Afriforum kanselleer fees glo weens ‘regses’

Deel op

Die burgerregte-organisasie, AfriForum, het Woensdagoggend aangekondig dat hulle nie dié jaar die gratis AfriForum-fees by die Voortrekkermonument gaan aanbied nie.

Kallie Kriel, hoof uitvoerende beampte van AfriForum, het aan Centurion Rekord bevestig dat die konsert na agt jaar gekanselleer is.

Die gratis fees, wat die afgelope agt jaar mense van regoor Pretoria getrek het, het te omstrede geraak vir Afriforum nadat beide Steve Hofmeyr en Sunette Bridges by die konserte opgetree het.

AfriForum het sowat drie jaar gelede alle bande met Bridges verbreek, maar Hofmeyr was een van die fees se grootste trekpleisters.

Klaarblyklik voel Afriforum dat die fees ‘n “regse-gevoel” begin kry het, want die Vierkleur het gereeld by die konserte gewapper en wyle Eugene Terre’blanche, het die jaar voordat hy vermoor is, self ‘n draai by die konsert gemaak.

Kriel het tydens vroeëre media-onderhoude gesê dat ‘n regse inslag “nooit die bedoeling daarvan was nie”.

Die fees het ook al knelpunte, waaronder die omstrede naamsverandering van Pretoria, hoog op die agenda geplaas en Hofmeyr, het byvoorbeeld, sterk standpunt teen die verandering van die verhoog af ingeneem.

Die fees het jaarliks tussen 20 000 en 30 000 mense gelok.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.