Al-Basjir skort doodsvonnisse op in vredespoging

Deel op

Soedan se eerste visepresident, Bakri Hassan Saleh, het Maandag aangedui dat die vonnisse, insluitende die doodsvonnis van gewapende rebelle, opgeskort kan word.

Die aanbod is aanvanklik vir die duur van die samespre­kings vir nasionale versoe­ning geldig. Die samespre­kings is ’n hernude poging deur die regering om ’n einde aan gevegte te maak waarin die land gedompel is.

Kartoem is sedert 2011 teen insurgente in die Blou Nyl en Suid-Kordofan provinsies in ’n stryd gewikkel. Die insurgente bestaan meestal uit vegters van die burgeroorlog wat in Soedan agtergebly het, nadat Suid-Soedan daardie jaar afgestig het.

Pres. Omar al-Basjir het verlede jaar die nasionale dialoog geïnisieer, maar min vordering is gemaak.

Hy het ook ’n algemene amnestie vir gewapende groepe hernu wat “’n opregte begeerte het om terug te keer en aan die dialoog deel te neem”.

“Ons kan die hof se bevindinge vries vir die duur van die onderhandelinge asook ander maatreëls implementeer waaroor ons konsensus bereik. Ons kan egter nie amnestie gee tensy ons meen die onderhande­linge sal slaag nie, omdat ons nie vir hulle amnestie wil gee sodat hulle net weer die wapen kan opneem nie,” het hy gesê.

Twee leiers en 15 lede van die hoof rebelle alliansie teen Basjir is reeds in Maart 2014 in hul afwesigheid die doodsvonnis opgelê.

’n Woordvoerder van die rebellegroep bekend as die beweging vir justisie en gelykheid (JEM) het egter gesê hulle vertrou nie die regering wat krygsgevangenes en vreedsame betogers om die lewe gebring het nie.

Basjir het in April sy 25-jarige bewind verleng toe hy met meer as 94 persent van die stemme in die land se verkiesing herkies is. Opposisiepartye het die verkiesing geboikot.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.