Die dodetal in die bomontploffing by ‘n gewilde heilige tempel in die Thaise hoofstad, Bangkok het tot 27 gestyg.
Minstens 123 mense is beseer in die ontploffing wat naby ‘n gewilde Hindoe tempel voorgekom het.
Volgens berigte is verskeie buitelanders vanuit Asië, waaronder ook Chinese, in die ontploffing dood. Die tempel word daagliks deur duisende Boeddhiste en toeriste besoek.
Die bom was volgens berigte op ‘n motorfiets geplant en die ontloffing het ‘n krater van sowat twee meter wyd veroorsaak en tot grutonele gelei van menslike ledemate wat oral gesaai lê.
Nog ‘n bom op die toneel is onskadelik gestel.
Alhoewel dit nog nie bekend is wie vir die ontploffing verantwoordelik is nie, sê die owerhede dat hulle die aanvallers op geslotekringtelevisie opgemerk het.
Die eerste minister van Thailand, Prayuth Chan-ocha, het die ontploffing as die ergste voorval nog beskryf wat die land getref het.
Volgens die Thaise regering is dit duidelik dat die aanvallers die land se ekonomie, waarvan toerisme ‘n groot deel is, wou vernietig.
Die dodetal is intussen tot 20 aangepas, terwyl 125 mense beseer is. Die ontploffing was omstreeks sewe-uur plaaslike tyd by die Erawan-tempel wat ‘n bekende toeriste-aantreklikheid is.
Thailand word sedert Mei 2014 deur ‘n militêre junta regeer.
Thailand se drie suidelike provinsies is die tuiste van Moslem-separatiste wat in opstand teen die regering is, maar volgens die owerhede stem die metode wat die aanvallers gebruik het nie ooreen met die van seperatiste groepe in die suide van Thailand nie.
Sedert 2004, is meer as 6500 mense, die meeste van hulle burgerlikes, dood in geweld in die streek.