Vrae na skokdood in privaathospitaal

Deel op

’n Centurion-gesin het geweet dat hul pa se lewenslyn nie lank is nie, maar dat hy aan septiese skok dood is – en dit in ’n privaathospitaal – is vir hulle ’n bietjie dik vir ’n daalder.

Daarom het Dalene Johannsen van Zwartkop, Centurion dié week besluit om ’n klag van nalatigheid teen die Unitas-hospitaal in Centurion te lê.

Haar dogter, Carla van der Vyver, het ook op die klagteswebwerf hellopeter.com ’n klagte teen die suster, wat tydens hul pa se afsterwe in die waakeenheid aan diens was, aangemeld.

“Want die suster, wie se naam op regsadvies weerhou word, ly glo, volgens haar eie erkenning, aan kroniese laringitis,” het Carla gesê.

Unitas-hospitaal se algemene bestuurder, Robert Jordaan, het die aantygings ten sterkste ontken. “Ons kan in hierdie stadium ongelukkig weens pasiëntvertroulikheid nie kommentaar lewer oor Johannsen se mediese toestand en verblyf in die hospitaal nie.

Vir Piet Johannsen (68) was dit die laaste vakansie wat hy ooit sou hê – daardie Kgalagadi-vakansie in die Noord-Kaap, Febru­a­rie vanjaar, saam met sy vrou van die afgelope 46 jaar.

Piet was nie ’n simbool van blakende gesondheid nie.

Hy het ’n pasaangeër gehad, maar soos Dalene sê: “Hy het gesond geëet en was lus vir die lewe. Hy het ook stelselmatig begin gewig verloor.”

Toe, net na ’n middagete en ’n bespre­king oor wat hy en Dalene vir die res van hul vakansie gaan doen, trap hy skeef en breek sy nek.

Hy is eers vier dae later met in ’n noodhelikopter na die Unitas-hospitaal gebring.

“Ons het geweet my pa se gesondheid was nie goed toe hy opgeneem is nie en het aanvaar daar kan moontlike komplikasies wees as hulle moes opereer,” het Carla gesê.

“My pa is op 5 Maart geopereer. Dit was ’n lang operasie sonder enige komplikasies en hy het self wakker geword.” Na die operasie is Piet in die waakeenheid opgeneem.

“Dit het goed gegaan vir die eerste paar dae. Maar toe begin alles verkeerd loop.

“My pa is die eerste keer aan ’n ventilator gekoppel nadat sy liggaam nie van kool­stof­dioksied oormate kon ontslae raak nie.

“Hy was in ’n koma. Dit was 9 Maart – ’n Maandagaand,” het Carla gesê.

Op 23 Maart was Piet steeds in ’n koma. Dalene het hom 11:00 besoek.

“Sy oë was die hele dag oop sonder dat hy dit een keer geknip het.

“Ons het besef dat hy besig is om dood te gaan, maar ons het nie geweet hoekom nie. Teen twaalfuur het die dokters eers besluit om met ’n dialise te begin. Die internis het ons meegedeel dat die infeksie in sy longe nie wil opklaar nie en weer is gesê dat dit ’n broeiplek vir kieme is. Teen drieuur daardie middag het hy in septiese skok ingegegaan,” het Dalene gesê.

Teen elfuur daardie aand het Piet se hart ophou klop. Oorsaak van dood – natuurlike oorsake.

“Ek besef ons klink bitter en voel verneuk deur sy dood, maar in die geval voel ons verneuk deur die hospitaal.

“My pa met sy aanvanklike hoë risiko’s moes dalk eerder in isolasie gelê het? Moet ’n suster toegelaat word om in ’n waak­eenheid te werk as sy aan kroniese laringitis ly?” het Carla gevra.

“Gedurende Johannsen se verblyf in die hospitaal het Unitas alle klagtes van die familie deur ’n senior verpleegbestuurder aangespreek,” het Jordaan gesê.

Bron: Centurion Rekord

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.