Die minister van justisie het aangekondig dat Oscar Pistorius nie Vrydag op parool vrygelaat gaan word, soos verwag is nie.
Die Minister van Justisie en Korrektiewe Dienste, Michael Masutha, het die besluit om Oscar Pistorius onder korrektiewe toesig te plaas, opgeskort en na die Korrektiewe Toesig en Paroolhersieningsraad verwys.
Dit volg na die Minister Maandag ‘n petisie van die Progressive Women’s Movement of South Africa (PWMSA) ontvang het waarin hulle hul teenkanting teen die vrystelling van Pistorius verklaar het.
In hul voorlegging het hulle versoek dat Masutha Pistorius se vrylating hierdie Vrydag skrap, met verwysing na die feit dat dit tans Vrouemaand is.
Pistorius is gevonnis tot vyf jaar tronkstraf vir strafbare manslag verlede jaar nadat hy sy destydse vriendin Reeva Steenkamp in 2013 geskiet het toe hy haar vir ‘n inbreker aangesien het. Hy het tot dusver slegs 10 maande van sy vonnis uitgedien.