Grafte skielik onder Medupi ontdek

Deel op

‘n Tweede impakstudie by Eskom se Medupi-kragstasie in Ellisras (Lephalale), Limpopo het gelei tot die ontdekking van verskeie swart grafte, het eNCA berig.

Die onafhanklike assessering wat deur Mbofho Consulting gedoen is, het ‘n totaal van 20 “erfenisplekke”, wat sewe grafte insluit, op die terrein van die kragstasie ontdek.

Eenheid Ses van Medupi is Sondag amptelik geopen deur President Jacob Zuma en word beskou as die antwoord op Suid-Afrika se kragleweringsprobleem.

‘n Paar swart gesinne kla nou oor “pyn en swaarkry” wat die konstruksie veroorsaak het, omdat hulle sê dit is gebou oor die grafte wat hul kommunikasie met voorvadergeeste belemmer het.

Gesinne sê hulle is nie in staat om toegang tot die grafte te kry nie en hulle voel “verlate en ontkoppel”.

“Destyds was daar ‘n berg waarheen ons gegaan het en sodra ons met die voorvaders gepraat het, het ons nie gesukkel om reën te kry nie, maar nou dat dinge deurmekaar is – weet ons nie wat om te doen nie,” het een van die eisers, Piet Mokawe gesê.

Die gesinne sê hulle is nie geraadpleeg toe die eerste erfenisimpakbeoordeling plaasgevind het voor die konstruksie begin het in 2007 nie.

Eskom sê terwyl hulle die bevindinge van die mees onlangse impakstudie aanvaar, het hulle net geweet van een graf toe daar met konstruksie begin is in 2007.

“Vanuit ons oogpunt is daar geen definitiewe bewyse nie en die rede waarom ek dit sê, is terwyl Eskom besig was om die OIE (omgewingsimpakstudie) te doen, het ons ‘n professionele mening ingewin, argeoloë se raad gekry, om die plek te inspekteer,” het Abram Masango, ‘n waarnemende uitvoerende beampte van Eskom gesê.

Die families wil hê President Jacob Zuma moet ‘n reinigingseremonie by die kragstasie bywoon.

“Medupi het ‘n fout gemaak deur nie die gesinne te raadpleeg wie se grafte daar is nie en dit is hoekom ons al hierdie probleme het,” het ‘n plaaslike tradisionele geneser, Lazarus Seodisa aan eNCA gesê.

Die reinigingseremonie moet Zuma insluit, sowel as al die tradisionele genesers en hoofde van Limpopo, het Seodisa gesê en bygevoeg dat ‘n koei en ‘n bok vir elke graf geslag moet word.

“Ons moet met die voorvaders oor Lephalale en Medupi praat. Die maatskappy moet suksesvol wees sodat ons kinders werk sal hê.”

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.