Militante van die Islamitiese Staat-groep (ISIS) het ’n tempel in die antieke Siriese stad Palmyra verwoes en die ergste vrese van argeoloë bewaarheid.
Die 2 000 jaar oue stad van die Romeinse era is in Mei deur die militante beset.
Palmyra, een van die Midde-Ooste se mees aanskoulike argeologiese plekke en ’n Unesco-wêrelderfenisgebied, is naby die moderne Siriese stad met dieselfde naam geleë.
Unesco het die aanval op die wêreldkultuurerfenisplek beskryf as “etniese suiwering” en ‘n “oorlogsmisdaad”.
Aktiviste sê die militante het plofstof gebruik om die Baalshamin-tempel op te blaas. Die ontploffing was so kragtig dat dit van die antieke Romeinse pilare ook beskadig het.
Die lot van die nabygeleë tempel van Bel, wat aan die Semitiese god Bel opgedra is, is nie bekend nie.
Die ekstremiste voer aan antieke relieke bevorder die aanbidding van afgode en moet gevolglik vernietig word.
Die verwoeste tempel dateer terug na die eerste eeu en is gewy aan die Fenisiese god van storms en reën.