Dan Roodt: Kan Afrikaners en Afrikaans dié genadelose aanslag oorleef?

Deel op

Tale en kulture het deur die eeue uitgesterf. Ons sal nooit weet of daar ‘n groot letterkunde of manjifieke idees in daardie tale bestaan het nie. Selfs Latyn, wat eens op ‘n tyd die taal van die hele Europa was word nie meer gepraat nie. Byna daagliks lees on berigte oor hoe Afrikaans verder uit die universiteite, die skole, die howe en ander instellings geweer word. Dit is asof Suid-Afrika se Engelse taalnasionalisme toeneem soos wat die hele stelsel op alle gebiede begin misluk.

Soms voel dit vir my asof daar byna minder Afrikaners as Yslanders in die wêreld oor is. Vroeg-vroeg ná die ANC-oorname het regter Johann Kriegler, die ou Bloedsap-Boerehater, mos in ‘n Afrikaansvyandige uitspraak ten gunste van Mary Metcalfe en die Gautengse onderwysdepartement ‘n onsamehangende vergelyking tussen die Suid-Afrikaanse taalsituasie en dié van Ysland getref. Daar is maar 300 000 Yslanders, waarvan omtrent 90% in een stad, Reykjavik, woon. Is daar nog 300 000 Afrikaners oor? Want rondom jou hoor jy hoe ons mense al hoe meer Engels word, met die meer afskuwelike aspekte van die Britse kultuur soos bier drink, rugby en krieket wat by ons oorheers. Eens was daar Afrikaanse terme vir rugby, maar deesdae praat sowel die rugbyspelers as ondersteuners Engels sodra hulle na hul sport verwys. Dis die “coach” en die “team” en die “pass” en die opponent wat ge-“tackle” word, as hulle nie sommer al hulle Afrikaans vergeet nie, veral op die TV.

Verengelsing gaan dus gepaard met vervlakking, soms amper ‘n volslae verlies aan beskawing. Want die hoeveelheid mense wat nog ordentlike boeke in Afrikaans lees, neem ook sterk af ten gunste van ontspanningslektuur. Nie dat ek teen ontspanningslektuur beswaar het nie, maar as dit ál is waartoe die skrywers en lesers in ‘n volk in staat is – ontspanning – dan heers daar kennelik ‘n probleem. Ek wonder wat iemand soos NP van Wyk Louw, ons groot digter, dáárvan sou gesê het.

Dan praat ‘n mens nie eens van die soort filistynse houdings wat daar in “die media” jeens Afrikaans en die Afrikaanse letterkunde heers nie. Die manewales van die Britse koningshuis of rugby of watter sanger of sepiester volgende gaan skei, is die onderwerpe waaroor die oorblyfselfs van die Afrikaanse koerantwese geobsedeer is.

Dit herinner my aan die situasie van die tien mense in Boccaccio se Dekameron wat in ‘n huis op die platteland vergader om van Die Pes weg te kom en daar verhale aan mekaar vertel. Die Dekameron word as een van die grondtekste van die Europese Renaissance  beskou. Selfs tydens ‘n epidemie of ‘n krisis is dit moontlik om jou daarvan af te sonder en binne die beperkings van jou eie huis of binne ‘n klein vriendekring iets groots of moois te skep.

As ons kyk na die groot krisisse wat die Afrikaner oor die afgelope twee-, driehonderd jaar moes deurmaak, dan was daar tye soos vandag toe alles verlore gelyk het. Maar die kersvlammetjie van Afrikaans en Afrikanerskap moet lewend gehou word, veral deur boek- en internetpublikasies. Buite is ons vyande – swart en Engels, maar ook toenemend die “Afrikaanse” hensopper – in beheer. Ons hele omgewing word deur hulle besoedel. Deur hul verwronge idees, beleide en haat vir alles wat suiwer en voortreflik is, saai hulle dood en verwoesting.

Vanuit die suiwer kern van Afrikaans en daardie klein groepie wat seker vandag maar enkele honderdduisend mense tel, soveel soos die Yslanders, moet die heropbou en die vernuwing iewers in die toekoms geskied. Vele van ons voorouers het juis hierheen gekom ná die verwoesting van die Dertigjarige Oorlog (1628 – 1648) in Europa, toe een derde van alle Duitsers omgekom het. Arm en haweloos het hulle op die VOC se skepe geklim en sodoende aan die Kaap beland. Dit is hul taal wat hulle doer ver in die noorde van Europa op die handelskepe van die Hanseliga gepraat het, wat ons uiteindelik gestandaardiseer en tot Afrikaans herdoop het. Vergeleke met hulle ontberinge, asook dié tydens die latere Groot Trek en Vryheidsoorloë, is ons probleme eintlik mak.

Dis egter belangrik dat daardie verfynde en kom ons noem dit maar by die polities inkorrekte naam – eurosentriese – Afrikaans sal oorleef in geskrifte en idees waarop ons en die geslagte na ons trots weer trots sal wees. As die Pes van Idees, van Engelse kolonialisme en die agterlike Suid-Afrikaanse kommunisme eers uitgewoed het.

Daar rus ‘n spesiale verantwoordelikheid op ons om die oorlewing van ons beskawing vir ons en ons kinders te verseker. Maar watter geleentheid is dit nie ook nie, noudat die maghebbers en selfs die eertyds magtige Broederbonders besluit het dat ons en ons taal nie meer belangrik genoeg is om hul verder aan te steur nie.

Selfs ons fisieke veiligheid hang daarvan af dat ons in ons denke vry en onafhanklik genoeg sal wees om die nodige oorlewingsplanne te kan uitdink. Ná die idee volg die optrede.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.