Ondersoekbeampte na lugambulans-ongeluk skielik afgedank

Deel op

Die Suid-Afrikaanse hoofondersoekbeampte van die vliegongeluk van die lugambulans van E-Med Rescue 24 op 16 Augustus by Kaapstad, is in die pad gesteek, het die Republikein berig.

Die Namibiese direktoraat van vliegtuigongeluk-ondersoeke het ’n e-pos van die Suid-Afrikaanse burgerlugvaart-kantoor ontvang dat die hoofondersoekbeampte, mnr. Jan du Plessis, nie meer daar werk nie. Die e-pos het geen redes of verdere inligting oor Du Plessis verskaf nie. Dit het bloot aangedui dat mnr. Ahmed Motala die nuwe hoofondersoekbeampte na die ongeluk is. Motala het juis saam met Du Plessis die ongeluk ondersoek.

Geen bevestiging kon van die Suid-Afrikaanse owerheid gekry word dat Du Plessis afgedank is nie.

Motala het teen druktyd nog nie op vrae per e-pos van Republikein geantwoord nie en Du Plessis se selfoon was afgeskakel. Die Suid-Afrikaanse ondersoekspan sou volgens die Namibiese direktoraat van vliegtuigongeluk-ondersoeke Dinsdag in Windhoek aangekom het om onderhoude met belanghebbendes van die ongeluk te voer. Die Suid-Afrikaanse ondersoekspan het egter sy besoek op kort kennisgewing gekanselleer en dit na volgende week uitgestel.

Afsprake met belanghebbendes was reeds vir Dinsdag gemaak, maar dit moes uitgestel word.

Die voorlopige ongelukverslag is ook nog nie deur die Suid-Afrikaanse owerheid aan die Namibiese direktoraat beskikbaar gestel nie.

Volgens standaard prosedure moet die verslag vroeër, maar nie later nie as 30 dae ná die ongeluk, uitgereik word.

In lugvaartkringe word bespiegel dat ’n nuwe hoofondersoekbeampte vele implikasies vir die ondersoek sal meebring en Du Plessis word as ’n deskundige op dié gebied beskryf.

Die Cessna 441 Conquest-lugambulans het op Sondag 16 Augustus om 02:00 van Eros-lughawe vertrek en ’n pasiënt, mnr. Gabriel (Gawie) le Roux (80) en sy dogter, me. Charmaine Koortzen (49) om 04:00 op Oranjemund vir ’n noodlvug na Kaapstad opgelaai.

Die ambulansvliegtuig het midde ongure weer en chaos in die lugruim bo Kaapstad teen ’n heuwel in die Contermanskloof op die wynplaas Maastricht naby Durbanville vasgevlieg, neergestort en in vlamme uitgebars. Daar was geen oorlewendes nie. Die Namibiese bemanning het bestaan uit die hoofvlieënier, mnr. Steven Naudé (53), medevlieënier, me. Amore Espag (23) en paramedikus, mnr. Alfred John Ward (23).

’n Gesamentlike roudiens is verlede week vir die slagoffers in Windhoek gehou. Gedenkstene sal by die ongelukstoneel op Maastricht ter ere van die slagoffers opgerig word.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.