Die Republikeinse party se voorloper in die presidentswedloop, Donald Trump, het Sondag geweier om verskoning te vra vir sy antwoorde aan ‘n aanvallende vroue-joernalis van Fox News.
Trump het later gesê hy het niks teen die verslaggeefster nie, maar dat sy tydens die Republikeinse debat onregverdige vrae aan hom gevra het.
Dit is duidelik dat die impak van Trump se jongste opmerkings sy verkiesingskanse ‘n hupstoot gegee het.
Voor Donderdag se debat het hy met 24 persent van die nasionale Republikeinse steun gespog, teenoor sy naaste teenstander, die oudgoewerneur van Florida Jeb Bush, se 13 persent.
Die voormalige goewerneur van Florida en George W Bush se broer, het na die sewende plek gedaal vanaf derde by Iowa se kiesers oor die afgelope maand, wat ‘n totale insinking verteenwoordig.
In die verlede het Trump se omstrede opmerkings oor onder meer ongewensde Meksikaanse immigrante, die oorlogrekord van die Republikein, John McCain, en die intelligensie van sy Republikeinse teenstanders, bygedra om sy gewildheid te laat toeneem.
Ontleders meen Trump hou ‘n groot gevaar in vir sy mededingers wat namens sekere belange optree en dat hulle sal moet begin vuilspeel om van hom ontslae te raak.
Een opsie is glo om sy gewildheid te laat piek lank voor die Republikeine se nominasiestryd beslis word en hom dan uitmekaar te trek in die media kort voor die verkiesing moet plaasvind.