Die voormalige goewerneur van Florida, Jeb Bush, sê “hernude Amerikaanse leierskap” is in die Midde-Ooste nodig om die militante Islamitiese Staat-groep (ISIS) en ’n ideologie wat die “fokus van boosheid in die moderne wêreld is”, te verslaan.
“Die bedreiging van ’n globale jihad en ISIS in die besonder, vereis al die krag, eenheid en selfvertroue wat net Amerikaanse leierskap kan bied,” het Bush gesê. Hy het in Simi Valley, Kalifornië, opgetree.
“ISIS het gegroei terwyl Amerika belangstelling in die Midde-Ooste verloor het en die bedreiging geïgnoreer het. Waar was die minister van buitelandse sake, Clinton, toe dit gebeur het?” het Bush gevra.
Hy sê Clinton het “rondgestaan” toe die harde oorwinning deur Amerikaners en hul bondgenote “weggegooi” is. “In al haar rekordaantal buitelandse reise het sy presies een keer in Irak gestop.”
Amerikaanse troepe het Irak in Desember 2011 verlaat ingevolge ’n 2008 veiligheidsooreenkoms met oudpresident George W. Bush. Albei kante wou graag sien dat etlike duisende Amerikaanse troepe ná die sperdatum in Irak moes aanbly om ’n demper op spanning onder Islamitiese sektes te plaas.
Die Irakse regering het egter geweier dat Amerikaanse magte in die land aanbly nadat pres. Barack Obama se administrasie op “geregtelike immuniteit” aangedring het om die magte te beskerm.
Obama, wie se veldtog om die presidentskap grootliks gevoer is op die beëindiging van die oorlog in Irak, het die geleentheid aangegryp om Amerikaanse magte aan Irak te onttrek.
“Dit was ’n geval van dodelike haas om te onttrek en om die tragiese gevolge iemand anders se probleem te maak,” het Bush gesê. “Om weg te vlug van gevaar is net so onwys as om in gevaar in te storm. Die koste is ewe groot,” het hy bygevoeg.