Vragmotor vol ontbindende lyke verhoog migrante-krisis

Deel op

Die ondraaglike stank van ontbindende lyke van 71 onwettige immigrante in ’n verlate vragmotor in Oostenryk het gelei tot die inhegtenisname van vyf mense.

Die lyke was die van 59 mans, agt vroue en vier kinders wat in die vrag­ruim toegesluit was. Die vragmotor is Donderdag verlate langs die hoofweg tussen Boedapest en Wene gevind, naby die Hongaarse grens.

’n Siriese reisdokument is aan een van die lyke gevind.

Volgens aanduidings het die smokkelvrag al minstens 24 uur daar gestaan. Die mense het vermoedelik versmoor in die digsluitende houergedeelte wat met draad toegedraai was.

Drie Bulgare en een Afgaan is Saterdag in hegtenis geneem, maar hulle hou vol dat hulle onskuldig is. Een van die mense wat in hegtenis geneem is, is vermoedelik die eienaar van die vragmotor. Hy is van Bulgaars-Libanese oorsprong.

Die polisie in Hongarye het Maandag ‘n vyfde verdagte vasgetrek.

Die lyke was reeds in ‘n gevorderde stadium van ontbinding en die polisie vermoed dat die onwettige immigrante reeds twee dae dood was voordat hulle ontdek is.

Lykskouings word nou gedoen en die uitslag sal binnekort beskikbaar wees, het die Oostenrykse staatsaanklaer, Johann Fuchs, gesê.

Die polisie probeer nog vasstel van waar die res van die oorledenes gekom het.

Oostenryk se minister van binnelandse sake, Johanna Mikl-Leitner, het gesê die voorval sal hopelik dien as ’n wekroep tot gesamentlike optrede deur Europa.

“Die beste manier om die krisis te hanteer, is om wettige roetes na Europa te skep eerder as om grensbeheer te verskerp.”

Melissa Fleming, woordvoerder van die Verenigde Nasies se vlugtelinge-agentskap in Genève, het die voorval as “absoluut skokkend” bestempel.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.