Turkye gebruik ISIS as verskoning om Koerde aan te val

Deel op

Vegvliegtuie het Maandag en Dinsdag 17 Koerdiese teikens in die Hakkari-provinsie aangeval as deel van ’n hernude aanslag op die verbanne Koerdiese Werkersparty (PKK).

Reuters berig dat die gewapende stryd reeds vir drie dekades teen Koerdiese selfbeskikking duur.

Turkye, wat ’n lidland van die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie (Navo) is, het verlede maand met ’n sogenaamde “gesinchroniseerde oorlog teen terreur” begin en PKK-vegters in die noorde van Irak en militante van die Islamitiese Staat (ISIS) in die noorde van Sirië begin aanval.

Ontleders meen die Turke gebruik ISIS as ‘n verskoning om van Koerde ontslae te raak wat na onafhanklikheid streef.

Deur hoofsaaklik op die PKK in sowel naburige Irak as tuis te fokus, het Ankara die vermoede onder Koerde verder laat toeneem dat die ware agenda eerder is om Koerdiese territoriale ambisies te fnuik, as om die geharde Islamiete te verslaan.

Die Koerde het met geweld weerwraak geneem. Die PKK het Dinsdag aanspreeklikheid aanvaar vir die bomaanval Maandag op ’n polisiekantoor in Istanboel waarin vier mense dood is. Drie van die oorledenes was aanvallers gewees.

Die bomaanval was een van ’n golf aanvalle op Turkse veiligheidsmagte wat reeds die lewe van nege mense geëis het.

Die lugaanvalle in Hakkari volg na operasies Sondag in die oostelike Agri-provinsie waarin sewe PKK-militante dood is.

In gevegte op die grond, het die PKK ’n militêre basis in Sirnak, ’n provinsie aanliggend aan Hakkari, aangeval.

Een soldaat is dood in ’n geveg wat 20 minute geduur het.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.