Leon Lemmer: Willie Esterhuyse oor godsdiens en politiek

Deel op

Willie Esterhuyse (gebore in 1936) het bekend (of berug) geword weens sy aandeel in die algehele magsoorgawe aan die ANC. Sy politieke rol het in alle erns begin met die publikasie van sy boek Afskeid van apartheid (1979). “Dit was, in sekere sin, my alternatiewe Credo van ‘n Afrikaner soos deur AP Treurnicht vertolk in 1975” (Esterhuyse se 2009-boek, kyk hier onder, p 20). Daarna het hy in sy boek Die pad van hervorming (1982) versoening tussen Afrikaner- en swart nasionalisme bepleit. In 1987 het hy uit die Afrikaner Broederbond bedank. Hy het vervolgens ‘n boek gepubliseer oor die rol wat hy in die onderhandelings met die ANC gespeel het: Eindstryd: Geheime gesprekke en die einde van apartheid (2012). Hieruit blyk sy verbintenis tot die ideale van die swart meerderheid en die versaking van die belange van die blankes en veral die Afrikaners. “Ek het toe [1993] al lankal weggestap van die NP se idee van groepregte en minderheidsveto’s” (2012, p 299). Hy is ongetwyfeld medepligtig aan die politieke opset wat ons sedert 1990/1994 ervaar.

As eertydse NG Kerk-teoloog is daar ook ‘n ander sy van Esterhuyse wat hy belig: sy vervreemding van die christelike godsdiens. Dit vind vergestalting in twee boeke: God en die gode van Egipte (2009) en Die God van Genesis (2010). Politiek en godsdiens is onderwerpe wat vervleg kan word, “heel onheilig met mekaar hand op die blaas … staan” (Esterhuyse se 2015-boek, kyk hier onder, p 15), des te meer in Suid-Afrika waar daar graag, soos en wanneer dit aktiviste pas, ‘n beroep op moraliteit gedoen word. “Wanneer die politieke mag verval en daar demokratisering intree [soos in Suid-Afrika in 1990/1994], verval ook die godsdienstige mag” (2009, p 161). Wat onder meer uit die genoemde vyf boeke blyk, is hoe Esterhuyse hom kultureel geïsoleer het deur eers sy ligte/elektrisiteit (Afrikanerskap) en daarna sy water (christelike godsdiens) af te sny.

Esterhuyse se jongste boek, Geagte Jahwe (Tygervallei: Naledi, 2015, 164p, R219), het onlangs verskyn. (Tensy anders vermeld, is al die bladsyverwysings na hierdie boek.) In hierdie boek onderhandel Esterhuyse nie met die ANC (die Duiwel?) nie, maar met God. Die teks bestaan uit elf briewe wat hy aan Jahwe geskryf het. Hy verkies om die term Jahwe te gebruik, die Judaïese naam vir God; ‘n naam wat deur Jode so heilig geag word dat dit nie uitgespreek mag word nie. “Ek het geskryf dat ek my briewe nie aan ‘God’ nie, maar ‘Jahwe’ rig. Hierdie naam van U is vir my sagter op die oor en meer speels op die tong. U onthou seker goed dat dit in vroeë tradisies nie uitgespreek is nie; dit was sonder klinkende vokale [JHWH]” (p 148-149). Gelowiges in die Judaïes-Christelike tradisie kan Esterhuyse se teks aanstootlik vind. Die oorvloed hoofletters wat in die teks voorkom, veral “U”, is tipografies-esteties steurend. Ook die talle vrae wat die outeur deurlopend vra en waarop daar nie geantwoord word nie.

Die voorbeeld wat Esterhuyse hier stel, kan die begin van ‘n nuwe mode wees. Byvoorbeeld, Piet Matipa begin sy jongste rubriek met: “As ek ‘n dinner date met die Here gehad het” (Netwerk24, 4 deser). Sy teks wemel van Engelse woorde. Met die kelner praat Matipa net Engels. Dit is die soort joernalistiek wat deesdae deur Naspers/Media24 bevorder word. In die plek van wat tradisioneel heilig was, het nuwe heilighede, soos politieke korrektheid en transformasie, gekom.

Esterhuyse se trant is ook hinderlik. Daar is ‘n sprekende naïwiteit in die eensydige dialoog wat Esterhuyse probeer voer, aangevul met pogings tot misplaaste humor of gevatheid; dinge wat myns insiens baie lesers sal vervreem. “Dit is nie moeilik om sinies oor u ‘beelddraer’ [die mens] en skepping te wees nie” (p 28). Hy verwys na Piet Cillié (p 17). Nog voordat ek daarby gekom het, het ek gedink Esterhuyse se trant herinner my aan dié van Trinkie (1982). Die hele boek is deurspek met frases soos “U dra seker kennis van” (p 14), “Het U al tyd in u ewigheid ingeruim om” (p 15), “soos u weet” (p 19),”U weet mos” (p 19) en “U is bekend met” (p 20). Al hierdie voorbeelde kom uit die eerste brief. Esterhuyse gaan elke keer voort om te vertel wat (dalk) reeds deur Jahwe geweet word.

Sy boek herinner in sekere opsigte aan die briewe, Praat verby grense (2010), wat Frits en Laurie Gaum aan mekaar ten bate van homoseksualiteit geskryf het. Die een vertel soms vir die ander wat hy reeds weet. ‘n Korrespondensie-opset word versin om ‘n boodskap by die lesers tuis te bring. Insgelyks bestaan Esterhuyse se teks uit briewe wat vir mense geskryf is om te lees. Dit is onnodig en ‘n beslommernis om te skryf asof met Jahwe gekommunikeer word. Sommige lesers kan hierdie metode as heiligskennis ervaar. Iemand soos Johan Degenaar, teologies omstrede soos hy was, sou nooit hierdie roete gevolg het nie. In sy elfde en laaste brief vra Esterhuyse uiteindelik twee nugtere vrae: “Waarom briewe aan ‘n ‘Vader’ skryf wat nie kan antwoord nie? Is dit nie so ‘n bietjie absurd, ‘n tam oefening nie?” (p 142-143).

Die verhaal oor Jahwe (bv die Bybel) is volgens Esterhuyse “nie histories waar nie” (p 15), “heelwat mense … reken U antwoord net nooit; en is ‘n woordlose, swygende God. Ander sê weer U is fiksie, ‘n mite” (p 21). Later formuleer Esterhuyse sy standpunt duideliker. Oor die Bybel sê hy: “Ek dink nie hierdie boek is heilig nie. Dit is net nog ‘n boek” (p 152). “Ek is nie meer ‘n kerk- en Christenmens in die geykte sin van die woord nie … Ek het ‘n … reuseprobleem met die idee van ‘n persoonlike skeppergod” (p 40-41). “Die gedagte van ‘u wil’ … is hoogstens ‘n ‘troosredenasie’ … Ek dink nie U het ‘n ‘wil’ … nie. Jahwe, ek glo daar is net ‘n mense-wil” (p 91). Dit is “vir my godsonmoontlik dat U regstreeks ‘n rigtinggewende hand in die geskiedenis en in mense se oorwinnings en nederlae het” (p 97). In sy 2009-boek (p 189) het Esterhuyse geskryf: “Ná Auschwitz kan ‘n mens nie meer meganisties in die wil van God en sy voorsienigheid glo nie.”

Let vervolgens op Esterhuyse se loslit-benadering van die nagmaal. Hy verwys na die Maltese kruis, ‘n rotsformasie in die Sederberg naby Clanwilliam. “U weet seker ook dat ek dikwels die heilige Nagmaal, u sakrament, aan die voet van daardie kruis aan die stappers bedien het? Met Coke en Provita!” (p 111). “So kan U sien: Jahwe, God en Heilige Skrif is niks meer en niks anders nie as menslike metafore” (p 150). [Metafoor: “Oordragtelike, figuurlike uitdrukking wat op ‘n vergelyking, ooreenkoms berus, die beeld in die plek van die eintlike voorstelling plaas” (HAT).] “Jahwe, dís wat U vir my is: ‘n Metafoor waaroor daar ‘n teks en tradisie bestaan wat my help om sin van my lewe te maak omdat u boodskap my spiritueel, moreel en prakties inspireer” (p 153). Later erken hy dat hy die “woord ‘metafoor’, wat ek gebruik om sin van my morele oriëntering te maak, beter moet omskryf” (p 160), maar hy is (nog) nie in staat om dit te doen nie.

“Jahwe, by ‘n afskeid van U as ‘n persoonlike God wat vanuit u hemel, Raadsplan in die hand, álles gemaak het, oor álles beskik (selfs lewe en dood) en met allerlei bedoelings en wilsbesluite mens en wêreld ‘bestuur’ … Ek beskou hierdie posisie van geloof as ‘n vorm van fundamentalistiese fantasie … Ek glo nie in U as ‘n persoonlike God wat alles geskep het, oor alles beskik, my wel en wee bestuur, en allerhande bedoelings met mense, met my en met die wêreld het nie. Ek het weggestap van die geykte Godsbegrip” (p 159). Die “goddelike Vaderfiguur” is volgens Esterhuyse gegrond in die “paternalistiese kultuur”. Die skildery op die plafon van die Sistynse Kapel in Rome noem hy “Michelangelo-fiksie” (p 160). By diegene wat na sy vorige boeke nog getwyfel het, kan na sy jongste boek nie meer in onsekerheid oor Esterhuyse se Godsbegrip verkeer nie.

Maar sy vorige boeke maak reeds duidelik waar hy staan of waarheen hy op pad was. Die boek Eksodus word beskryf as ”n sameflansing van ‘n verskeidenheid kampvuurstories en godsdienstige praktyke van woestyntrekkers op pad na hulle beloofde land” (2009, p 35). Die antieke Egiptiese storie van Osiris, Isis en Horus het Esterhuyse “bevry van die dogmatisme van die Christelike godsdiens, veral die ‘geloofsartikel’ dat ‘óns geloof’ die alléénsaligmakende geloof is” (2009, p 92). “Dis nie gode of God wat tekste heilig maak omdat hulle regstreeks goddelike openbarings bevat nie. Heilige tekste, ‘die Skrif’ ingesluit, is niks anders en niks meer nie as die getuienisse van mense se uitsonderlike ontmoetings en ervarings” (2009, p 135).

Esterhuyse ver-ANC die Bybel. Hy erken: “Dit [is] so maklik om die Bybel te misbruik” (2010, p 283). Moses word “‘n bevrydingsleier: die Nelson Mandela van die Jode” genoem (2009, p 238). Ek sou graag wou hoor wat Jode hiervan dink. “Die tema van geregtigheid oorheers in die Ou Testament” (2009, p 239). “Die profetiese tradisie was … primêr ‘n bevrydingstradisie” (2009, p 240). “Transformasie, herskeppende herstel en versoening … was die kern van die profetiese tradisie. Vanaf Jesaja en Miga tot by Jesus … moes [jy] jouself identifiseer as ‘n geroepene, ‘n aktivis vir die droom van geregtigheid, ‘n vryheids- én vredestryder … toe kom Jesus met sy storie oor institusionele geregtigheid, oor reg vir die onderdruktes” (2009, p 246). “‘God’ is, wat my betref, die energie van hierdie inspirasie. Jesus, sy ‘Seun’, is sy rolmodel – ‘n bepaalde inkarnasie of vleeswording van die geregtigheidsdroom” (2009, p 248). “Daar is nie iets soos ‘n … volksgod nie … Die Afrikaners se volksgod was ‘n ramp” (2009, p 250). Maar ‘n ANC-God mag blykbaar maar deur Esterhuyse staangemaak word. In sy 2010-boek (p 198) borduur Esterhuyse hierop voort: “As daar ooit ‘n godsdienstige en morele revolusionêr en aktivis was, dan was dit Jesus van Nasaret.”

Wat Esterhuyse doen, is om sy vertolking van die Bybel by sy ANC-gesinde politiek aan te pas. Sy politiek het ‘n evolusie van Broeder tot die Mandela/Mbeki-ANC deurloop. Esterhuyse vestig die aandag op die evolusionêre vertolking van sowel die Godsbegrip as die Bybel. Robert Wright se boek, The evolution of God (London: Abacus, 2010, 567p), handel oor dieselfde onderwerp, maar doen dit veel beter, bv meer wetenskaplik, omdat Wright hom nie met die foefie van ‘n gesprek met God, oftewel briewe aan Jahwe, besig hou nie. Wright maak dit bv duidelik dat Bybelse liefde aanvanklik hoogstens toegeneentheid jeens medegelowiges beteken het en eintlik glad nie ‘n prominente rol in die Bybel (veral die Ou Testament) speel nie. Die oorbeklemtoning van naasteliefde, selfs op ‘n wêreldskaal, is ‘n redelik onlangse verskynsel, wat vorm ooreenkomstig die politieke behoeftes van bv bevrydingsteoloë aangeneem het.

Soos in sy vorige boeke hou Esterhuyse daarvan om sy jongste teks met outobiografiese besonderhede te garneer. Hy vertel van sy oupa, pa en ma, sy jeug op Laingsburg, sy studie in die filosofie en teologie op Stellenbosch en in Nederland, op watter datum hy verjaar (p 24), sy “groterige skoueroperasie” (p 45), dat hy al jare lank aan sooibrand ly (p 59), sy vrou ‘n wiskundige is (p 144), hulle nou in (die luukse woonbuurt) Paradyskloof woon, ens. Tussen 2003 en 2012 het hy (en sy vrou) Malta vier keer besoek. Sy briewe verwys veral na die Malta-besoeke, maar hou ook “verband met ‘n hele paar ander reise waarvan ek dié na Egipte, Jordanië, Italië en Sisilië moet uitsonder” (p xi). In sy 2009-boek (p 22) skryf hy dat hy Egipte agt keer besoek het. In sy 2012-boek (p 156) noem hy dat hy “‘n paar dae na Londen [was] om die verjaardagpartytjie [van ‘n joernalisvriendin] by te woon.” Esterhuyse se oorsese besoeke klink so talryk soos die reise van ‘n ANC-minister. Die apostel Paulus “het wyd en ver gereis – iets wat ek ook graag doen” (p 44). Ek het die indruk dat (baie van) diegene wat by die politieke magsoorgawe betrokke was, finansieel (baie) goed daaraan toe is. Hulle was by die “voerbakke” (2010, p 140). Nogtans kla Esterhuyse met die wit brood onder sy arm: “Maar ek kan dit as pensioenaris en bejaarde nie meer bekostig nie” (p 143). In sy 2009-boek (p 131) skryf Esterhuyse: “Morele status is belangriker as materiële status.” Slaag hy hierdie toets?

Esterhuyse sal nie oor bv godsdiens en die geskiedenis skryf sonder om na die politiek te verwys nie; nie net die politiek van lank gelede nie, maar veral die onlangse Suid-Afrikaanse politiek. In sy 2012-boek (p 170) skryf Esterhuyse oor sy tienerdogter se uitlating: “Maar Thabo Mbeki kan tog nie ‘n terroris wees nie?” In sy jongste boek eet Esterhuyse dit steeds vir soetkoek op. Hy vertel dat Mbeki se vrou tydens ‘n middagete in Lusaka, toe hulle nog ANC-bannelinge was, “in hulle woonplek u seën vir ons saamwees en ete gevra het” (p 31). Dan volg Esterhuyse se vraag aan Jahwe: “Hoe is dit godsmoontlik dat ‘terroriste’ u seën vir ete en vir die saamwees kan vra?” (p 31). Die Tambo’s het ook op hulle christelikheid geroem, maar Oliver het in 1985 gevra dat “die ‘stryd’ na wit woonbuurte geneem moet word” (2012, p 87). Die hoogheilige Desmond Tutu, tydens ‘n besoek aan Amerika in 1986, “had raised the prospect of attacks on white South African schoolchildren and of black servants poisoning their employers’ morning coffee” (John Allen, Rabble-rouser for peace: The authorized biography of Desmond Tutu, London: Rider, 2006, p 263). Pleks van die onomstootlike feit van ANC-terrorisme te erken, probeer Esterhuyse dit as ‘n “konstruk” (‘n gedagtespel) afmaak. Met spesifieke verwysing na Mbeki skryf hy: “Ek wou … die konstruk van ‘terroris’ ondermyn” (2012, p 142).

“Ek is mos ‘n aanhanger van die idee van die kreatiwiteit van konflik” (p 36, ook p 138). “Oorlog is eintlik ‘n bedekte seën, want dit bind mense as slagoffers saam” (p 51). In die konteks van republiekwording in 1961 (wat hy verkeerdelik in 1962 plaas) verwys Esterhuyse na die “gewaande verbondsvolk” en Hendrik Verwoerd. Aan die een kant die “politieke laaggety” (Afrikanernasionalisme en apartheid) en aan die ander kant die “revolusionêre springgety” (swart nasionalisme, kommunisme en terrorisme). In sy 2009-boek (p 177) skryf Esterhuyse van die Jode: “As verbondsvolk het hulle … die reg gehad op anderheid en ‘n eie identiteit.” Al sou die Afrikaners nie ‘n verbondsvolk wees nie, het hulle myns insiens die reg (selfs plig) om hulle andersheid, hulle identiteit, te handhaaf. Esterhuyse ontken hierdie fundamentele reg vir die Afrikaners. Volgens hom is groepregte in die nuwe Suid-Afrika taboe, maar as meerderheidsgroep mag die swartes maar hulle belange ten koste van minderheidsgroepe bevorder.

Esterhuyse neem waar dat “die ideologie en praktyke van apartheid ook dwarsdeur begraafplase gekerf het” (p 58). Op Laingsburg is die wittes, Jode en Indiërs elk in aparte gebiede begrawe. “My bruin taal- en meestal geloofsgenote was verder verwyder en ‘eenkant'” (p 58). Begraafplase, soos dié op Laingsburg, laat Esterhuyse tot die volgende gevolgtrekking kom: “Nie tekens van ‘oorlewing’ van Afrikaners nie, maar tekens van werklik voorgeskrewe en staatsgereguleerde kollektiewe en rasgedrewe diskriminasie” (p 58). Dwarsdeur die wêreld word bv Jode en Indiërs egter in aparte begraafplase begrawe. Dit het met hulle verskillende gelowe te make en nie met apartheid nie. Soos gebruiklik sonder Esterhuyse Afrikaners vir sy kritiek uit en dan dink hy net aan apartheid. Maar daardie beskrywing, “voorgeskrewe en staatsgereguleerde kollektiewe en rasgedrewe diskriminasie,” is ook op die ANC se beleid van toepassing. Dink aan gedwonge rasse-integrasie, grondonteiening, swart ekonomiese bemagtiging, regstellende aksie en al die vergrype wat onder die sambreelterm “transformasie” gepleeg word, insluitende taal- (bv anti-Afrikaans-) diskriminasie.

Hou ook in gedagte dat “transformasie”, wat tans daagliks so ‘n verpestende uitwerking op veral eens Afrikaanse universiteitskampusse het, glad nie bloot op gesonde of akademies sinvolle verandering dui nie. Jaap Durand, die vader van die Belhar-belydenis, vertel dat hierdie term met groot sorg uitgesoek is om so ‘n revolusionêre (dus omwrigtende/vernietigende) impak moontlik te hê. Hy behoort te weet, want hy was en is “hand op die blaas” met die ANC. Hy en Jakes Gerwel het toegang tot die kommunistiese siel van die ANC gehad. Transformasie is deel van die ANC se kommunistiese ideaal om hierdie land (en idealisties die hele wêreld) om te dop. Durand sê nie tydens watter ANC-byeenkoms hulle op die term “transformasie” besluit het nie. Deur bloot hierdie term te gebruik, word ‘n mens egter reeds by die ANC se agenda betrek.

“Al het die woord ‘transformasie’ ‘n modewoord geword, sal ons hierdie oproep in ons land nouliks verstaan as ons die emosionele geladenheid van die woord nie begryp nie. Binne die Suid-Afrikaanse konteks is diep en kragtige emosies in hierdie woord versteek. Dit het sy beslag gekry in ‘n tyd van protes en verset teen die politieke bestel van apartheid, toe daar gesoek is na die sterkste woord moontlik om uitdrukking te gee aan die soeke na verandering. ‘Verandering’, ‘hervorming’ en dergelike sinonieme is almal geweeg en te lig bevind, ongeag dat hulle dieselfde beteken; dat hulle werklik sinonieme is. Daar is gesoek na ‘n woord wat dit sou duidelik maak dat niemand tevrede gaan wees met oppervlakkige veranderings en skynhervormings nie. Dit het die protesteerders en die versetstryders in die woord ‘transformasie’ gevind. Hulle het hierdie woord gelaai met al die erns en emosie waaroor hulle beskik het. In die lig hiervan is dit begryplik dat daar op verskillende terreine voortdurend gekla word dat transformasie nog nie plaasgevind het nie en dat wit bevoorregting steeds voortduur” (Jaap Durand, Ontluisterde wêreld, Wellington: Lux Verbi, 2002, p 10).

Soms duik daar ‘n sprankie hoop vir Esterhuyse se politieke insig op, al het hoop “blykbaar ‘n [beperkte] rakleeftyd” (p 151). “Vryheid en voorspoed sónder veiligheid en relatiewe vrede is ‘n droom. Dieselfde geld vir versoening. Jahwe, hoekom anders bou mense ‘mure’ en omhein hulleself? … Veiligheid (orde) is die grondslag vir vrede en voorspoed” (p 92). [In sy 2009-boek (p 110) skryf Esterhuyse dat “beskawing en vooruitgang nie sonder orde moontlik is nie.”] Later opper hy die moontlikheid dat die geweldenaars ‘n ingeboude “fabrieksfout” het (p 131), wat op ‘n tekortkoming in hulle DNS kan dui. In sy 2012-boek (p 114) skryf Esterhuyse: “Ek het altyd ‘n sterk morele standpunt teen geweld ingeneem, veral geweld wat daarop gemik was om politieke en ander vorme van mag oor mense te verkry.” Maar ‘n mens wonder hoe diep hierdie weersin in geweld sit, want dit het Esterhuyse nie weerhou van hartlike samewerking met die ANC nie en ook nie van verering vir geweldenaars nie. Hy verwys na wat hy ‘n “baie oortuigende argument” van Mbeki noem: “As die ANC toegelaat word om soos enige politieke party te funksioneer, sal die geweld ook hanteer kan word” (2012, p 248-249). Sedert 1994 word die ANC-regering toegelaat om geweld te hanteer. Slaag hy daarin of misluk hy klaaglik?

Esterhuyse vestig die aandag op “die verval van instellings [soos die Universiteit Stellenbosch?] en lande [soos die nuwe Suid-Afrika?]” (p 132). Hy verwys na “institusionele verval” en “instellings wat inplof” (p 133). Maar besef Esterhuyse dat dit presies is wat aan sy alma mater plaasvind; dat dit is wat Open Stellenbosch aanvuur om die institusionele kultuur te transformeer en dat Wim de Villiers gewillig saamdraf? Esterhuyse wens/hoop blykbaar eerder vir die vernietiging van sowel Afrikaners as Afrikaans: “Nóg ‘die volk’ nóg ‘die taal’ is ‘n skeppingsordinansie! Dit is veranderlikes” (2010, p 253). Esterhuyse het sy mantel gedraai. Voorheen het hy die aanvoorwerk gedoen om vir PW Botha ‘n US-eredoktorsgraad te gee. Nou klop hy homself op die skouer omdat hy “help bemiddel” het sodat aan Nelson Mandela ‘n soortgelyke akademies waardelose sertifikaat toegeken kon word (2012, p 302-303).

Esterhuyse kan (dalk tereg) daarop aanspraak maak dat hy die eerste persoon was wat beswaar teen die bestaan van vyf Afrikaanse universiteite geopper het en die gedagte help vestig het dat Afrikaans as ‘n struikelblok/uitsluitingsmeganisme vir swart studente funksioneer (Pieter Kapp, Maties & Afrikaans, Pretoria: Protea Boekhuis, 2013, p 63). Hy het hom selfs teen die aanstelling van dosente op grond van akademiese meriete uitgespreek sodat meer swart US-dosente aangestel kon word. Mense wat hieroor anders as hy dink, ly glo aan “Christelik-nasionale opvoedings- en verdienstekultuur” (Kapp, p 93). Dalk is Esterhuyse hoogs tevrede noudat nie net Afrikaanse universiteite iets van die verlede is nie, maar Afrikaans as onderrigmedium ook onder druk is, onder meer weens die geweldskultuur; iets waarvan hy hom (teoreties) gedistansieer het.

In sy 2012-boek (p 23) skryf Esterhuyse tereg “dat akademici aan tradisioneel Afrikaanse universiteite ‘n hoë vlak van akademiese onafhanklikheid en vryheid geniet het”. Maar dan gaan Esterhuyse nie verder en vergelyk dit met die situasie in die nuwe Suid-Afrika nie. Byvoorbeeld, aan die Stellenbosse Kweekskool was daar destyds altyd afwykende stemme, dosente wat teen apartheid te velde getrek het. Dink aan Bennie Keet, Willie Jonker en Nico Smith. Deesdae kom daar geen geluid uit die US se fakulteit teologie wat enigsins as anti-ANC bestempel kan word nie. Wat ‘n mens hoor is bv pro-Belhar-, pro-feministiese en pro-gay-geluide. Het hierdie fakulteit, wat die Koopman/Boesak-fakulteit genoem kan word, al ooit gebid vir die terroriste, wat die verskriklikste misdade gepleeg het, en vir die onskuldige slagoffers, wat die prooi van hierdie onbeskaafdheid was?

Amptelike ANC-lojaliteit geld eintlik die US in sy geheel. Aan die Universiteit Vrystaat het Jonathan Jansen ‘n verpligte indoktrinasiekursus vir alle eerstejaarstudente ingestel. Die US het pas aangekondig dat hy dieselfde gaan doen. Dit druis in teen die grein van ‘n egte universiteit, wat ‘n markplein vir die vrye uitruiling van idees moet wees. Tydens apartheid was daar baie meer vrye akademiese denke as tans. Oor hierdie kernsaak laat Esterhuyse hom nie uit nie.

Die anti-kerklike, anti-Afrikaner- en anti-Afrikaansstandpunt van die Laingsburger Esterhuyse is nie nuut nie. Dít is “‘n feit soos … ‘n windpomp op ‘n Karoovlakte” (p 151). Hy het voorheen geskryf: “Veral sedert 1979 het dit vir my al moeiliker geword om na die ortodokse gebulk van die Afrikanerbulle in die Groot Kraal (staat, kultuur en kerk) te luister” (2009, p 21). Dit kan deels aan sy Bloedsap-agtergrond toegeskryf word. Sy pa was “in murg en been ‘n ‘Smuts-man'” (2009, p 31).

In die nawoord by die Jahwe-briewe skryf Esterhuyse: “Uit ‘n skreef in die tempelmuur [op Malta] het ‘n swart-bruin-akkedis verskyn. Blinkvet my nuuskierig op en af bekyk” (p 163). Wat het hierdie akkedis van Esterhuyse gedink? Ek het ‘n spesmaas maar moet liewer nie sê nie.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.