Leon Lemmer: Universiteit Stellenbosch: Wim de Villiers se dilemma

Deel op

‘Die vraag is of die departement van hoër onderwys nie reeds ‘n rol in die opstoking van onrus speel en dit selfs befonds nie. Wat in elk geval duidelik is, is dat die departement enige sweem van universitêre outonomie minag.’

Deel op

Wim de Villiers, die rektor van die Universiteit Stellenbosch (US), het op 1 April sy ampstermyn op die agtervoet begin. As blanke is hy in die plek van sy bruin voorganger, Russel Botman, aangestel. Daarby is hy ‘n man. As hy ‘n blanke vrou was, sou dit die kritiese, selfs vyandige, ingesteldheid jeens hom seker ietwat getemper het. In die sogenaamde nie-rassistiese en nie-seksistiese nuwe Suid-Afrika word dinge, wanneer dit blankes aangaan, in die eerste plek rassisties en dikwels ook seksisties benader. Wanneer ‘n swarte in ‘n pos aangestel word, is die mode-ingesteldheid dat dit transformatories of regstellend en dus in orde is. As dit daarby ‘n vrou is, is euforie aan die orde van die dag.

Die punt is dat die populêre houding is dat ‘n blanke en veral ‘n man nie in ‘n pos aangestel mag word wat voorheen deur ‘n swarte (insluitende ‘n bruin swarte) beklee is nie, want daarmee word ‘n doodsonde gepleeg. Dit veroorsaak immers dat terrein wat deur swartes ingeneem is deur wittes herwin is. Dit druis in teen een van die allerheiligste heilige koeie in die nuwe Suid-Afrika, te wete transformasie. In die praktyk neem transformasie of regstelling dikwels die vorm van blatante en onregverdigbare bevoordeling van swartes ten koste van blankes aan. Dit word suiwer op grond van ras- en geslag gedoen en as geregtigheid geparadeer.

Wat kon De Villiers doen om uit hierdie haglike situasie te ontsnap? Breedweg was daar twee moontlikhede. Op 1 April was hy by die vurk in sy pad. Yogi Berra, ‘n oud-bofbalspeler, het gesê: “When you come to a fork in the road, take it.” Dit is wat De Villiers gedoen het. Daarmee het hy sy lot verseël, want hy moes koers inslaan, hetsy na links of regs. Hy kon links gaan en die weg van sy voorganger, ‘n militante ANC-aktivis, bewandel. Dit is die pad van mode-politiek en druis direk in teen wat ‘n rektor veronderstel is om te wees, naamlik iemand wat so ideologies neutraal as moontlik die akademiese heil van die universiteit najaag. De Villiers moes bedag daarop gewees het dat swartes deesdae kritiekloos met haas enige wanprestasie of misbruik van hulle posisie kan wegkom, maar dat dit nie vir blankes geld nie. Sodanige dubbele standaarde is immers een van die wesenskenmerke van die nuwe Suid-Afrika.

De Villiers was vry om regs te gaan en eer aan sy rektorskap te bring deur, soos dit hoort, die akademies beste belange van sy universiteit na te jaag. Dit is om akademiese redes dat ‘n universiteit bestaan. Aan ‘n universiteit behoort die beste moontlike onderrig aan die akademies beste studente gegee te word, wat noodwendig die aanstelling en bevordering van die akademies beste dosente en navorsers impliseer. In hierdie opsig het die US in die vorige eeu ‘n trotse tradisie gevestig. Tydens die rektorskap van Chris Brink en veral Russel Botman is egter fanaties gepoog om alles wat aan die tradisionele US herinner so gou en volledig moontlik af te breek. Twee kenmerke van die US van weleer is vir verguising en vernietiging uitgesonder: dat dit ‘n inrigting vir blankes was en dat die onderrigtaal Afrikaans was. Die gesonde akademiese lewe, die uitnemende akademiese prestasies en die harmonie, wet en orde wat voorheen op die kampus geheers het, is doelbewus misgekyk. Die US van weleer was ‘n aangename en ordentlike ruimte. In die plek van akademiese uitnemendheid het Brink en daarna Botman voorkeur aan die politiek van transformasie gegee, waaruit uiters destruktiewe gevolge gespruit het wat deesdae oral op die kampus sigbaar is.

As De Villiers gekies het om die enigste eerbare weg te volg, naamlik dié van die akademie, sou dit ruggraat van hom geverg het. Dit sou van hom vereis het dat hy in murg en been ‘n akademikus moet wees; iemand wat deur voorbeeldstelling en aktiewe leiding akademiese luister aan die US kon verskaf. As hy die situasie wat hy van Botman geërf het eerlik uit die akademiese oogpunt ontleed het, sou dit vir hom duidelik gewees het dat daar taalgewys net een sinvolle oplossing vir die US se taalprobleem is: Die Afrikaanse eentaligheid van die US moet herstel word. Dit beteken dat Engels as onderrigmedium uitgefaseer moet word; iets wat heeltemal moontlik is, want dit is reeds suksesvol in die vroeë US-geskiedenis gedoen. Moreel sou ‘n uitsluitlik Afrikaanse US ook die beste wees, want dit sou die US weer in ooreenstemming bring met sy stigtingsvoorwaarde soos gestel deur sy stigtingsdonateur, Jan Marais: “De Hollandsche Taal in zijn beide vormen – dwz Afrikaans zoowel als Nederlandsch – geen minder plaats dan het Engelsch innemen zal” (JC Steyn, Ons gaan ‘n taal maak, Centurion: Kraal Uitgewers, 2014, p 183). Prakties sou ‘n enkele onderrigmedium ook sinvol wees, want die ekstra werk wat twee onderrigmediums meebring (bv duplisering van lesings, vertaalwerk en tolking) kon uitgeskakel word.

Daar kan teëgewerp word dat die uitfasering van Engels aan die US teen die politieke werklikheid van die nuwe Suid-Afrika indruis. Dit is immers ‘n feit dat die land in sy geheel grootliks onverdiend in die skoot van die ANC geval het. Die ANC se verlede en hede is van so ‘n aard dat die kamerade nie besef dat die begrip “ikoniese misdadiger” selfteenstrydig is nie. In die ANC is daar ‘n groot skeut kommunisme. Hoewel dit (feitlik) nooit openlik gesê word nie, is die kommunisme sterk in die ANC se departement hoër onderwys gevestig. ‘n Mens sou dink dit behoort dié plek te wees waar kommunisme nie geduld word nie. Wat daardie departement begeer, is gedwonge rasse-integrasie op al die kampusse van universiteite wat eens blank was. (Soos die nasionale sokkerspan mag die tradisioneel swart universiteite maar swart bly.) Die eens Afrikaanse universiteite word vir spesiale aandag uitgesonder. Die ANC se ideaal is dat hulle progressief verswart moet word, dus minstens totdat die studentekorps (en personeel) die demografie weerspieël. Wat die studente betref, moet aan twee eise voldoen word.

Eerstens moet die toelatingsvereistes verlaag word sodat “benadeeldes” die kampusse kan verswelg. Hieraan word stukrag by die toekenning van studiebeurse gegee deur swartes suiwer op grond van ras te bevoordeel. Ook word ras- en geslagsteikens of -kwotas by studierigtings ingestel sodat die getal en persentasie swart studente progressief meer en die blankes minder word. Die bevrydingsteoloog Nico Koopman, ‘n US-viserektor, het met die verregaande uitlating gekom dat dit “gelyke geleenthede vir almal” bied (US-webwerf 7 deser). Vir die ernstige en toenemende mate waarin hierdie beleid doelbewus en blatant studiegeleenthede van blankes ontneem, is daar geen simpatie nie. Dit is ‘n gedagte wat blykbaar nooit by die transformeerders opkom nie.

Iets wat nooit openlik erken word nie, is dat akademiese standaarde terselfdertyd noodwendig verlaag word. Dit word des te meer die geval omdat die owerheidsubsidie nie net bepaal word deur die getal studente wat tot studie toegelaat word nie, maar ook deur die getal studente wat afstudeer, dus die leergang vir ‘n kwalifikasie suksesvol voltooi. Daar is ongetwyfeld ook die neiging om sag met benadeelde of agtergeblewe studente te werk, want hulle akademiese toestand word nie aan hulleself toegeskryf nie maar aan die nalatenskap van apartheid. Dus, swartes word hier, soos elders, as die onskuldige slagoffers van blanke boosheid beskou.

Tweedens word vereis dat die onderrigtaal niemand mag uitsluit nie. Hier word selektief op Afrikaans gefokus. Net Afrikaans (en nie Engels nie) word geïdentifiseer as ‘n uitsluitingsmeganisme. Al die eens Afrikaanse universiteite moet dus nie net verswart nie maar ook verengels. Hierdie proses word “regstellende geregtigheid” genoem. Geregtigheid vir wie? Nie vir blankes en veral nie vir Afrikaners en Afrikaans nie, maar vir swartes wat die koloniale taal Engels verkies.

Hoe kan die US uit hierdie situasie ontsnap? Deur hom op universitêre outonomie te beroep. Dus deur te ontken dat die ANC hom die reg mag toe-eien om in akademiese sake in te meng. Maar die ANC-regering kan nie gemeet word aan dieselfde standaarde as beskaafde Westerse regerings nie. Die ANC aanvaar nie eens heelhartig die outonomie van die regbank nie. Blade Nzimande, die kommunistiese minister van hoër onderwys, het dit al uitdruklik gestel dat universiteite aan die ANC se wense moet voldoen anders sal hulle owerheidsubsidies in die gedrang kom.

Vir die US om ‘n akademiese inrigting te bly en ‘n outonome universiteit in die ware sin van die woord te wees, is die enigste uitweg om hom van die ANC-regering los te maak. Hy behoort geprivatiseer te word. In (tradisioneel) beskaafde lande, soos die VSA, ontvang private universiteite steeds finansiële ondersteuning van die staat, hoewel in mindere mate as staatsuniversiteite. Wat die private universiteite aan geld inboet, word meer as vergoed omdat hulle outonoom funksioneer. Hulle kan dus strenger toelatingsvereistes vir studente stel en die resultaat hiervan is hoër akademiese standaarde. Wanneer studente om werk aansoek doen, word meesal voorkeur gegee aan die kandidate wat aan private universiteite gestudeer het. Dit is ook die weg wat die US behoort te volg. Hy kan sy akademiese siel behou deur dit nie, soos tans, vir staatsubsidies te verkwansel nie.

Sodanige breuk met die regering word jaarliks makliker omdat die owerheidsubsidie ‘n al hoe kleiner persentasie van die begroting uitmaak. Die US behoort aan homself die ideaal van ‘n suiwer akademies-gedrewe private Afrikaanse universiteit te stel. Die universiteit hoef nie progressief al hoe groter te word soos die ANC begeer nie. In sigself is ‘n al hoe groter universiteit ‘n onding en des te meer in ‘n dorp soos Stellenbosch. Eksklusiwiteit gegrond op akademiese gehalte en onderrig in Afrikaans behoort die ideale te wees.

In teenstelling met hierdie akademies gesonde idealisme moet hierdie vraag egter gestel word: Hoe lyk die US deesdae? Die harde werklikheid is dat De Villiers nie die smal akademiese weg gekies het nie. Hy gee voorkeur aan die skynbaar makliker politieke pad. Hierdie breë weg is deurspek met ANC-gedienstigheid. Pleks van voorkeur aan ‘n sterk akademiese oriëntasie te gee, het hy sy seën oor Botman se politieke manewales uitgespreek. Daarby kon dit nie bly nie. De Villiers het van die begin af besef dat hy nie bloot in dieselfde mate as Botman die pad van ANC-gedienstigheid kan loop nie; dat hy Botman moet oortref as hy as blanke enigsins polities aanvaarbaar wou wees. Dít is ‘n verloorpad. Nie net druis dit lynreg teen gesonde akademiese oorwegings in nie; dit maak beheer oor die politieke situasie onmoontlik. Daar bly geen ruimte vir universitêre outonomie oor nie.

‘n Kortbegrip van waar die US hom binne 6 maande na De Villiers se diensaanvaarding bevind, is op die US-webwerf (22 deser) beskikbaar. Die aanleiding was die Luister-video, wat herinner aan die Reitz-video wat tot die rektorskap van Jonathan Jansen aan die Universiteit Vrystaat UV) gelei het. (Daarmee het die UV, soos die US, van die akademiese pad afgewyk en die politieke pad betree. Die aanduidings is dat dit binnekort tot die afskaffing van onderrig in Afrikaans aan die UV gaan lei. Die vooruitsigte van Afrikaans aan die US is nie noodwendig beter nie.)

Die Luister-video word nie deur die US-bestuur as ‘n propagandadokument beoordeel nie. Daar word sonder meer aanvaar dat “ons [swart] studente steeds uitgelewer is aan onmenslike ervarings van rassisme en ander vorms van diskriminasie.” Hierdie reaksie is soortgelyk aan die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) se reaksie op Cosatu se valse bewering dat 5 swart en 2 wit Springbokrugbyspelers by hom oor die stadige pas van transformasie gekla het. Die bestuur van die US en Saru verstaan nie ideologie en propaganda nie en reageer met die uiterste naïwiteit daarop. Hermann Giliomee het onlangs in ‘n onderhoud van US-dosente gesê: “Dis mense wat geen begrip van die politieke werklikhede het nie” (Die Burger, 7 deser, p 13). Ek beskou hierdie opmerking as van toepassing op veral die US-bestuur. By die video-dialoog was daar glo 22 studente en ‘n dosent betrokke. Daar is geen sprake van optrede teen hierdie 23 mense wat die naam van die US beswadder het nie. Pleks daarvan soek De Villiers guns by hierdie elemente met sy verwysing na “die beëindiging van die diensverhouding van ‘n [blanke] dosent [Anton Stander] wat ‘n rassistiese SMS gestuur het”.

De Villiers lys dan die transformasie-aksies wat hy geloods het. Hulle is in sommige gevalle eerder van ‘n politieke as akademiese aard, soos die menswaardigheidsoptog, die verwydering van die Verwoerd-plaket, die instelling van ‘n Kantoor vir Transformasie en ‘n Transformasiekomitee, asook die daarstelling van ‘n Navorsingsleerstoel in Versoening en Transformasie. ‘n Bruin viserektor en ‘n bruin rektorsassistent is ook aangestel. De Villiers noem hulle “strategiese aanstellings in die US se topbestuur.” Ander aksies diskrimineer openlik teen blankes, soos die beursfonds vir die bruin nasate van Die Vlakte se eertydse inwoners, R70 miljoen vir die transformasie van die personeelkorps en die teiken van ‘n meerderheid swart studente teen 2018. [Volgens ‘n berig op die US-webwerf (7 deser) is die teiken 53% swart studente en 60% vrouepersoneel in 2020. In die Tuin van Eden was daar ‘n gelyke getal mans en vroue. De Villiers wil op hierdie paradyslike toestand verbeter met ‘n oorwig van vroue. Polities korrek bestaan daar aan die US nie so iets soos minimum teikens vir mans, blankes of Afrikaanssprekendes nie.] Daar word ook verwys na die “progressiewe koshuisplasingsbeleid”. [In sy toespraak op 26 deser het De Villiers erken dat die oogmerk hiermee (gedwonge) rasse-integrasie is.] Vir ‘n akademies geöriënteerde mens soos ek is dit moeilik om te aanvaar dat die rektor van ‘n universiteit behae kan hê in anti-akademiese politieke aksies en blatante rasse- en kulturele diskriminasie teen sy eie mense, dus teen blankes wat die US beskou het as ‘n plek waar hulle tradisioneel hoort en waar hulle kultureel (bv in Afrikaans) geborge kon voel.

Die eerste persberig oor die Luister-video het op 22 deser in Die Burger (p 4) verskyn. Daarvolgens is dit anonieme US-studente en ‘n -dosent en 5 studente van die naby geleë Landboukollege Elsenburg wat op die video praat. Die video is deur Markus Hegewisch van Contraband vervaardig. In Die Burger van 24 deser (p 4) is oor die bogenoemde verklaring van De Villiers berig. Sy ontkenning dat tugstappe teen Open Stellenbosch (OS) se protesoptredes gedoen gaan word, word genoem. Tog het OS-lede sy gesag openlik uitgetart en blykbaar nog nooit volgens die US-voorskrif vooraf om verlof vir hulle ontwrigtende optrede aansoek gedoen nie. De Villiers het self sy mag tot optrede teen OS gesaboteer deur in die genoemde US-webwerfberig van 22 deser sy “afkeur van magsvertoon” te dokumenteer. Dit sal OS-lede ongetwyfeld in hulle kwaad sterk.

Daarna het die moontlikheid om die video vir politieke doeleindes uit te buit by politici inslag gevind. Op 26 deser berig Die Burger (p 5) dat die ANC wil ingryp om die pas van US-transformasie (dus veral verswarting en verengelsing) te versnel. Die US-bestuur moet glo so gou moontlik (reeds op 1 September) voor die parlement se portefeuljekomitee oor hoër onderwys verskyn. Dit is duidelik dat veral Afrikaans as onderrigmedium in die spervuur is. Daar word nou gesê dat almal wat hulle menings op die video gelug het OS-lede is. Die departement van hoër onderwys het erken dat hy reeds geruime tyd die moontlikheid ondersoek “om komitees wat ‘rassisme bestry’ op universiteitskampusse te vestig”. OS is dus die soort opruiende organisasie wat op die steun van daardie departement kan reken. Die vraag is of hierdie departement nie reeds ‘n rol in die opstoking van onrus speel en dit selfs befonds nie. Wat in elk geval duidelik is, is dat die departement enige sweem van universitêre outonomie minag. Die portefeuljekomitee vergader op 28 deser met OS-lede sodat hulle op 1 September beter met skietgoed teen die US-bestuur toegerus is.

Die kantoor van die ANC se hoofsweep het te kenne gegee dat hy gewalg is deur die “apartheidskultuur” en dat hy nie sal rus voor dit uitgeroei is nie. Daar word gewag op die portefeuljekomitee se verslag en dan sal besluit word of ‘n klagte by die Menseregtekommissie (MRK) ingedien gaan word. Daar word gehoop dat die MKR hom reeds met hierdie saak bemoei. Wat ondersoek moet word, is “al die voormalige wit onderriginstellings waar rassisme steeds hoogty vier.” Daar word klaarblyklik aangeneem dat swart geledere vry van rassisme is. Die DA, dus die ANC Lite, het gesê dat ondersoek na die feite van die saak ingestel moet word. Geen heil vir blankes en Afrikaans moet uit hierdie oord verwag word nie, want die DA wil in al hoe groter mate die land regeer en daarvoor het hy toenemend die steun van swartes eerder as dié van wittes nodig.

De Villiers se kommentaar is dat hy die geleentheid verwelkom om voor die portefeuljekomitee te verskyn sodat hy oor die US se vordering met transformasie verslag kan doen en “sy omvattende transformasieplanne” met hulle kan deel. Hierdie planne sluit versnelde transformasie in. Daar is geen sprake van dat hy die departement hoër onderwys se minister en amptenare of sy protefeuljekomitee se reg van inmenging in die US se sake bevraagteken nie. Omdat De Villiers as rektor nog deurgaans polities ingestel was, het hy nie die verweer dat sy preokkupasies akademies is en dat die ANC-kamerade en hulle DA-meelopers hulle neuse uit die US se sake moet hou nie.

Uit die berig van 27 deser (Die Burger, p 6) blyk ‘n verdere verslegting van die situasie. Nou word daar gepraat van ‘n “krisis met rassisme” aan die US wat ernstige aandag verg. “Indien die bewerings wat in die video gemaak word waar is, dink ek dit is gronde vir ‘n algehele bestuursverandering,” het Frans Cronjé, die uitvoerende hoof van die Instituut vir Rasseverhoudinge, gesê. “Die US moet besluit of hy Afrikaans of Engels is, want hy kan nie tweetalig wees met al hoe meer swart studente wat onderrig in Engels verwag nie. Dit is wat die wrywing veroorsaak.” ‘n Mens kan kwalik glo dat Cronjé tot sulke dwase uitlatings in staat is. Dit bevestig weereens dat die grootste vyande van Afrikaans uit eie geledere kom. Hy maak dit per slot van sake duidelik dat nie net die US nie maar al die plaaslike universiteite eentalig Engels moet word. Weens sy verregaade uitlatings het McBrolloks in 2011 vir Nico Koopman tot “Poepol of the Week” verklaar. As McBrolloks steeds hierdie toekenning doen, kan hy dit gerus ernstig oorweeg om vir Cronjé op dieselfde manier te vereer.

Die berig sluit soos volg af: “OS het gister in ‘n ope brief [sekerlik om die maksimum publisiteit uit die situasie te tap] aan die minister van [hoër] onderwys, dr Blade Nzimande, gesê hy verwelkom die optrede deur die portefeuljekomitee en gevra dat die minister OS in die openbaar ondersteun. Nzimande het daarop gesê hy het aan die US-raadsvoorsitter geskryf en gevra hoe die universiteit die kwessies gaan oplos.”

Vanjaar word Jan Marais se afsterwe en sy ruim skenking aan die US na ‘n eeu herdenk. Die Burger is vanjaar ook ‘n eeu oud en sy stigting, wat deur Marais se vrygewigheid moontlik gemaak is, word ook herdenk. Maar ek vind dit weersinwekkend dat die De Villiers-US verseg het om ‘n plegtigheid ter ere van Marais op die kampus te hou. In sy intreerede het Jonsathan Jansen belowe dat terwyl hy die rektor is die UV Afrikaans sal wees. Die aanduidings is dat daardie onderneming vergete is en in elk geval geïgnoreer word. Aan die US is die situasie selfs slegter. De Villiers het in hierdie gedenkjaar dit by meer as een geleentheid beklemtoon dat die US nie ‘n Afrikaanse universiteit is nie. Hy het, sover bekend, nog nooit openlik na Marais se stigtingsvoorwaarde vir die US verwys nie, om van die eerbiediging daarvan nie te praat nie. Hy word ook nie tot verantwoording geroep nie. Sy transformasiemanie druis teen Afrikaanslojaliteit in.

Dit sal teen De Villiers se polities korrekte grein gaan om die Marais-stigtingvoorwaarde as ‘n verweer aan die ANC-kamerade te noem. Hy sal daarom ook nie aan hulle sê dat hulle maar van die afskakeling van Afrikaans tot die mindere US-onderrigtaal kan vergeet nie. De Villiers se wesenlike probleem is dat sy gedrag sedert 1 April sodanig is dat hy gesorg het dat hy nie ‘n akademiese voet het om op te staan teen die aanslag van die bose politici nie. Hy sal ongetwyfeld nog groter versnelling van transformasie belowe en seker op alles uit ANC-geledere ja en amen sê, onder meer omdat Frans Cronjé ‘n algehele bestuursverandering in die vooruitsig gestel het. Niks motiveer iemand meer tot hartlike samewerking en algehele onderdanigheid as die bedreiging van jou betrekking en vergoeding nie.

Maar daar is ‘n hipotese wat telkens in my gemoed opduik: Dalk is die ANC se bemoeiing met die US se sake vir De Villiers glad nie problematies nie. Hou in gedagte dat hy volgens eie erkenning tydens sy lang buitelandse verblyf veramerikaans het. As rektor beroep hy hom nooit op sy Afrikanerskap nie. Hy het nog nooit ‘n aanduiding gegee dat hy die belange van blankes en Afrikaanssprekendes ernstig opneem nie. Hy het ook nog geen versekering oor die toekoms van Afrikaans aan die US gegee nie. Wanneer hy ‘n toespraak hou, soos dié op 26 deser, praat hy hoofsaaklik Engels. Daar is ook die waarneming dat politieke oorverligtheid dislojaliteit jeens Afrikaans meebring. Dink maar aan gevalle soos Willie Esterhuyse, Leon Wessels en Antjie Krog.

Dalk verwelkom De Villiers ANC-inmenging regtig omdat dit aan hom die verskoning bied om die US te transformeer soos hy dit sedert sy diensaanvaarding in elk geval wou hê, naamlik ‘n eentalig Engelse universiteit. Hierin sal hy waarskynlik sterk deur Nico Koopman, sy “strategiese” viserektor belas met transformasie, gesteun word. Net soos by Russel Botman is Koopman se model vir die US myns insiens die Universiteit van Wes-Kaapland, wat van ‘n oorwegend Afrikaanse universiteit in ‘n eentalig Engelse universiteit getransformeer is. Hiervolgens veroorsaak die ANC se bemoeiing geen dilemma vir De Villiers nie. Dalk bied dit veel eerder aan hom ‘n gulde geleentheid. In sy toespraak op 26 deser (US-webwerf 27 deser) het De Villiers gesê: “We need to open Stellenbosch University even more.” Let op sy doelbewuste OS-sinspeling. De Villiers, Koopman, OS en die ANC is myns insiens tjommies; almal eendragtig teen Afrikaans.

En Die Burger? Bitter min is vanjaar oor Jan Marais gepubliseer; selfs nie ‘n enkele hoofartikel of redaksionele rubriek nie. Sover ek weet, is daar vanjaar nooit in Die Burger na Marais se US-stigtingsvoorwaarde verwys nie; selfs nie in die resensie van Pieter Kapp se boek oor Marais nie. Oor die huidige ernstige bedreiging van die voortbestaan van Afrikaans aan die US het Die Burger nog nie sy standpunt gepubliseer nie. Die heil van Afrikaans word deur hierdie joernaliste klaarblyklik as van mindere belang beskou. Dit is ‘n makroskande.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.