‘n Protesoptog deur beswaarde swart studente op die Potchefstroom-kampus van die Noordwes-Universiteit, het Donderdag hande uitgeruk.
Prof. Dan Kgwadi, die visekanselier, het glo toestemming verleen dat die optog gehou kon word.
Sowat 180 swart studente van al drie NWU-kampusse het Donderdag opgeruk na die administrasiekantoor, maar optoggangers is glo nie deur die staalhekke op die kampus toegelaat nie.
Die polisie moes rubberkoeëls en skokgranate gebruik om die skare onder bedwang te bring.
Kgwadi het glo toestemming gegee vir die opmars om die swart studente se beswaarskrif in ontvangs te kan neem.
Intussen is bewerings dat swart personeel van die Noordwes-Universiteit glo verhinder is om gebruik te maak van ‘n hysbak in die Over-de-Voor-manskoshuis op die Potchefstroomkampus, as versinsels veroordeel.
Kampuswoordvoerder, Johan van Zyl sê die koshuis het nie eens ‘n hysbak nie.
Van Zyl het gereageer op bewerings deur swart ondersteuners van ‘n derdejaarstudent Lerato Phoofolo, ‘n inwoner van Over-de-Voor, wat na bewering medestudent Hendri van Dyk met ‘n skêr aangeval het en steeds in aanhouding is.
Phoofolo beweer nou dat hy baie “rassistiese dade” by die universiteit opgemerk het.
Van Zyl sê iemand wat kennis dra oor sulke rassisme moet dit rapporteer.
Intussen sal Phoofolo, wat veronderstel was om Donderdag in die Potchefstroom-landdroshof te verskyn, eers Maandag verskyn.
‘n Administratiewe fout het daartoe gelei dat hy nie vervoer kon word na die hof nie.