Chinese aandele daal steeds

Deel op

Chinese aandele het hul afwaartse pad voortgesit ondanks pogings deur die land se sentrale bank om handelaars te paai.

Die indeks het dié week reeds met sestien persent gedaal wat skokgolwe deur die wêreldmarkte gestuur het.

Die Shanghai-saamgestelde indeks het met 1,1% gedaal nadat die markte vroeër wisselvallig vertoon het.

Onbestendigheid in China se markte het beleggers genoop om groot verliese te beperk na vroeëre skerp dalings regoor Asië en die VSA.

China doen skynbaar alles in sy vermoë om vertroue te herstel sodat beleggers nie Chinese maatskappye straf nie.

Die sentrale bank het aangekondig dat groot banke minder kontantreserwes sal hoef aan te hou vanaf vroeg in September, ‘n skuif wat dit makliker vir banke sal maak om geld te leen.

Die land se rentekoerse is nou laer as met die finansiële krisis van 2009, en vrese dat China se ekonomie vinniger verlangsaam as wat voorheen vermoed is, is nog nie besweer nie.

Die rand het intussen effens versterk teen die Amerikaanse dollar nadat China se rentekoerse afwaarts aangepas is om die slagting in aandeelpryse te stuit.

Die plaaslike geldeenheid het gestyg tot net meer as R13 teenoor die dollar, nadat dit vroeër die week tot sy laagste vlak ooit gedaal het.

Ekonome waarsku nogtans dat die plaaslike ekonomie in die moeilikheid is, met negatiewe groei.

‘n Teleurstellende vertoning van die land se BBP (Bruto Binnelandse Produk) sal dit moeiliker sal maak vir die rand om op die langtermyn spiere te wys.

Die Johannesburgse Aandelebeurs het tot net bokant 2,5% persent gestyg.

Goedkoop olie en onsekerheid of die Amerikaanse Resewebank hul repokoers sal verhoog het ook bygedra tot die onstuimigheid.

In Japan en Suid-Korea het die markte effens hoër gesluit, maar nie in Australië nie.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.