Dan Roodt: Afrikaans op 140 jaar: En steeds beskik ons oor geen taalregte!

Deel op

Vandag is dit presies 140 jaar sedert die stigting van die Genootskap van Regte Afrikaners in die Paarlse huis van Gideon Malherbe in die Kaap op 14 Augustus 1875. Dit was die aanvang van die Eerste Taalbeweging wat hom ten doel gestel het om van Afrikaans ‘n geskrewe taal in die plek van Hooghollands te maak. Sedertdien het Afrikaans ‘n merkwaardige opbloei beleef en bevind hom waarskynlik vandag in die topdertig-tale ter wêreld sover dit sy hoër funksies, media-ontwikkeling, letterkunde en tegniese woordeskat betref.

Die Suid-Afrikaanse Kommunisteparty, asook vele stedelike Engelssprekendes in Johannesburg, maar ook Kaapstad, koester egter steeds ‘n felle renons in Afrikaans en werk aktief om Afrikaans te benadeel. In die onlangse verlede het Barbara Creecy, Panyaza Lesufi, Blade Nzimande, die Suid-Afrikaanse Inkomstediens en vele ander drastiese optrede teen Afrikaans geneem, met die doel om die taal se status te verlaag en dit verder na benede te druk. Selfs regters en landdroste ontneem Afrikaanssprekendes die reg om in hul eie taal aan hofverrigtinge deel te neem, ‘n basiese mensereg.

Ook aan ons universiteite gaan Afrikaans sienderoë agteruit. Die huidige rektor van die Vrystaatse Universiteit, Jonathan Jansen, dwing Engels as enigste onderrigtaal af terwyl die Universiteite van Potchefstroom en Stellenbosch onder kwaai druk verkeer om te verengels. Die Universiteit van Pretoria volg ‘n pragmatiese taalbeleid, maar waarvan die uiteinde insgelyks volslae verengelsing gaan wees.

Elders op dié werf verskyn Leon Lemmer se artikel oor Naspers se 100-jarige bestaan. Dikwels lees ‘n mens in die publikasies van dié mediagroep wat tans so ‘n bepalende rol in Afrikaans speel, dat dit “nie so sleg met Afrikaans gaan nie” of byvoorbeeld dat “Afrikaanse musiek ‘n bloeitydperk beleef”. By dié enkele ligpunte en oorblyfsels van ‘n vorige lewenskragtigheid, moet ‘n mens ook kennis neem van die tamheid wat die Afrikaanse taalstryd oor die afgelope dekade of meer kenmerk. Nie net gee mense baie maklik boedel oor as dit by die verengelsing van instellings kom nie, maar die Engelse taalnasionalisme wat Suid-Afrika beetgepak het, lyk veel lewenskragtiger, onder meer omdat dit veel beter – ook vanuit die buiteland – befonds word. ‘n Groepering soos Open Stellenbosch word nie net geldelik rojaal ondersteun nie, maar geniet ook steun vanuit die Engelse media wat tradisioneel oor die afgelope 200 jaar nog altyd vyandig teenoor Afrikaans gestaan het. Open Stellenbosch stel hom die doel voor oë om Afrikaans aan dié universiteit heeltemal af te skaf sodat alle lesings in Engels en slegs Engels aangebied sal word.

Diegene wat beweer dat “dit nie so sleg met Afrikaans gaan nie” gee gewoonlik geen voorbeelde van ander tale waarmee hulle Afrikaans vergelyk nie, behalwe moontlik die Afrika-tale wat oor lae status en ontwikkeling beskik en wat skaars vir onderrig of ernstige navorsing of letterkunde gebruik word. Om appels met appels te vergelyk, moet Afrikaans daarom eerder met van die kleiner Europese tale soos Deens, Noors, Katalaans of selfs die piepklein Baltiese tale (Litaus, Lets en Esties) vergelyk word. Terwyl Afrikaans in die sestiger- en sewentigerjare glad nie teen Deens of Noors afgesteek het wat media, boekproduksie en status in die howe en aan universiteite betref nie, het dit oor die afgelope twee dekades geweldig teruggesak, dermate dat ‘n mens steeds van ‘n Afrikaanse krisis kan praat.

Die totale boekmark in Suid-Afrika is R4,5 mijard werd, wat opvoedkundige en akademiese boeke insluit. Vanweë die verengelsing van die universiteite en tersiêre handboeke, is baie min van die een miljard rand se akademiese boekmark nog in Afrikaans. Dit laat slegs die sogenaamde “handelsektor” van boeke wat in winkels, aanlyn of deur boekklubs verkoop word. Daardie mark, waar Afrikaans met ingevoerde boeke vanuit Amerika maar veral Brittanje, moet meeding, verteenwoordig maar R753m in totaal, wat slegs 17% van die totale boekmark in die land uitmaak. Om te sê dat “Deon Meyer verkoop baie boeke” moet binne konteks gesien word. Wat is “baie boeke”?

In ‘n land soos Denemarke koop vyf miljoen Dene elke jaar 30 miljoen boeke. Die totale Deense boekmark is in geldelike terme méér werd as dié van Suid-Afrika: 400 miljoen euro, oftewel R5,7 miljard teenoor Suid-Afrika se R4,5 miljard. Onthou egter: die Suid-Afrikaanse boekmark sluit skoolboeke vir miljoene leerlinge, asook voorgeskrewe boeke (alles in Engels) aan ons universiteite in.

In Noorweë, nog ‘n klein Europese landjie met ‘n bevolking van slegs vyf miljoen mense, is die boekmark nóg groter as in Denemarke. Die Nore bestee €700m per jaar aan boeke, oftewel byna R10 miljard! As ons vir ‘n oomblik die mark vir Noorse fiksie met dié in Afrikaans vergelyk, kom ons bedroë daarvan af:

  • Jaarlikse verkope van fiksie in Noors (2012): R3,1 miljard (bron: Nordic Book Statistics Report 2012)
  • Jaarlikse verkope van fiksie in Afrikaans (2013): R36,4 miljoen (bron: Annual Book Publishing Survey 2013)

Dus, vir diegene wat ons probeer wysmaak dat dit “so goed gaan met die Afrikaanse boek”, laat dit insink: Die Nore koop ongeveer honderd maal soveel romans soos ons!

Indien die totale kleinhandelverkope van Afrikaanse boeke (kinderboeke, nie-fiksie en fiksie) bymekaar getel word, verteenwoordig dit maar R152 miljoen, ‘n skamele 1,5% van die boekmark in Noorweë en 2,7% van dié in Denemarke! Hoe op aarde kan Afrikaanse skrywers en uitgewers ‘n bestaan in Afrikaans maak terwyl daar, vergeleke met die kleiner Europese lande en volkere, skaars ‘n afset vir hul produkte bestaan?

Wat van die sogenaamde “kunstefeeste”? ‘n Klomp dronk mense wat by ‘n multikulturele “kunstefees” gaan suip, verteenwoordig nog lank nie ‘n lewende kultuur nie. Die tekens is reeds daar dat die kunstefeeste se voertaal binnekort na Engels gaan oorskakel, soos wat die politieke oorheersing waaronder ons verkeer sy tol eis.

Indien Afrikaans gaan oorleef en soos in die verlede gaan gedy, sal daar nuut gedink moet word. Daar sal veel meer moeite met die bemarking van Afrikaanse kultuurprodukte soos boeke of films gedoen moet word. Die byna-monopolie waaroor die Engelse kleinhandel in ons land beskik, sal oorkom moet word. Eers dan sal ons kan sê dat Afrikaans oorleef, wat nog te sê: “gedy” of “bloei”.

Ons moet ook besef dat die taalsituasie in Suid-Afrika waar een taal die res en veral Afrikaans oorheers, nêrens elders ter wêreld vandag geduld sou word nie. Die enigste ander vergelykbare geval waaraan ek kan dink, is die diktatuur van generaal Franco in Spanje toe hy Katalaans ten gunste van Kastiliaanse Spaans onderdruk het. Die Engelse nasionalisme in Suid-Afrika, veral van die swart elite wat die taal as ‘n statussimbool sien, is vergelykbaar met die Frankisme.

In “beskaafde lande” soos dit heet, word daar groot moeite gedoen om taalgelykheid en taalbillikheid te laat seëvier. As jy as Afrikaner vandag lees hoe tweetaligheid in Kanada of België byvoorbeeld op nougesette wyse toegepas word en daar selfs spesiale maatreëls bestaan vir die Engelse minderheid in Quebec of die Franse minderheid in die ander Kanadese provinsies, klink dit soos iets vanaf ‘n ander planeet. Trouens, Suid-Afrika is vandag meer anglosentries en taalverdrukkend as Amerika of Brittanje self, of eentalige Statebondslande soos Australië of Nieu-Seeland. Die pas aangekome Afrikaner-immigrante in Australië of Nieu-Seeland beskik oor meer taalregte dáár as in hul geboorteland. Om van Kanada nie eens te praat nie, waar dit enige etniese minderheidsgroep vry staan om sy taal en kultuur na hartelus uit te leef.

Suid-Afrika mag nooit herstel van die politieke moeras waarin hy hom bevind nie, dus gaan ons vergeefs wag op sulke “beskaafde” taalwetgewing en billike behandeling.

Vir Afrikaans om bloot te oorleef, gaan geweldige harde werk en geesdrif verg.

Soos die Patriotte van ouds bereid was om die hand uit die mou te steek, sal ons vandag dieselfde moet doen. Die taalregte en ontvanklike omgewing vir skeppende aktiwiteit wat in ander lande as vanselfsprekend geag word, is ons eenvoudig nie beskore nie.

Die stryd duur voort!

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.