Die polisie in Noordwes soek steeds na vier rowers in verband met die moord op ‘n beesboer van Potchefstroom.
Die 68-jarige Koos van der Leeuw is op 18 Augustus in die Mediclinic Sandton dood nadat hy vroeër die oggend in ‘n rooftog by die Potchefstroom Abbatoir geskiet is.
Polisiewoordvoerder, Pelonomi Makau, sê die polisie volg alle leidrade op.
‘n Herinneringsdiens vir Van der Leeuw is Dinsdag, presies ‘n week na sy skietdood, in die plaaslike NG kerk Suiderkruis gehou. Die kerk was stampvol.
Van der Leeuw is voor sy vrou Marietjie en ‘n sakeman van Krugersdorp geskiet nadat hy en die man glo vir ‘n kontanttransaksie ontmoet het. Marietjie was in hul bakkie toe die skote geklap het. Makau het vroeër gesê vier skote is op Van der Leeuw gevuur. Een daarvan was in die kop.
Sy sê die skietery het gevolg nadat een van die rowers geld geëis en ‘n onbekende bedrag geld en ‘n selfoon by die sakeman afgeneem het. Van der Leeuw het uit sy bakkie geklim om te help.