Madelein Louw: Poetin, Zuma en Verwoerd se ‘nukes’

Deel op

Sodra koerante na ‘nukes’ verwys, laat dit lesers aan atoombomontploffings en kernoorlog dink. Daarom gebruik wit beheerde liberale koerante in Suid-Afrika die woord “nukes” met opset wanneer hulle na Poetin en Zuma se kernkragvoorstelle verwys.

Hoofstroom- wit beheerde koerante in Suid-Afrika, beide Engelse en Afrikaanse meningsvormers, is deurgaans grensloos beledigend anti-Poetin en anti-Zuma. Poetin en Zuma laat hulle egter nooit-ooit onderkry deur liberale politieke opponente nie. Poetin en Zuma het vir verskeie jare onvermoeid saamgewerk aan Suid-Afrika se grootskaalse kernkragprogram.

Drie persone moet al die krediet kry vir Suid-Afrika se komende kernkragbouprogram. Hulle is Mnr Poetin, Mnr Zuma en Dr Verwoerd.

Dr Verwoerd het Suid-Afrika se kernnywerheidsbedryf beplan en Zuma se kernprogram moontlik gemaak. Tydens die NP-Broederbondbewind is die eerste twee grootskaalse kernkragreaktore gebou, asook hulle brandstofstaafvervaardigingsaanleg, ook lae- en hoë-uraanverrykingsaanlegte, asook wereldklas- medisinale isotoopreaktors soos SAFARI I en II.

Danksy Verwoerd en die Afrikanerstaat, is Suid-Afrika in 2015 gereed vir Poetin en Zuma se kernkraguitbreidingsprogram. Alle regulasies, kodes, kundigheid, fasiliteite, prosesse en organisasies is in plek, danksy die bedryf en instandhouding van die NP se Koeberg- en Pelindaba-aanlegte, asook die Afrikanerkernkragkorrelbedprogram. Die gesonde Suid-Afrikaanse kernbedryf se personeelsamestelling voldoen nie aan die ANC se dom regstellende-aksie-kwotas nie, en danksy Zuma word kundige blanke werknemers in spesialisposte beskerm.

Poetin het in 2005 persoonlik ingegryp by Rusland se kernkragreaktorontwerp. Met behulp van Duitse vriende soos die destydse kanselier Shroeder, het Poetin gesorg vir die modernisering, optimisasie en standardisasie van ‘n Afrika-en Japan-bestande kernkragreaktor, die VVER1200-TOI met vele Duitse tegnologie-insette. TOI staan vir Technology Optimised for Information, en die reaktorbedryf word vanuit Rusland gemonitor, maak nie saak waar op aarde die reaktore gebou is nie.

Soos wat Verwoerd die vader was van Suid-Afrika se wêreldbeste kernbedryf, so is Poetin die persoonlike vader van die wêreld se beste kernkragreaktor- en kernkragvoorsieningsketting.

Poetin het persoonlik seker maak dat die veilige VVER1200 vinnig en foutloos opgerig kan word. Europese maatskappye soos Outokumpu verkies nou Poetin se reaktor bo die duur EPR1500 van die Europese Areva. Areva is bankrot en sonder nuwe reaktorbestellings. Met die EPR1500 het Areva al die konsepsuele fout gemaak wat Poetin spesifiek vermy het met sy VVER1200. Vir Poetin was ‘n internasionaal suksesvolle VVER1200 persoonlik lewensbelangrik, asook ‘n vereiste vir die ekonomiese oorlewing van Rusland.

Poetin bied verskeie finansieringsmodelle aan kliënte. Dit is ‘n feit dat laertemperatuurstoom en laerdrukstoomkernaanlegte se basisladingkrag vir die eerste 20 jaar 20% duurder is as die meer effektiewe superkritiese-stoommynmondsteenkoolaanlegte soos Medupi en Kusile, maar vir die volgende 40 jaar daarna is hulle 50% goedkoper.

Suid-Afrika se kusstede het nie steenkoolmyne nie, en daarom het Verwoerd en die Nasionale Party vir Kaapstad, Bantamsklip naby PE, en Gansbaai gesoneer om basisladingkrag aan kusstreke te lewer.

Met die ultrahoëspanninglangafstandkragtransmissiekabel wat die NP-regering tussen die Kaap en Transvaal gebou het, kan kernkragaanlegte aan die Kaapse kus ook nou krag na die binneland van Afrika uitvoer teen wins.

Poetin het aan Zuma ‘n wêreldbeste aanbod gemaak. Suid-Afrika word nou reeds deel van Rusland se globale kernvoorsieningskanaal, en agent vir VVER-aanlegte in Afrika. Boonop sal Poetin vir Zuma help om weer kernbrandstof in Pelindaba te vervaardig, asook om Suider-Afrikaanse uraan weer in Pelindaba te verryk.

Vir Zuma en sy Zoeloe-binnekring van Zoeloeland in hulle strategies geleë KZN-magsbasis, is dit van absolute langtermynoorlewingsbelang om nie soos Gadaffi van Libië weerloos teen VSA-bomdreigemente te wees nie.

Iran het nou deur sy Russies gesteunde kernkragprogram bewys dat dit moontlik en relatief maklik is om Libië-tipe bombardemente en regeringsomverwerping deur die VSA en Europa te vermy.

Danksy Verwoerd en Afrikanerkundigheid, en danksy Poetin, gaan Zuma probeer om van Zoeloeland en D’Urban ‘n langtermynmagsbasis in Suider-Afrika te maak.

Alhoewel meer kernkragstasies langs die koue kus die DA in die Kaap op die lange duur onafhanklik van Eskom-steenkoolkrag uit die ou Transvaal maak, en die ou Kaapkolonie dus polities onafhanklik van die ANC kan maak, stry die DA en hulle liberale Afrikanerondersteuners in die Wes-Kaap tans kortsigtig teen basisladingkernkrag.

Zuma het egter die kernkragprogram met Poetin meesterlik hanteer, en selfs die Chinese aanbod van Amerikaans gelisensieerde reaktore getroef, deur China ook in die Zuma-Poetinprogram vir Afrika in te lyf. Poetin het die konsep van ‘n globale voorsieningsketting briljant vir bemarking gebruik. Dit is ‘n wen-wen-wenprogram vir Zuma, Poetin en Xi, en verloor-verloor vir Europa en Amerika.

Wat sou Verwoerd hiervan gedink het?

Tydens Verwoerd se bewind het Frankryk se soewereine president, Charles de Gaulle, ‘n anti-Amerikaanse en anti-NAVO-beleid gevolg, en die NP-Suid-Afrika met onder meer kernkragtegnologie gehelp. Koeberg is een gevolg daarvan.

Sonder enige twyfel sou Verwoerd vandag ook ten nouste met Rusland se Poetin saamgewerk het.

En wat sou Verwoerd van die tradisionele Zoeloe Zuma se kernkragprogram gedink het?

Weens Harry Oppenheimer en Harry Shwarz se invloed oor en advies aan Buthelezi, het Zoeloeland nooit staatstatus en internasionale erkenning bereik nie. Hierdie feit kan gesien word as die rede vir die mislukking van Groot Apartheid as veelvolkige konfederasie en geïntegreerde kontinentale superstreeksmag. Hierdie einste mislukking het gelei tot ‘n traumatiese groot magsvermindering van Zoeloemag in Zoeloeland-KZN, wat geëindig het in die Tweede Zoeloeburgeroorlog van die 1990’s met tienduisende ongevalle.

Jacob Zuma self was deurslaggewend in die beëindiging van die Tweede Zoeloeburgeroorlog, en die herrysing van Zoeloeland-KZN as ‘n Suider-Afrikaanse magsbasis.

Histories, van die 19de tot die 21ste eeu, en geopolities gesien, sedert die dae van Andries Pretorius, deur na HF Verwoerd, FW de Klerk en tot vandag toe, is Zoeloemag gelyktydig gekorreleer met Afrikanermag en omgekeerd.

Rusland en Poetin beteken vandag meer vir Afrikanerpolitiek as Rusland tydens die ABO. Zuma en Zoeloeland se soewereiniteit en langtermynoorlewing is afhanklik van Denel se winsgewende Afrikanerwapentegnologieverkope en NECSA se Afrikanerkernkragkundigheid.

Al is Afrikanerkultuurskeppers- en waardeerders vandag magteloos en staatloos, dit wil sê sonder die vermoë tot effektiewe aksie, beënvloed hulle verlede vandag steeds die geskiedenis, grotendeels deur middel van Zuma as tradisionele Zoeloe wat van Zoeloeland-KZN ‘n politieke magsbasis gemaak het – dít wat apartheidteenstanders en Afrikaneropponente juis wou verhoed.

Vir tradisionele Westerlinge wat glo aan identiteitslewe na die dood, sou mens kon skryf dat Verwoerd en PW tans waarneem: Zoeloe Zuma doen nou presies wat ons as Afrikaners ook sou gedoen het.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.