Swartvlek onder beheer terwyl markte in Ooste groei

Deel op

Sitrusboere in Suid-Afrika is nie verleë oor die EU se besware teen ‘n sogenaamde swam op hul produkte nie.

Sitrusinvoere na Europa is voorheen gestaak weens vrese oor swartvlek. Dié stap is deur talle ontleders gesien as ‘n manier om Suid-Afrikaanse produkte uit die mark te hou tot voordeel van ander produsente.

Die EU koop sowat 43 persent van Suid-Afrika se sitrus-uitvoere.

Maatreëls om swartvlek te bestuur, voldoen tans aan die Europese Unie (EU) se vereistes. Dit is glo tot so ‘n mate onder beheer gebring dat invoere hervat kan word.

Dit is luidens die jongste verslag van die EU se voedsel- en veeartsenykantoor.

Alhoewel Europa die grootste mark verteenwoordig, het plaaslike sitrusboere nuwe markte in Asië ontgin.

Klein vragte word reeds na China en Indonesië sowel as Suid-Korea verskeep, waar die aanvraag groei.

Die uitvoerende hoof van die Sitrusgroeiers-vereniging, Justin Chadwick sê daar is steeds ‘n risiko dat die EU in die toekoms strenger maatreëls kan instel.

Die plaaslike sitrusbedryf verskaf werk aan sowat 100 000 mense en uitvoere verteenwoordig 80% van ‘n jaarlikse omset van R9,4 miljard.

Intussen het die minister van water en sanitasie, Nomvula Mokonyane verklaar dat droogtetoestande in Suid-Afrika na verwagting vir die volgende drie jaar kan voortduur.

Sy het aan afgevaardigdes by die Wêreldwaterweek in Swede gesê volgens navorsing sal die ongunstige weerstoestande tot minstens 2018 voortduur, wat tot ondergemiddelde reënval sal bydra.

Die departement het reeds noodtoestande weens watertekorte in dele van die land verklaar, veral in KwaZulu-Natal.

Mokonyane sê die regering sal voortaan op waterbesparing fokus.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.