Malema opgeruimd na hofuitspraak

Deel op

Die verhoor van Julius Malema, EFF-leier, is uitgestel omdat een van sy medebeskuldigdes siek is. Malema se saak vir bedrog en korrupsie is van die hofrol geskrap in die Hooggeregshof in Polokwane, omdat een van sy mede-beskuldigdes nie in die hof was nie.

Malema was merkbaar opgeruimd toe hy die hof ingestap het en vir die media gevra hoe dit met almal gaan.

Die leier van die Ekonomiese Vryheidsvegters staan op klagte van bedrog, korrupsie, geldwassery en afpersing tereg.
Dit hou verband met ’n regeringskontrak ter waarde van ten minste R60 miljoen wat ses jaar gelede aan hom toegeken is, toe hy nog die leier van die ANC se jeugliga was.

“Wil julle lekkergoed hê? (Jacob) Zuma het vir my die platform gegee om met julle te praat,” het hy laggend opgemerk.

Sy medebeskuldigde, Lesiba Gwangwa, is in die hospitaal en sal vir ‘n onbepaalde tyd daar wees. ‘n Mediese sertifikaat is by die hof ingedien.

Adv. Billy Moloasi, staatsaanklaer, sê hulle was nie bewus hiervan nie. Gwangwa se regspan het gevra dat die verhoor tot vroeg volgende jaar uitgestel word.

Adv. Mike Hellens SC, namens Malema, het aan die hof gesê hy is geskok om te hoor dat Gwangwa nie hier is nie. Die staat moet nou besluit of die saak teen Gwangwa van dié van Malema en Kagiso Dichabe geskei gaan word.

Die Nasionale vervolgingsgesag sê aanklagte van korrupsie en swendelary kan weer teen Malema en sy twee medebeskuldigdes ingestel word.

Woordvoerder Luvuyo Mfaku sê die drie is nie vrygespreek nie en die direktoraat van openbare vervolging kan moontlik besluit om die saak weer in te stel.

Regter George Motlhe het Dinsdag gesê die saak sloer te lank en dit benadeel die beskuldigdes wat in die hof is en gereed is om voor te gaan. Hy het gelas dat die beskuldigdes se borggeld terugbetaal word.

Die saak sloer al sedert 2012.

Die staat voer aan Malema se Ratanang-familietrust het voordeel getrek uit ‘n onregmatige tender aan On Point-Engineering.

Malema het Dinsdag beweer dat hy nie meer strafregtelike aanklagte in die gesig staar nie, maar regskenners meen dit is te vroeg vir die EFF-leier om fees te vier en sê dat die staat waarskynlik weer aanklagte teen hom gaan indien.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.