Jericho springlewendig maar Cecil morsdood

Deel op

Die beheerliggaam van Zimbabwe se nasionale parke, Zimparks, en navorsers wat die leeus in die Hwange nasionale park bestudeer, het gerugte ontken dat die leeu, Jericho, broer van Cecil, ook doodgeskiet is.

Die Zimbabwiese bewaringtaakspan, ‘n omgewingsgroep, het konsternasie onder diereliefhebbers wêreldwyd veroorsaak toe dit Saterdag op Facebook aangekondig het dat Jericho ook ‘n onwettige jagter ten prooi geval het.

Zimparks het Sondag egter die gerugte die nek ingeslaan en laat weet dat “die leeu bekend as Jericho lewendig is en deur die Lion Reseach Project gemonitor word.”

‘n Ander Amerikaanse trofeejagter het glo in April sonder ‘n permit ook ‘n leeu gejag.

Volgens ‘n verklaring van die Zimbabwiese regering het die ondersoek na onwettige jag sedert Cecil se dood tot die inhegtenisname van die safari-organiseerder, Headman Sibanda, gelei.

Sibanda se kliënt was ‘n Jan Casmir Sieski van Pennsylvania wat die leeu op Sibanda se plaas gejag het.
Wye beperkinge op jag rondom die Hwange nasionale park is Saterdag deur die owerhede aangekondig.

Die jag op leeus, luiperds en olifante in die omgewing van die wildreservaat in die weste van Zimbabwe is verbied asook die gebruik van pyle en boë, die items waarmee Cecil geskiet is.

Zimbabwe se beroepsjagters waarsku dat ‘n algehele verbod op trofeejag ‘n negatiewe invloed op wildbewaring in die land sal hê.

Die regering het die naweek aangekondig dat ‘n moratorium geplaas word op die jag van leeus, luiperds en olifante in die Hwange gebied nadat die jag van die twee leeus onlangs opslae gemaak het.

Die dood van Cecil die leeu het ‘n debat oor trofeejag ontketen wat druk op die Amerikaanse regering plaas om die invoer van trofeë te verbied.

Die voorsitter van Zimbabwe se beroepjagsters-vereniging, Louis Muller sê afgeleë gemeenskappe is afhanklik van die inkomste wat hulle uit jagters verdien, en sal andersins met mekaar om skaars natuurlike hulpbronne moet meeding.

Die Amerikaanse lugredery, Delta het intussen die jongste redery geword wat ‘n verbod plaas op die vervoer van wildlewe-trofeë.

Die besluit volg ná opslae wêreldwyd oor die jag van leeus.

Delta sê hy sal nie langer die oorskot van leeus, luiperds, renosters en buffels op sy vlugte vervoer nie. Die redery vlieg na verskeie stede in Afrika, waaronder Johannesburg.

Intussen is ‘n leeuwyfie deur wilde leeus in haar kamp doodgebyt. Sy is deur mense grootgemaak.

Thembile se aanvallers het lank saam met haar in die kamp deurgebring.

Die private wildspark Gweru, het gesê dat hulle “met skok en diepe hartseer” van die voorval kennis geneem het.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.