Franse eer aan helde wat terreuraanval stuit

Deel op

Frankryk se president, Francois Hollande, het Dinsdag die Legioen van Eer-medalje, Frankryk se hoogste eerbetoon, aan drie Amerikaners en ’n oud-Suid-Afrikaner toegeken.

Die vier mans het Vrydag ’n swaar gewapende man oorrompel en ontwapen wat gereed was om los te brand op passasiers op ’n hoë­spoedtrein wat van Amsterdam na Parys onderweg was.

Hollande sê die twee Amerikaners wat die gewapende man eerste te lyf gegaan het, was soldate “maar Vrydag was julle net passasiers. Julle het egter soos soldate, maar ook verantwoordelike mans opgetree,” het Hollande gesê.

Hollande het die medalje tydens ’n seremonie by die Elysee-paleis aan dié Amerikaners, Spencer Stone, Alek Skarlatos, en hul vriend Anthony Sadler asook Chris Norman – deesdae ‘n Brit wat vroeër in Suid-Afrika gewoon het – oorhandig.

Norman is in Uganda gebore, maar het lank in Suid-Afrika gewoon voordat hy na die VK verhuis het,

Die gewapende man is as die 26-jarige Marokkaan, Ayoub El-Khazzani, geïdentifiseer. Hy word aangehou en deur Franse teenterroriste-polisie buite Parys ondervra.

Met sy arm in ’n verband het die 23-jarige Stone vertel dat hy uit ’n diep slaap wakker geword het toe die gewapende man te voorskyn gekom het.

Die 22-jarige Skarlatos, wat onlangs uit Afganistan teruggekeer het, het hom op die skouer geklop en gesê “kom ons gaan”.

Hollande sê ’n groot­skaalse menseslagting is deur die dapper optrede van die vier mans verhoed.

“Sedert Vrydag bewonder die hele wêreld jul dapperheid, jul gees van solidariteit. Dit is wat julle in staat gestel het om ’n gewapende man met jul kaal hande te oorrompel. Dit is ’n voorbeeld vir almal en ’n bron van inspirasie,” het Hollande gesê.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.