaak het, kan dus by die 185 Kommissie om amptelike erkenning registreer. Maar aangesien Afrikaanssprekendes uit verskillende kultuurgroepe bestaan, en aangesien taal maar slegs een aspek van mens se kultuurbelewenis is, kan die Afrikaanse Taalraad nooit ‘n verkose Griekwaraad of Verkose Sanraad of Verteenwoordigende Boereraad vervang nie.

Daardie rade is reeds op soek na erkenning deur die staat asook die internasionale gemeenskap. Hulle eis die status van inheemse kultuuretniese volksgroepe, wat op die internasionale beskerming van hul minderheidsregte geregtig is. Sulke regte val op die gebied van internasionale ooreenkomste en samewerking. Suid-Afrika, as ‘n mede-ondertekenaar van daardie ooreenkomste en protokols, is ook daardeur gebonde.

‘n Nasionale Griekwaraad bestaan reeds. Die Griekwas is die Afrikaners reeds strate vooruit met betrekking tot beskeming van hul groepsbelange en om die moontlikhede te ontgin wat binne die grondwet bestaan. Die Sangemeenskap wil volgens berigte nou die Kalahari as historiese en tradisionele grondgebied opeis vir territoriale selfbeskikking.

Intussen verlaat Afrikaners hulle hoofsaaklik op aktiviste-organisasies om hul kultuurerfenisse in die plaaslike howe te beskerm. Erfenisse soos plekname, monumente, straatname, moedertaal onderrig, skool kurrikulering, amptelike diskriminasie in die werkplek, ens. is almal internasionaal beskermde minderheidsregte.  ‘n Amptelike Afrikanerraad daarenteen, sou hom direk op die internasionale gemeenskap kon beroep en die onwettige optrede van die RSA regering aan die kaak stel, iets wat burgerregte-aktiviste nie suksesvol kan doen nie.  

Solank daar dus nie so ‘n amptelike raad bestaan nie, word die gaping vir die staat gelaat om met sy etniese suiweringsveldtog na hartelus voort te gaan. Dan word dit nie as regte beskou wat aan ‘n minderheidsvolk behoort nie, maar bloot as herskryf van die geskiedenis wat ‘n interne beleidsmaatreël is. Dit wil dus blyk dat slegs internasionaal erkende en omlynde minderheidsvolke, wat deur die staat erken word, se groepsregte deur die internasionale protokols beskerm word.

Amptelike erkenning deur die 185-Kommissie asook deur die internasionale gemeenskap sal outomaties volg. Daar is tans ongeveer vyftig aktiviste- en kultuurorganisasies wat hulself vir Afrikaners se belange beywer. Hulle kan op ‘n konfederale grondslag by die raad affilieer, elk met behoud van sy eie grondwet, visie, doelstellings, leierskap en agenda, maar wat op nasionale vlak vergader om brandpunte te ondersoek.

Soos die Swazi’s, Zoeloes, Ndebeles, Sjangaans en Xosas almal Nguni’s is, is al die Nguni’s nie Zoeloes nie. Netso is die Boere, en  ander wit Afrikaanssprekendes almal Afrikaners, maar alle Afrikaners is nie Boere nie. Die deel van die Afrikanergemeenskap wat die sterkste kultuuretniese gevoel besit, is die groep wat hulself die Boere noem.  Hulle sal waarskynlik saam met die Griekwa — en Sanrade ook een van die eerste erkende minderheidsvolke wees.

Intussen verseg Afrikaners se kultuurleiers met hul politiek korrekte beheptheid om die totstandkoming van ‘n Afrikanerraad te ondersteun. Hulle verkies ‘n strategiese alliansie met die bruin volke, ‘n strategie wat byna twintig jaar gelede deur die Afrikaner Broederbond geformuleer was.

Hulle besef klaarblyklik nie dat ‘n strategiese alliansie tussen Afrikaners en die Bruin gemeenskap baie minder politieke en finansiële wins vir die Bruin gemeenskap inhou as laasgenoemde se huidige “voorheen benadeelde” politieke status.

Wat het Afrikaners vir die ‘kleurlinge’ gedoen om hul menswaardigheid en sosiale status op te hef?  Bitter min.  Dit was die swart oorheersde ANC-regering wat sportkwotas opdwing, wat agt bruin spelers in die nasionale krieketspan laat kies het, wat hul sport-, akademiese en beroepsleiers op die hoogste vlakke laat aanstel en wat bruin studente vir studiebeurse laat keur. Wat kan maglose Afrikaners hulle bied as hulle reeds die mag besit om hulself polities, maatskaplik en ekonomies doeltreffend te bevoordeel?   

Om dus na Tim se matriks terug te keer: Ras + nasionalisme + mag = tragedie. Afrikaners is egter ‘n magtelose kultuurgemeenskap. Binne die ANC se Afrosentriese omgewing, het hulle derhalwe geen alternatief as om hulself korporatief te orden sodat hulle doeltreffend na hul groepsbelange kan omsien deur die internasionale magshefbome tot hul voordeel in te span nie.   

Die alternatief is ‘n stille aanvaarding van hul lot as prooi van die menigtes.

набор полицейскогоФильчаков

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.