Grondwetkrisis dreig in Guinee-Bissau

Deel op

Spanning, aangevuur deur klaarblyklike oor­vleuelende pligte in Guinee Bissau se semi-presidentstelsel, is sedert verkiesings verlede jaar tussen pres. Jose Mario Vaz en die eerste minister, Domingos Simoes Pereira, aan die oplaai.

Dié land lê suid van Senegal in Wes-Afrika.

Die ongemaklike omstandighede het begin kort ná die verkiesings wat burgerlike regering ná ’n staatsgreep in 2012 in die land herstel het.

Laat Woensdag het die bom gebars toe Vaz in ’n verklaring aangekondig het dat hy Pereira en sy kabinet met onmiddellike effek afdank. Vaz voer aan daar is ’n vertrouensbreuk tussen hom en die premier.

Geen onmiddellike reaksie is van Pereira of die regerende PAIGC-party, waaraan sowel Pereira as Vaz behoort, ontvang nie.

Pereira het vroeër aangedui dat PAIGC vanjaar ’n konvensie beplan om die spanningsvolle situasie te bespreek en ’n komitee sal aanstel om die grondwet te bestudeer en meer duidelikheid oor die twee leiers se verantwoordelikhede te vind.

Amerikaanse ontleders sê die jongste gebeure is maar net ’n voortsetting van ’n ou magstryd tussen die twee omdat daar nie ’n “duidelike skeiding van magte” is nie.

“Ongelukkig het mag­stryde in Guinee Bissau in die verlede nie ’n gelukkige einde gehad nie. Dit mag nou die tyd wees om na grondwetlike hervormings te kyk,” het die ontleder gesê.

Guinee Bissau het sedert 1980 nege staatsgrepe of pogings tot staatsgrepe beleef. Die afgelope jare het die land ook ’n sleutel deurgangsroete vir kokaïen van Suid-Amerika na Europa geword.

Amerikaanse owerhede sê senior weermagpersoneel speel ’n belangrike rol in die smokkelary.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.