Die Islamitiese Staat-groep (ISIS) se filiaal in Egipte het binne ure aanspreeklikheid vir ‘n bomaanval aanvaar en gesê dit is uit weerwraak vir die teregstelling van ses veroordeelde militante in Mei gedoen.
‘n Muur voor ‘n regeringsgebou is Donderdag afgeruk toe die reusemotorbom in Kaïro se middestad ontplof het.
Geen berigte is ontvang dat iemand in die ontploffing dood is nie, maar ses polisiebeamptes is wel beseer.
Die glas van vensters wat in die ontploffing uitgeruk is, het in die strate in die gewilde Shubra el-Kheima-woonbuurt gesaai gelê. Die voorkante van nabygeleë geboue is in die ontploffing afgeruk.
Die ses beseerdes is na nabygeleë hospitale afgevoer. Motorwrakke het om die gebou gestaan en veiligheidsmagte het die strate gepatrolleer en padblokkades opgerig.
Die verklaring lui voorts dat die “soldate van die kalifaat” die nasionale veiligheidsgebou met ‘n bom in geparkeerde motor geteiken het.
Egipte beleef sedert die militêre omverwerping van die Islamitiese president, Mohammed Morsi, in 2013 ‘n reeks gewelddadige aanvalle.