Leon Lemmer: Max du Preez oor Afrikaners en Afrikaans op Stellenbosch

Deel op

In sy jongste rubriek, “Grond skuif onder Maties” (Die Burger, 29 deser, p 11), jubel Max du Preez eintlik oor die verhoogde transformasiedruk wat daar op die Universiteit Stellenbosch (US) uitgeoefen word. Dit is duidelik dat hy verkies dat die US van weleer met wortel en tak uitgeroei word. Hy verwys na die “eeu oue mantra, ‘Stellenbosch staan vir ‘n idee'”. Hy wil hê dat daardie idee “fundamenteel … herondersoek” en tot ‘n val gebring word. Wat begrawe moet word, is die onomstootlike feit dat die US in die vorige eeu daarop geroem het dat hy die bakermat van Afrikanernasionalisme en Afrikaans (veral as universiteits- en vaktaal) was.

Daar is historiese gronde vir hierdie aansprake, dus dat die US van weleer ten minste in ‘n mate sodanige bakermat was. Du Preez wil nie ‘n voorsetting van hierdie bakermat-idee hê nie en ook nie dat die US steeds as ‘n Afrikaanse universiteit bekend moet staan nie. Selfs die beskrywing “Afrikaans geöriënteerde universiteit” is vir hom eintlik te dik vir ‘n daalder. Waarom sou Max (wie se naam as ‘n afkorting van “maksimaal” vertolk kan word) hom maksimaal van hierdie US-“idee” distansieer? Omdat hy ‘n anti(e) is wat (in ruime mate) anti-Afrikaner en anti-Afrikaans gesind is. Dit is só omdat hy hierdie twee verskynsels assosieer met wat sleg is. Afrikaner en Afrikaans is metonieme vir apartheid, wat glo mos net sleg was. Ook omdat Du Preez sy (openbare) siel (in groot mate) aan swart nasionalisme en Engels verkoop het.

Waarom wil Du Preez teen wil en dank hê dat die US ‘n spieëlbeeld van die nuwe Suid-Afrika moet wees? Omdat hy die Luister-video gekyk en bevind het dat dit “heel besadig en geloofwaardig” is. Voorheen het Du Preez, as die “apartheidsregime” teks of foto’s uitgereik het, dadelik propaganda herken en krities beoordeel. In die nuwe politieke bedeling vreet hy alles vir soetkoek op, mits dit uit een van sy gunsteling oorde kom. Hierdie video bevorder Du Preez se politieke agenda. Daarom verwelkom hy die publikasie daarvan. Hy reageer op die video soos hy dink die kykers in “Luthuli-huis, die parlement en die Uniegebou” daarop reageer. Hierdie mense is mos almal televisie- en dus ook video-geletterd, wat nie heeltemal dieselfde is as om funksioneel teksgeletterd te wees nie.

Tot watter gevolgtrekkings het die video vir Du Preez laat kom? Heel voorspelbaar: anti-blanke en anti-Afrikaanse gevolgtrekkings. Byvoorbeeld: “Is rasse-antagonisme nie eenvoudig onvermydelik op ‘n kampus wat oorwegend Afrikaans en oorwegend wit-met-‘n bietjie-bruin wil wees nie?” Ja, dit moet noodwendig ‘n mens se gevolgtrekking wees as daardie mens verkeerdelik uitgaan van die standpunt dat Afrikaanssprekendes “onvermydelik” (dus noodwendig) rasse-antagonisme (rassehaat?) aanblaas. ‘n Wins is Du Preez se insig dat dit nie net die wit minderheid is wat deur die swart meerderheid kultureel bedreig voel nie, maar ook die bruin minderheid. Dit is waarom bruin ouers onlangs in opstand teen ‘n swart skoolhoof gekom het.

Voorts vind Du Preez dit nie so maklik om voort te borduur op wat hy probeer staanmaak nie. Op Potchefstroom mag die blankes, volgens Du Preez, glo nie daarop aanspraak maak dat hulle die universiteit gebou het en dat dit daarom hulle s’n is nie. Die historiese juistheid van die blankes se aanspraak staan egter vas. Dieselfde feite is net so geldig vir die US. Die blankes moet dit gereeld ontgeld as Du Preez en sy geesgenote dinge selektief uit die verlede opdiep. Maar geldige historiese aansprake mag nie tot voordeel van blankes opgehaal word nie. Een van die Max du Preez-wette lui: Swartes mag maai waar blankes gesaai het.

Vervolgens wend Du Preez hom tot leuens deur presies die teenoorgestelde te beweer van wat as die absolute waarheid bekend is. Swart studente word glo ontmoedig om aan die US te studeer, terwyl die universiteit in werklikheid oorboord gaan om op allerhande maniere swartes na die kampus te lok. Daardie werwingsaktiwiteite kan in baie opsigte glad nie akademies geregverdig word nie. In hierdie prosesse word op skandalige groot skaal teen blankes gediskrimineer. Swart dosente word volgens Du Preez glo ook nie gelok nie, terwyl die teenoorgestelde ook hier ongetwyfeld die waarheid is. In iedere US-advertensie om poste word swartes verseker dat hulle aansoeke voorkeur sal geniet. By implikasie word erken dat, indien enigsins moontlik, teen blanke kandidate gediskrimineer sal word.

Du Preez lys die argumente wat dikwels teen die verswarting en verengelsing van die US geopper word, bv dat nie alle bruines Engels magtig is nie, dat daar twee (eintlik drie) uitsluitlik Engelse universiteite in die Wes-Kaap is, dat Afrikaans volgens die grondwet beskerm en bevorder moet word, “ensovoorts”. Ek vra my af: Waarom bruines in die argument gebruik en nie die feit noem dat sommige blankes ook Afrikaans as onderrigmedium verkies nie? Myns insiens mag blankes maar voorkeure hê en dit behoort billikheidshalwe aan hulle gegun te word, bv op grond van die ongeëwenaarde bydrae wat hulle tot die ontwikkeling en voorspoed van die land gelewer het.

Sonder om enige teenargumente aan te voer, skryf anti(e) Du Preez: “Jammer, kêrels, dit is gister se argumente. Jul meedoënlose agitasie het Afrikaans en Stellenbosch geen guns gedoen nie. Julle praat nie regtig van taal nie, julle praat van identiteit.” Volgens Du Preez is taalaktivisme en groepbeskerming taboe. Wat Du Preez hiermee erken, is dat hy en sy geesgenote die irrasionele era betree het, dat argumente geen waarde meer het nie; dat “agitasie” (bv deur vir Afrikaans se stry) teenproduktief is; dat blankes sonder slag of stoot in die FW de Klerk-tradisie moet toelaat dat swartes met hulle harde stewels oor hulle loop en opeis of vernietig wat hulle opgebou het, of wat ook al (bv kultureel) waardevol vir blankes is. Hoekom? Op grond waarvan kan swartes regte opeis wat vir blankes misgun word?

Du Preez ontken ook dat dit om taal gaan. Maar dit is so helder soos daglig dat dit om taal, naamlik Afrikaans, gaan en meer as net taal, want dit gaan ook om Afrikanerkultuur, dus om identiteit. Op grond waarvan mag swart of Afrikakultuur op die US losgelaat word, bv in die vorm van Open Stellenbosch se onwrigtende bedrywighede, maar Afrikanerkultuur, wat bykans ‘n eeu lank aan die US ingebed is, kan maar verswelg word en verdwyn?

Hoe gaan anti(e) Du Preez se ideale (of in elk geval beter) US lyk? Aan die begin van sy rubriek “Skuinskyk”, wat myns insiens erg skeef is, skryf Du Preez: “Is daar nog genoeg ruimte om iets soos ‘n ‘Afrikaans-georiënteerde’ universiteit te wees wat die taal se ‘hoër funksies’ gaan help bewaar? Miskien.” Hy bevraagteken dus die nodigheid van Afrikaans as bv universiteits- en vaktaal. Die behoud van Afrikaans op hierdie vlak is vir Du Preez opsioneel. Afrikaans kan volgens hom maar afgegradeer en verwater word tot die vlak van omgangspreek- en skryftaal. Blykbaar twyfel hy of Afrikaans tot iets in staat is wat tereg “hoër” genoem kan word, want hy plaas die frase “hoër funksies” al drie keer tussen aanhalingstekens.

Later krabbel Du Preez ‘n bietjie terug: “Die ‘hoër funksies'[van Afrikaans] kán [nie móét nie] nog bevorder word” in die nuwe “idee” wat hy vir ‘n getransformeerde US voorhou. “Afrikaanse voorgraadse studente kán [nie móét nie] nog in Afrikaans bedien word.” Hy wil nie onderrig in Afrikaans op nagraadse vlak toelaat nie. Daarvoor is Afrikaans se funksies seker nie hoog genoeg nie. (Sover ek weet, het hy nie eerstehandse ondervinding van nagraadse studie nie.) Du Preez sê nie in watter mate sy voorgestelde US voorgraads Afrikaans gaan wees nie. Hy voorsien en begeer klaarblyklik nie dat al die vakke op al die voorgraadse vlakke in Afrikaans aangebied moet word nie. Maar dít is sekerlik wat hy vir Engels verlang. Dan skryf hy vaagweg: “Stellenbosch moet liefs nie net nóg ‘n Engelse universiteit word nie,” al is dit presies die soort US wat Du Preez bevorder. Net soos die US tans, volgens hom, ‘n “bietjie bruin” is, sal Du Preez se US hom seker van ander Engelse universiteite onderskei deur (aanvanklik) ‘n bietjie Afrikaans te wees.

Du Preez wil hê dat sy voorgestelde US-model ernstig bejeen word. Daarom probeer hy om gesag daaraan te verleen deur na Nelson Mandela te verwys. Dit is mos ook ‘n geykte manier geword om ‘n rubriek op ‘n twyfelagtige hoogtepunt te laat eindig. Mandela se ideaal was glo dat “Afrikaners en Afrikaanse instellings nooit weer [dus: hulle het dit voorheen gedoen] dikbek en eenkant gaan staan nie, maar vervleg gaan word in die vernuwing wat ons Suid-Afrikaners besig is om te skep.” “Vervleg” is ‘n nuttige eufemisme vir gedwonge rasse-integrasie, asook vir blanke (veral Afrikaner en ook Afrikaans) verswelging, onderploeging, vernietiging en uiteindelike uitwissing.

Die gereg wat anti(e) Max voorsit blyk ‘n mengsel van maksimale Engelse taalimperialisme en Afrikakultuur gegrond op maatskaplike ingenieurswese/manipulasie te wees. Die brousel word nie meer verteerbaar gemaak deurdat die sousie aanvanklik ‘n bietjie wit en ‘n knypie Afrikaans bevat nie. Wanneer hy sy skepping bedien, vra Du Preez met ‘n tikkie trots: “Hoe klink dit vir ‘n nuwe ‘idee’ [vir die US]?”

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.