Eskom ontken dat Medupi al R300 miljard kos

Deel op

Konstruksie van die Medupikragstasie by Ellisras (Lephalale) in Limpopo, sal na verwagting teen 2019 voltooi wees, en sal ten minste R105 miljard kos, het Eskom Sondag gesê.

“Daar is berigte dat die projek R300 miljard sal kos … ons weet nie waar die syfer vandaan kom nie,” het Abram Masango aan joernaliste gesê tydens die amptelike bekendstelling van Eenheid Ses by Medupi.

President Jacob Zuma het vroeër Eenheid Ses geopen – die eerste van Medupi se ses eenhede wat voltooi moet word – en wat na verwagting minstens 800 MW elektrisiteit aan die sukkelende nasionale kragnetwerk sal lewer.

Masango het gesê die laaste eenheid, Eenheid Een sal in 2019 voltooi word en sal na verwagting in 2020 gekommersialiseer word.

Die projek, bekend as “Projek Alpha”, het begin met drie eenhede in 2007, en is later uitgebrei tot ses eenhede.

Eskom se uitvoerende hoof, Brian Molefe het aan ANA gesê werkers by Medupi sal toegerus wees met verskeie vaardighede nadat die kragstasie voltooi is.

“Mense sal Medupi verlaat met goeie vaardighede, en sal kan werk as ambagsmanne op enige plek in die wêreld.”

Toe hy gevra is hoe Eskom enige verdere moontlike vertragings by Medupi sal verhoed, het Molefe gesê streng nakoming van projekspertye sal geïmplementeer word.

“Ons gaan streng projekbestuurbeginsels toepas en almal kry om te fokus op die taak op hande … ons het lesse geleer, ons sal seker maak dat sperdatums nagekom word.”

Die oorspronklike bedrag wat begroot is, was R69 miljard toe die aanleg begin is in 2007.

Medupi moes vier jaar gelede geopen gewees het, maar die konstruksie is vertraag deur arbeidsonrus, wat glo gelei het tot stygende kostes van miljarde rande.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.