Zuma vergader met regbank

Deel op

President Jacob Zuma het die onderneming gegee dat die regering voortaan hofbevele sal respekteer en daaraan gehoor sal gee.

Zuma het Donderdag ‘n vergadering tussen die regbank en die regering – die heel eerste in die demokratiese bestel – gelei ná klagtes oor beweerde onregverdige aanvalle op die land se howe.

Zuma het gesê die vergadering het positiewe resultate opgelewer. Hy het gepraat ná die spesiale vergadering wat met Hoofregter Mogoeng Mogoeng, adjunkpresident Cyril Ramaphosa en verskeie ministers in Pretoria gehou is.

Mogoeng het die vergadering in Julie aangevra nadat aanvalle en openbare kritiek op die regbank uit veral ANC- en SAKP-geledere ’n hoogtepunt ná die Omar al-Basjir-sage bereik het.

Mogoeng het ontken dat daar ‘n konstitusionele krisis op hande is. Hy sê “diep nadenke” en “harde institusionele selfondersoek” is al wat nodig is.

Hy het ander partye aangeraai om te luister na vrae wat moontlik die waarheid kan bevat en kan lei tot selfkritiek.

Mogoeng sê die regbank het nie sy verpligtinge oorskry nie.

Die sekretaris-generaal van die ANC, Gwede Mantashe het vroeër vanjaar gekla dat die regbank se betrokkenheid soms te ver strek, met verwysing na verskeie beslissings wat teen die staat gemaak is.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.